Die kerk vandag (5)

image_pdfimage_print

 

Complacency is a deadly foe of all spiritual growth. —A.W. Tozer

 

Die kerk vandag (5)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Ons kom by ‘n tweede ideologie wat ons vandag algemeen in ons kerke kry

  • Gee aan die verbruiker wat hy wil hê

Ons sien dat besigheidsterminologie dwarsdeur die kerk gebruik word. Ons maak een groot fout as ons dit doen: ons aanvaar die verbruiker se belange is wettig. In die besigheid sê mense dat die kliënt altyd reg is – en dit is ‘n wet wat hulle getrou nakom. As ons potensiële gelowiges verbruikers gaan noem, moet ons erken die verbruiker is soms verkeerd. Soms weet hulle nie eers wat hulle wil hê nie of hulle wil goed hê wat vir hulle nadelig is.

 

Geen menslike begeertes is waarde-neutraal nie. In hierdie model van kerkwees word groot aandag gegee aan die identifisering van die teikenmark en om aan hulle die ondervinding te gee wat hulle wil hê. Daarom hoor ons dikwels dat die kwaliteit van produksies in hierdie kerke nie vir Disney moet terugstaan nie. Die behoeftes waaraan veral aandag gegee moet word, is:

  • Vryheid van keuse. Die verbruiker kies ‘n kerk volgens sy voorkeure en smaak. Die keuse het minder met die voorwerp van aanbidding (God) en meer met die ondervinding te doen.
  • Kompetisie is die voorsiening van ‘n ondervinding. Hier gaan dit nie oor ‘n geloofsgemeenskap waarvan ek deel is nie, maar om my behoeftes bevredig te kry – my persoonlike voorkeure moet hanteer word. Dit lei uiteraard tot kompetisie tussen kerke – hulle ding mee vir markaandeel. Die kerkganger oorweeg die aanbiedinge van die verskillende kerke en kies die een wat die beste aan sy behoeftes voldoen.

 

Wat ons in die gemeente doen, vorm ons. Dit maak ons wie ons is. Die erediens voldoen nie net aan sekere smake nie, maar ontwikkel sekere smake. Ons karakter word deur ons gewoontes gevorm. Waarmee ons mense wen, is waarvoor ons hulle wen. As ons ‘n groep trek volgens hulle voorkeure, sal hulle verwag dat ons dit aanhou moet doen. As ons dinge probeer verander, sal hulle voel dat ons hulle verraai het. Baie mense word deur die minder belangrike dinge aangetrek en as ons van hierdie dinge ‘n groot ophef maak, kommunikeer ons dat dit hierdie dinge is wat werklik saakmaak.

 

Wat ons kommunikeer is dat die produksie Sondagoggend en nie Jesus Christus belangrik is nie. Volgende keer kyk ons verder wat vandag alemeen in ons gemeentes aangebied word.

 

 

image_pdfimage_print