Matteus 24 – Francois Malan

image_pdfimage_print

Johan vra:

Boodskap Teks:
Van watter generasie praat Jesus in Matteus 24:34?. Is dit van daardie spesifieke tyd se generasie of is dit vandag se generasie? As dit vandag se generasie is verduidelik dan asb vir my hoekom dit vandag se generasie is en nie die generasie van daardie tyd toe Jesus dit gese het nie. As Jesus van daardie tyd se generasie gepraat het moes dit al gebeur het en hoe is dit van toepassing op ons vandag. Daar is nog baie sulke gevalle.
Ek is seker dat baie van dit was Jesus gese het miskien meer van toepassing is in vandag se tye maar die Bybel verwys na spesifieke generasies en tye.

ANTWOORD

Prof Francois Malan antwoord:

Mattheus 24:32-36 vorm ’n eenheid wat Mattheus woordeliks oorgeneem het uit Markus 13:28-32 en ingelei is met die voorbeeld van die vyeboom. Daarna het Mattheus verse 37-44 daarby aangelas wat ingelei word deur die voorbeeld van Noag. Verse 37-44 kom nie in Markus voor nie, maar daar is ooreenkomste met Lukas 17:26-36 en 12:39-49 wat lyk of Mattheus en Lukas van ’n gemeenskaplike bron daarvoor gebruik gemaak het.

Die vyeboom se takke wat sag word en blare begin uitstoot vertel dat die somer aan die kom is. Vers 33 se toepassing is: wanneer julle al hierdie dinge sien, moet julle weet dat dit naby is, voor die deur. Die ‘dit’ verwys na die wederkoms van die Seun van die Mens wat begin met die verduistering van die son en die maan in 29-31. Maar die tekens wat wys dat die wederkoms naby is, voor die deur, verwys na die begintekens van die eindtyd in 24:4-28, soos die vyeboom se takke wat begin sag word. En onmiddellik na die groot verdrukking van daardie dae (vers 29) kom die eindtyd. Al hierdie dinge verwys dus na die tekens dat die eindtyd naby is.

Vers 34 se al hierdie dinge verwys dus nie na die wederkoms nie, maar na die tekens wat voorafgaan. Oor die tyd van die wederkoms sê vers 36 dat niemand daarvan weet nie, slegs die Vader. Vers 36 is die klimaks van die gedeelte wat met die vyeboom in vers 32 begin as teken van die naderende somer. Vers 36 is eintlik die finale antwoord op die dissipels se vraag in vers 3 oor wanneer hierdie dinge sal plaasvind. Daarom verwys vers 34 se al hierdie dinge wat eers moet gebeur, na die verdrukkings van verse 4-28. Mense van Jesus se tyd belewe nog die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. en die uitdelging van meeste van die stad se inwoners en dat dié wat oorgebly het in ballingskap weggevoer word. Dit was die inleiding tot die hele gesprek in 24:1-2 dat van die tempelgeboue nie een klip op ’n ander gelaat sal word nie.

Die Griekse woord geneá ‘geslag’ word gebruik vir mense wat in dieselfde tydperk lewe, maar ook van mense van dieselfde etniese groep, ook vir afstammelinge, en van die ganse menslike geslag. Daarom kom Jesus se waarskuwing vir mense van sy tyd maar ook vir die ganse menslike geslag tot vandag toe. Vers 35 voorspel dat die hemel en die aarde tot ’n einde sal kom (met die oordeelsdag), maar beklemtoon dat Jesus se woorde nie tot ’n einde sal kom nie.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...