Die Openbaring aan Johannes – Die sewende seël en die trompette (8-9) – Francois Malan

image_pdfimage_print

8:1-5 Die oopbreek van die sewende seël word voorafgegaan met ‘n halfuur se stilte waarmee die spanning verhoog word. Is dit nou die einde? Dit is ‘n kort verposing in die dag en nag uitroepe van die hele skepping se lof aan God (4:8), sodat die gebede van die gelowiges gehoor kan word voor die geraas van die donderslae. Dit is ook deel van die ritme van Openbaring wat geweldige oordele aankondig, en dan onderbreek, om te sê ons is nog in die tussentyd: die einde is voor die deur, maar is nog nie hier nie; Christus se wederkoms om te oordeel is naby, maar nog nie hier nie. Alles word erger, maar die finale oordeel wag nog. Daar is nog ‘n kans om tot bekering te kom, om die verleidings van Babilon te los en die Lam te volg. Die oopbreek van die sewende seël word aangekondig in 8:1; die sewe trompette word aangekondig (8:2-6) en op hulle word geblaas (8:7-9:21), maar die sewende trompet word vertraag tot 11:15.

8:1 Die ‘ongeveer ‘n halfuur’ is die eerste van verskeie gebroke getale in Openbaring (3½ dae in 11:9,11) , ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd (12:14). Die betekenis lê nie in die uur nie, maar in die helfte daarvan: 3½ is die helfte van die volmaakte, 7 dae of jare. Die uur is wanneer Jesus kom soos ‘n onverwagte inbreker (vgl. die uur van beproewing in 3:10). Die uur is die kortste van die tye in 9:15; in 11:13 geskied die vernietiging op daardie uur (14:7,15; 17:12). ‘n Uur verteenwoordig ‘n skielike belangrike gebeurtenis, soos die verskyning van Christus of die skielike val van Babilon (18:10,17,19). Daarteenoor verteenwoordig ‘n halfuur die onderbreking van die voltooide en finale gebeure, God se onderbreking van die finale slag is ‘n dramatiese pouse in die onstuitbare opmars na die einde. Dit verhoog die leser se verwagting oor die nuwe wat nou gaan aanbreek.

8:2 Sewe trompette is gegee aan sewe engele wat voor God staan. Die passiewe werkwoord ‘is gegee’ is die Joodse manier om van God se werking te praat sonder om sy Naam (ydelik) te gebruik. Dit is Hy wat gee. Hy is die verborge akteur wat hierdie drama beheer: Die wierook wat met die gebede van die gelowiges gemeng moet word, is aan die ander engel gegee (8:3); die sleutel van die skag na die bodemlose diepte is aan die ster gegee (9:1); aan die sprinkane is krag gegee, en hulle is aangesê wat hulle moet doen en dat hulle nie toegelaat word om die mense dood te maak nie (9:3-4); vier engele is losgelaat om mense dood te maak (9:15) – almal opdragte van God, passief geskryf.

In die Ou Testament kondig trompette/ramshorings spesiale persone en gebeure aan: oorlog (1 Sam 13:3), troonsbestyging (1 Kon 1:34,39), voor ‘n brandoffer (Num10:10), feeste (Lev 23:24) oproep tot bekering (Jes 58:1). In die NT kondig trompette die eindtyd aan, roep die gelowiges op, kondig Christus se koms aan, en wek die gelowiges op uit die graf (Mt 24:31; 1 Ts 4:16; 1 Kor 15:51-52)   Die eerste ses trompette waarsku dat die dag van die Here aan die kom is en roep opstandige mense tot bekering (9:20-21); die sewende trompet kondig die kroning van ‘ons Here en sy Christus’ aan (11:15).

8:3-4 Die goue wierookbak met die wierook wat God laat meng het met die gebede van die gelowiges, wat in 5:8 deur die ouderlinge in goue bakke gehou is, word aan God aangebied/geoffer op die altaar, en die rook met die gebede gevul, het na God opgestyg (vgl Ps 141:2). Die gebede verwys na die gelowiges se roep om geregtigheid en vergelding (Op 6:9-11). In Ef 5:2 word Christus se liefdesoffer ter wille van ons ‘n aangename geur vir God genoem; in Flp 4:18 noem Paulus die gemeente se bydraes ‘n lieflike geur, ‘n aanneemlike offergawe wat God behaag. Volgens Rom 8:26 kom die Gees ons swak gebede te hulp en tree vir ons in met onuitspreekbare versugtinge – wierook wat God laat meng met ons gebede. Die halfuur se stilte, die onderbreking in die oordeel, word gevul met die aanbieding van die gelowiges se gebede wat met die wierook van die Heilige Gees se versugtinge gemeng is – en: ‘Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree’ (Rom 8:27).

8:5 God se antwoord op die gelowiges se gebede wat na Hom opstyg, word beskryf met die engel wat die wierookbak daarna vul met vuur van die altaar af, en die vuur op die aarde uitgooi met donderslae, gedreun, weerligstrale en ‘n aardbewing (vgl Eks 19:16,18). Saam met die drie gebeure in die hemelruim, word die aarde ook geskud om aan te kondig dat God se oordeel op pad is. Die breuk in die aarde stem ooreen met die gebroke sosiale, geestelike en politieke lewe op aarde; die chaos in die skepping weerspieël die chaos wat die mense veroorsaak met hulle onregverdige en destruktiewe wanorde; 11:18 noem hulle ‘vernietigers,’ (die woord verwys ook na hardnekkige perverte wat verderf saai);19:2 verwys na hulle onsedelikheid wat vernietig en verderf saai.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...