Die Ons Vader-gebed: Laat ons nie versoeking kom nie

image_pdfimage_print

Everything the world has to offer, God is better and more abiding. There is no comparison. God wins, every time (John Piper)

 

Die Ons Vader-gebed:  Laat ons nie versoeking kom nie

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Reeds in die eerste hoofstukke van die Bybel lees ons van die versoeking van die eerste man en vrou. In die res van die Bybel is daar ‘n hele reeks verhale oor versoeking.

Versoeking voorveronderstel die spanning in mense tussen wat hulle is en wat hulle behoort te wees – tussen hulle huidige toestand en hulle toekomstige bestemming. Hierdie versoek in die gebed is ‘n erkenning van die menslike natuur se swakheid.

 

Versoeking kan of verleiding tot sonde of toetsing van die geloof beteken. Ons kry iets hiervan in Jakobus 1:2 -3: Julle moet bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom … as julle geloof die toets weerstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. Hier word beproewing  as‘n toets van ons geloof gesien.

 

Ons het versoekings nodig.  As hulle dan voordelig is hoekom bid ons dat ons nie in versoeking moet kom nie?  Die gevaar is tog nie versoekings nie, maar as ons toegee aan versoekings. Moet ons nie eerder bid dat God ons help om nie aan versoekings toe te gee nie? Kom ons kyk weer: Laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Hierdie twee versoeke loop eintlik parallel tot mekaar. Beide praat van beweging van een posisie na ‘n ander een: laat … kom en verlos … van.

 

Die versoek laat ons nie in versoeking kom nie, verwys hier nie na ‘n toets nie. Dit gaan hier nie oor die suksesvolle weerstaan van ‘n toets nie; hierdie is nie ‘n toets om ons te versterk nie. Iemand wat hierdie gebed bid, het nie ‘n oormaat selfvertroue nie – hy is nie uitermate vroom nie. Hy vra nie dat God aan hom die geleentheid gee om getoets te word nie – hy vra om nie getoets te word nie. Om die waarheid te sê hy bid nie eers vir krag nie: As die versoeking kom, gee my die krag om dit te weerstaan. Versoeking is vir hom angs en vrees. Op die Olyfberg, net voor Hy gevange geneem is,sê Jesus vir sy dissipels: Bid dat julle nie in versoeking kom nie (Lukas 22:40). In werklikheid sê Jesus vir hulle: “Wees realisties oor julleself en julle vermoë om versoeking te weerstaan.” Hierdie versoek waarsku dus teen geestelike bravade – moenie uit jou pad gaan om uitdagings te soek nie, maar terselfdertyd aanvaar die swaarkry wat noodsaaklik is.

 

Miskien is daar ‘n dieper betekenis vir hierdie versoek. Ons moet onthou dat hierdie gebed in Jesus se tyd en in die vroeë kerk gebid is in ‘n tyd van vervolgings, maar ook ‘n vurige verlange na die einde van die wêreld. Die dissipels het geglo hulle leef in die laaste dae – die finale stryd tussen Christus en die magte van die Bose was naby.  As hulle hierdie gebed gebid het, het hulle nie aan alledaagse versoekings gedink nie – dit wat ons daagliks teenkom nie – maar aan die groot finale toets. Dit gaan hier oor die verwerping van Christus as gevolg van vervolging. Vir ons klink dit onwerklik – ons weet nie wat dit beteken en wat dit inhou nie. vervolging en martelaarskap is nie vir ons werklikhede nie.

 

Die versoek: laat ons nie in versoeking kom nie, is inderdaad ‘n angstige gebed. Maar hierdie angs word vervang deur die kalmte en geloof van diegene wat reeds gevra het dat die Vader se Naam geheilig word, dat sy koninkryk sal kom en dat sy wil op aarde sal geskied – mense wat reeds die oorwinning van God deur Jesus Christus geproe het. Mense wat Jesus se woord gehoor het: In dié wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin (Johannes 16:33).

 

image_pdfimage_print

You may also like...