Die Handelinge van die Apostels: Die apostels word weer vervolg (deel 2; Hand 5:27-32) – Francois Malan

image_pdfimage_print

5:27 Die lyfwag bring die apostels in die Raadsaal in en laat hulle weer voor die Raad as aangeklaagdes staan, soos die vorige keer (Hand 4:7). Dit ten spyte van die wonderbare wyse waarop hulle uit die beskikkingsmag van die Raad verlos is. Die hoëpriester begin toe met hulle ondervraging, sonder om te vra hoe hulle uit die tronk losgekom het, en sonder inagneming van die wonderteken wat die Here daarmee aan die Raad gegee het.

5:28 Vir die hoëpriester gaan dit ten eerste oor hulle ongehoorsaamheid aan die Raad se bevel aan hulle.  ‘Ten strengste gebied’ is ’n vertaling van die Griekse idiomatiese uitdrukking ‘met ’n bevel het ons julle beveel’ om nie in hierdie Naam onderrig te gee nie…’ Die hoëpriester bou sy aanklag teen die apostels voor die Raad op die Raad se vorige uitspraak, waaraan hulle ongehoorsaam was (4:18). Soos in die vorige verhoor vermy hy die naam Jesus  wat hulle as gevaarlik beskou en verwys hy uit vrees en minagting na Jesus slegs as ‘hierdie naam.’  Maar hy moet teen wil en dank erken dat die triomftog van ‘hierdie naam’ deur die wêreld begin het – ‘En kyk, julle het Jerusalem met julle lering volgemaak;’ die perfektum werkwoord wys dat die gevolge daarvan voortduur, Jerusalem is vervul met hulle lering. Dit is soos ’n damwal wat breek en die Raad is magteloos om die oorstroming te keer.

Die Raad beskuldig die apostels: ‘Daarby wil julle die bloed van hierdie man op ons bring’ (vgl. die apostels se beskuldiging in Hand 4:10 Jesus Christus wat júlle gekruisig het). Die verwysing na ‘hierdie man’ kom nader na Jesus toe. Die dissipels verkondig nie slegs ’n naam nie, maar ’n mens van vlees en bloed, vir wie se dood hulle verantwoordelik was. Die Ou Testament ken bloedwraak (Num 35:19,21,27; Deutr 19:12; Ps 79:10 dat die Here die bloed van sy diensknegte wreek; Deutr 19:10 bloedskuld rus op die een wat onskuldige bloed vergiet). So begin die hoëpriester uit vrees vir bloedwraak; die hele volk het tog voor Pilatus gesê: ‘Laat sy bloed op ons en ons kinders wees’ (Matt 27:25); vgl. Kajafas se woord in Joh 11:50 dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterf en die hele volk nie ondergaan nie; maar ook Joh 11: 51-52 dat Kajafas geprofeteer het dat Jesus vir die volk sou sterf – ook vir die Raadslede wat in Hom sou glo. Romeine 3:25-26: God het Christus Jesus daargestel as ’n versoeningsoffer/plek van versoening in sy bloed, wat deur geloof verkry word. Lukas 22:20: Hierdie beker wat ter wille van julle uitgegiet word, is die nuwe verbond deur my bloed. Kolossense 1:20: Dit het God behaag om vrede te bring deur sy Seun se bloed aan die kruis en alles op aarde en in die hemel met Hom te versoen.

 Minder as 40 jaar na Jesus se versoeningsoffer aan die kruis, in 70 n.C., is die stad Jerusalem deur die Romeine oorrompel, die tempel verwoes, die offers by die tempel permanent gestaak, en die Sadduseërs uitgewis.

5:29 Petrus as mondstuk van die apostels antwoord op die aanklag teen hulle met ’n kort belydenis, letterlik: ‘God moet gehoorsaam word eerder as mense’ – Petrus maak ’n algemene stelling wat die apostels se optrede bepaal, en wat ook die Raad se optrede behoort te bepaal. Die Raad is ondergeskik aan God se wil. Petrus en Johannes het by hulle eerste verhoor die Raad reeds uitgedaag om hulle aan God se wil te onderwerp (Hand 4:19). Die genesing van die lamgebore man het die apostels verseker van God se wil (Hand 4:20), en met hulle wonderbare uitredding uit die tronk is hulle weer eens verseker dat God van hulle verwag om die opdrag wat hulle van Jesus en van die engel ontvang het, uit te voer (Hand 1:8 en 5:20).

5:30 Die apostels se nuwe weiering om die Raad te gehoorsaam word vir hulle ’n geleentheid om oor Jesus te getuig en ’n aanklag teen die Raad te bring. Die aangeklaagde apostels word aanklaers teen die Raad. Weer eens stel Petrus die handeling van God skerp teenoor die optrede van die Raad. Gód het Jesus opgewek wat júlle gegryp en doodgemaak het deur Hom aan ’n boom/paal op te hang – ’n idioom volgens Deutr 21:22 wat hier gebruik word vir kruisiging.

Die aanklag is vir iemand wat glo in die verlossingsboodskap. Paulus haal Deutr 21:22-23 aan in Galasiërs 3:13 as verklaring vir die betekenis van Jesus se dood: Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet toe Hy vir ons vervloek is, want daar staan geskryf: ‘Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang.’ Deur die moordenaarshande van die Raad het God vir die wêreld verlossing bewerk. Hulle het Jesus behandel asof Hy deur God vervloek is, en Hom aan ’n paal laat ophang. God het Hom egter aan sy regterhand op sy troon laat sit as Heerser en Verlosser van die skepping, soos Hy vir hulle gesê het (Luk 22:69). Daarmee staan God téén hulle op en handel tegelyk vír hulle. God het téén hulle besluit, en daarmee ook vír hulle die pad van verlossing gemaak. Petrus se aanklag is ook ’n aanbod aan die Raadslede. Hulle het Hom doodgemaak en God het Hom opgewek, ook vir hulle. Petrus noem Hom die God van ons vaders. Daarmee vereenselwig Petrus hom met die lede van die Raad as kinders van hulle gesamentlike voorvaders.Daarom is Hy die God van die Raadslede en van die apostels, die God wat Hom aan Israel verbind het.

5:31 In hierdie vers spel Petrus uit wat hy in die vorige verse gesê het. Die verhoging van Jesus, Israel se verwagte Messias, tot God se regterhand is bedoel as God se redding vir Israel. God se bedoeling met die stuur van Jesus as die Jode se verwagte Christus wat vir hulle kom sterf het en uit die dood opgestaan het, was juis om aan die verdwaalde en verharde Israel die geleentheid tot bekering te bied, terug na God toe. En daarvoor het God Hom aan sy regterhand laat sit om sy werk van bekering voort te sit as Leidsman na God en na die ware lewe toe, want Hy is die Verlosser uit die sonde en uit die mag van die sonde. ‘Om bekering aan Israel te skenk en die vergewing van sondes’ – in 3:26 het hy reeds gesê: ‘God het sy Kind heel eerste na júlle (met klem voorop in die sin) gestuur nadat Hy Hom opgewek het, om julle te seën, deurdat Hy elkeen van julle sal laat wegdraai van julle booshede.’ Bekering word in 5:31 as ’n geskenk van God aangebied – metanoia is die verandering van jou lewe deur ’n verandering van jou denke oor God en jou medemens en oor jouself.

Die titel Verlosser/Redder kom uit die Ou Testament waar God as Redder geprys word. Habakuk 3:13 ‘nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder.’ In Hebreeus: Jehoshu’ah, ‘Jahweh is Verlosser.’ Die Naam Jesus is die Griekse vorm van Jeshu’ah, Luk 1:31). So het Maria in haar lofsang gesing: ‘my gees jubel oor God my Verlosser’ (Grieks: sōtêr Luk 1:47; 2:11). Die eerste gemeentes het die titel ‘God is Redder’ op Jesus oorgedra, soos Hy gesê het (Joh 12:47). Jesus is deur sy dood en opstanding erken as die Verlosser van die wêreld, wat deur God sy Vader gestuur is (1 Joh 4:14; Joh 3:17; Titus 1:4 Genade en vrede van God, ons Vader en Christus Jesus ons Verlosser; Joh 4:42 ‘…ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is’). 5:32 Die apostels is deur Jesus aangestel as getuies van hierdie gebeure (rêmata verwys na woorde en hulle inhoud). Petrus het dit in Handelinge 5:30-31 uitgespel. Die Heilige Gees wat God gegee het aan húlle wat aan Hom gehoorsaam is, getuig ook. Hy werk in en deur elke mens wat in Jesus as die goddelike Verlosser van die wêreld glo en aanvaar as die Here oor sy lewe (vgl. Joh 14:26; 15:26; 16:8; Rom 8:11,14). Die kort preek van Petrus eindig soos dit begin het met gehoorsaamheid aan God (Hand 5:29).

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...