Die Oospoort

image_pdfimage_print

Die Oospoort – Francois Malan

Lezane vra:

Ek wil graag bietjie meer uitvind oor die Oospoort en wat die Jode glo, hoe sal Jesus verskyn as Hy weer terugkom aarde toe en gaan Hy weer deur die Oospoort kom soos Hy gegaan het?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Oospoort word ook die Goue Poort genoem in die Christelike literatuur. Volgens die Joodse tradisie het die goddelike teenwoordigheid (shekhinah) gewoonlik deur die poort verskyn (vgl. Esegiël 44:1-3), en sal weer verskyn wanneer die Messias kom, en ‘n nuwe poort die huidige poort vervang. In die Christelike literatuur is beweer dat Jesus op Palmsondag reeds deur hierdie poort, wat op die Olyfberg uitkyk, in Jerusalem ingery het op ‘n donkie (vgl. Lukas 19:28-44; Matteus 21:1-11; Markus 11:1-11; Johannes 12:12-19).    

Oorblyfsels van ‘n baie ouer poort uit die tyd van die tweede tempel van Serubbabel is met die opgrawings gevind (vgl. Nehemia 3:29 waar die poort genoem word). Die huidige poort is waarskynlik eers tussen 500-700 jaar na Christus gebou bo-oor die ouer poort. Die eerste opstand van die Jode teen die Romeine was in 70 n.C. toe Titus Jerusalem verwoes het. Met die tweede opstand in 130 n.C. het keiser Hadrianus die stad laat gelyk maak en ‘n nuwe Romeinse stad bo-oor die ruïnes gebou, wat hy Aelia Capitolina laat noem het. In 1541 het die Ottomaanse sultan Suleiman die poort met sy twee ingange verseël om die stad te beveilig. Die Jode het egter gesê hy het dit gedoen om te keer dat die Messias kan inkom. Die poort is vandag nog toegebou.

Hoe sal Jesus verskyn as Hy weer terugkom aarde toe en gaan Hy weer deur die Oospoort kom soos Hy gegaan het? 

Volgens Matteus 24:30 het Jesus gesê: die teken van die Seun van die mens sal in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde  sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit (vgl. ook Markus 13:26; Lukas 21:27). Dit lyk nie asof Hy deur die Oospoort gaan kom nie, maar op ‘n wonderbaarlike manier dat al die volke van die aarde Hom sal kan sien kom op die wolke.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print