Die Hetiete, Egiptenare en Amoriete

image_pdfimage_print

Die Hetiete, Egiptenare en Amoriete – Coen Slabber

Christa vra:

Die 3 groot ryke: Hetitiese Ryk; Egiptiese ryk; Amoritiese ryk: Wat was elkeen se doel en hoekom het hulle ten gronde gegaan?

Antwoord

Coen Slabber antwoord:

Die Hetiete  

Ons lees ongeveer sestig maal van die Hetiete of van Het, die vader van die Hetiete, in die ou Testament. Hulle word nie in die Nuwe Testament genoem nie. Meeste van hierdie verwysings het te doen met die teenwoordigheid van die Hetiete in Kanaän.

In Genesis 10 lees ons van die nageslagte van Noag se seuns. Onder die nageslag van Gam lees ons dat Het die seun van Kanaän die seun van Gam was (vers 15). In Genesis 23 lees ons dat Abraham die Makpelagrot by die Hetiete koop en sy vrou Sara daar begrawe. Later lees ons dat Esau met Ada, ‘n Hetiet getrou het.

Maar wie was die Hetiete? Die middelpunt van hulle Ryk was in Anatolia (Klein-Asië, die moderne Turkye). Hulle hoofstad was Hattusas (die huidige Baghazskoy). Die Ryk bereik sy hoogtepunt in die 14 de eeu vC. Toe het die ryk so uitgebrei dat dit dele van Sirië, Libanon en ‘n deel van Mesopotamië ingesluit het. Die Hetiete in Kanaän het op die periferie van die ryk gebly. [Sien kaart.]

hetiete

Die Hetiete het strydwaens suksesvol gebruik en het ook die vermoë gehad om ystervoorwerpe te maak. Die oorheersing van die Hetiete word in die 15 de eeu vC gebreek toe die Egiptiese farao hulle oorwin het. Suppiluliuma (1380 – 1340 vC) was ‘n energieke monarg en het die Hetitiese Ryk weer opgebou. Maar teen die middel van die 13de eeu het mense van die antieke Griekse Ryk en die sogenaamde seemense  hulle bedreig. In 1190 vC het hierdie seemense die Hetitiese Ryk finaal vernietig. Die seemense (byvoorbeeld die Filistyne) kom oorspronklik van Kreta. In 1180 vC is net ‘n paar onafhanklike stadstate al wat van die Ryk oorgebly het.

Die Hetiete het agt verskillende tale gebruik, Vir amptelike dokumente is slegs twee tale gebruik – Akkadies was die taal wat algemeen deur die bevolking gebruik is. Die bevolking het ook ‘n ryke verskeidenheid van etniese agtergronde gehad. Volgens beeldhouwerke uit daardie tyd was hulle nie baie aantreklik nie. Hulle het hoë, gepunte hoede gedra en skoene met punte wat opgekrul het.

Hulle het ‘n hele reeks gode gehad. Die belangrikste god was die weergod wie se simbool ‘n bul was. Daar was ook ‘n songodin, Arinna.

 

Die Egiptiese Ryk

Hierdie Ryk het ‘n lang geskiedenis en slegs enkele gebeurtenisse kan bespreek word. Abraham het tydens die droogte daar gewoon; Josef is as slaaf verkoop en vorder tot ‘n baie belangrike pos in Egipte; Moses het grootgeword  in die paleis van die farao. Later het God hulle met die tien plae gestraf omdat hulle nie die Israeliete wou laat wegtrek uit slawerny nie. Na die vernietiging van Jerusalem in 586 vC dwing ‘n groepie Jode vir Jeremia om saam met hulle na Egipte te vlug.

In Aleksandrië het 70 Jode die Ou Testament tussen 250 – 150 vC in Grieks vertaal – die Septuagint. Dit word die Bybel van die vroeë kerk – veral vir die Christene wat buite Palestina gewoon het. In Matteus 2:13 ev lees ons dat Josef en Maria met Jesus na Egipte vlug omdat Herodes alle Joodse kindertjies wou doodmaak.

Sonder die Nyl kan Egipte nie bestaan nie. Die bewerkbare grond was ‘n stook 10 – 16 km langs die Nyl. Daar was ook die vrugbare delta.

Die Egiptenare het die Nyl as Hapi aanbid. Die son, wat lewe aan alle dinge gee, is as Amon-Re en Aton aanbid. Die koning/farao was ‘n nasaat van die gode. Osiris was die god van die dood. Volgens oorlewering is hy deur sy broer vermoor, maar sy vrou, Isis, het hom weer na die lewe teruggebring.

Opvoeding was feitlik uitsluitlik vir seuns uit die hoër sosiale klasse bedoel. Hulle moes opgeleide personeel vir die priesteramp, regeringsdiens en die beroepe verskaf. Die antieke Egiptenare was veral aktief op die gebiede soos toegepaste wiskunde, sterrekunde en die geneeskunde. Dat hulle ‘n goeie kennis van ingenieurswese gehad het, is duidelik uit hulle massiewe bouprojekte en die uitgebreide netwerk van besproeiingskanale. Hulle was ook beken vir hulle vermoë om lyke te balsem.

Hulle is baie bekend vir hulle groot argitektoniese projekte – massiewe tempels met groot standbeelde, groot grafkelders vir die konings en die piramiedes.

Amoriete

Ons lees die eerste keer van die Amoriete as afstammelinge van Kanaän (Genesis 10:16). Hierdie nomadiese mense het van die Siriese woestyn na Mesopotamië en Palestina gemigreer. Hulle het die Sumeriërs oorwin en uiteindelik die grootste gedeelte van Mesopotamië besit. Reeds in die derde millennium vC was daar Amoriete in Sirië en Palestina. Onder hulle kry ons name soos Abraham, Jakob, Levi en Ismael.

Die Amoriete is prominent in die Ou Testament as belangrike hindernisse in die verowering van Kanaän deur die Israeliete. God sê vir Moses: Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete(Eksodus 3:8). Toe Israel in die woestyn geswerf het, belowe God dat hulle daardie nasies sal vernietig (Eksodus 23:23). Moses stuur spioene om die beloofde land te verken. Hulle rapporteer dat daar Amoriete in die bergwêreld teenwoordig was (Numeri 13:25 ev). Hulle was ook oos van die Jordaanrivier teenwoordig (Numeri 21:13). Hierdie gebied is deur twee Amoritiese konings – Sihon en Og – beheer, maar die Israeliete verslaan hulle. In Josua 10:5 lees ons van vyf Amoritiese konings – die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglom. Josua verslaan hulle. Selfs in die tyd van die Rigters was die Amoriete en hulle gode ‘n bedreiging vir Israel. Met die Egiptiese oorwinning oor Kanaän, deur die konings van die XVIII dinastie het die Amoriete as selfstandige nasie verdwyn.

Dat die oorwinning oor die Amoriete en die verowering van hulle land ‘n groot gebeurtenis vir die Israeliete is, is duidelik – ‘n oorwinning wat onthou en gevier moet word (Psalm 135:10 – 12; Psalm 136:17 – 26). Maar hulle was ook die beeld van alles wat sleg was. Toe God Jerusalem deur sy profeet Esegiël toespreek, sê Hy: Julle ma was ‘n Hetiet en julle pa ‘n Amoriet. Die Amoriete was die simbool van alles wat in God se oë verwerplik is.


Skrywer: Dr Coen Slabber

image_pdfimage_print