Die Handelinge van die Apostels: Paulus en Silas vlug na Berea (Hand 17:10-15) – Francois Malan

image_pdfimage_print

17:10  Die hele gemeente wat daardie aand bymekaargekom het, het vir Paulus en Silas dadelik na Berea, suid-wes van Thessalonika, gestuur. Deur die nag het hulle die ongeveer 90 kilometer oor die berge begin aflê. Of die gemeente hulle te perd of te voet op die pad wat die noordelike Masedonië met die suidelike Griekeland verbind, weggestuur het, word nie gesê nie. Hulle moes Thessalonika net onmiddellik verlaat.

Met hulle aankoms in die stad Berea het Paulus en Silas na die Joodse sinagoge gegaan. Al het die Jode in Thessalonika hulle weggejaag, begin Paulus-hulle weer in Berea om die evangelie, die goeie nuus oor Jesus, eerste aan die Jode te bring. Berea is nie vir hulle ’n toevlugsoord waarheen hulle gevlug het nie, maar ’n nuwe geleentheid vir verkondiging van Jesus as God se Seun wat Hy as Verlosser vir die wêreld gegee het (Joh 3:16; vgl. Hand 17:2-3).

17:11 Die Jode van Berea was meer ontvanklik vir die woord van die Here as die Jode van Thessalonika (eugenésteroi oorspronklik: van beter geboorte, wat later ‘meer ontvanklik’ – ‘open-minded’ geword het). Hulle het die woord met alle gretigheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of die dinge so is. Hulle het elke dag die Skrifte bestudeer om te sien of dit wat Paulus sê ooreenstem met wat die Skrifte sê. Die Jode het nie slegs op die Sabbat byeengekom nie, maar blykbaar daagliks. Dit was vir Paulus-hulle ’n heel ander gesindheid as die Jode in Thessalonika, ’n vars briesie wat die Here bewerk het om hulle te laaf na hulle vlug uit Thessalonika. 

17:12 Baie van hulle het in Jesus as die Woord van God geglo en ook ’n aansienlike getal van die vername Griekse vroue en mans. Dit is nie duidelik of die Grieke reeds godvresendes was, en of hulle uit die Griekse heidendom tot geloof in Jesus gekom het nie. Die gemeente het later ’n aansienlike bydrae gelewer tot Paulus se kollekte vir die armes in Jerusalem, sodat hulle vir Sopater saam met Paulus met die kollekte na Jerusalem gestuur het (Hand 20:4).

17:13 Toe die Jode in Thessalonika egter hoor dat Paulus die woord van God ook in Berea verkondig, het van hulle na Berea toe gegaan. Soos die Jode uit Antiogië eers in Ikonium en daarna saam die skare in Listra gaan ompraat het (Hand 14:19) het Thessalonika se Jode ook die skare in Berea teen Paulus kom opsweep en ’n oproer in Berea veroorsaak soos in Thessalonika (17:5). In Thessalonika het hulle Paulus-hulle beskuldig dat hulle die hele wêreld in opstand teen die Romeinse regering bring (17:6). Hulle beskou dit as hulle plig om die verkondiging van die evangelie van Jesus orals met oproere uit te wis. Dit begin telkens as hulle jaloers word (13:45; 17:5) en gekrenk word oor hoe vinnig die evangelie in die stad versprei. Die jaloesie in hulle harte motiveer die geweld teen Jesus se dienaars.

17:14 ‘Die broers…’  Deur die werking van die Heilige Gees het daar reeds ’n gemeente ontstaan uit die Jode wat die Skrifte so ernstig bestudeer het om Paulus se boodskappe te toets en die groot groep Griekse vroue en mans wat almal tot geloof in Jesus gekom het. Toe die oproer begin besluit die gemeente dadelik om Paulus ver weg te stuur, buite bereik van die Jode van Thessalonika. ’n Paar van die gemeentelede begelei hom na die Adriatiese see toe om ’n skip te kry om hom uit Masedonië weg te neem. Die visioen van die Masedoniese man, wat om hulp kom vra het, is vervul deur die drie gemeentes wat Paulus telkens gedwonge agtergelaat het, in Filippi op versoek van die magistrate, in Thessalonika deur die borggeld wat die gelowiges moes betaal as versekering dat Paulus-hulle die stad verlaat, en in Berea waar ’n volgende oproer deur die Jode van Thessalonika georganiseer is. Paulus se reisgenote en helpers, Silas en Timotheus, bly in Berea agter om die gemeente op te bou. Van Timotheus is daar laas in Listra gehoor dat hy saam met Paulus begin reis het (Hand 16:1-5). 

17:15 Die paar gelowiges uit Berea wat vir Paulus vergesel het see toe, het tot in Athene by hom gebly. Athene is ongeveer 350 km van Berea af. Hulle het waarskynlik per skip daarheen gevaar. Die gemeente wou seker maak Paulus kom veilig weg uit Masedonië waar die Jode sy bloed soek. Die gemeentelede wat hom vergesel het gaan terug na Berea met ’n boodskap van Paulus dat Silas en Timotheus so gou as moontlik na hom in Athene moet kom.

Volgens 1 Thess 3:1 het Paulus ’n ruk na hulle aankoms in Athene vir Timotheus teruggestuur na Thessalonika om hulle in hulle geloof te gaan versterk en te bemoedig om nie deur hulle beproewinge van koers af gebring te word nie.

1 Thess 2:14 vertel dat die gelowiges in Thessalonika onder hulle eie mense gely het. Silas is blykbaar saam met Timotheus na Masedonië toe gestuur, waarskynlik na Filippi (vgl. Hand 18:5). Toe Silas en Timotheus terugkeer na Paulus, het hy al van Athene af na Korinthe vertrek om daar te begin werk. Timotheus bring toe goeie nuus oor die geloof van die Thessalonisense. Daarop skryf Paulus 1 Thessalonisense, wat hy waarskynlik saam met Timotheus na hulle toe stuur (vgl. 1 Thess 1:1). Nadat Timotheus weer terug is in Korinthe, word hy later moontlik vir ’n derde keer Thessalonika toe gestuur met 2 Thessalonisense.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...