Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (2)

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (2)

Hoe gebruik die Bybelskrywers hierdie begrippe?

In die Bybel kry ons duidelike aanduidings dat ons dit juis so moet verstaan en nie as een “stasie” (ervaring) na die ander nie. Geen skrywer in die Bybel gebruik al hierdie begrippe nie, en geeneen probeer hulle enigsins in ‘n rytjie agtermekaar sit nie. Trouens, die meeste gebruik maar net ‘n paar, en dan glad nie in ‘n bepaalde volgorde nie. Johannes gebruik meestal geloof, maar verwys ook na wedergeboorte (Joh 3:3 ev), sondebelydenis en ver­gifnis (1 Joh 1:7 ev) en dat ons Jesus moet aanneem (Joh 1:12), maar sonder om hulle met mekaar in verband te bring. Hy gebruik egter glad nie die begrip “regverdigmaking” nie, ter­wyl Paulus dit byna 40 keer net in Romeine gebruik. Lukas gebruik graag redding of verlossing, maar nooit die gedagte dat ons “in Christus” (dit beteken met Christus verenig) is nie, wat uitermate baie by Paulus voorkom (veral in Efesiërs en Kolossense) en ook een keer by Johannes (Joh 15).

Wat beteken dit? As hierdie begrippe afsonderlike ervarings was wat een na die ander in ons lewe moes gebeur het, het nie een Bybelskrywer die volle heilsweg verkondig nie. Maar as elke begrip ‘n bepaalde perspektief op die heilservaring is, gaan dit in elke begrip om dieselfde saak, en word die volle rykdom van die saak net duideliker omdat dit met verskillende begrippe uit verskillende oogpunte verduidelik word.

 

Kort bespreking van die begrippe

Ons gaan nou die begrippe een-een in alfabetiese volgorde be­spreek nadat ons eers na die sentrale begrip “heilsweg” gekyk het.

 

Heilsweg

Ons gebruik liewer heilsweg as heilsorde omdat heilsorde in die verlede gebruik is om nog meer klem te lê op ‘n bepaalde volgorde van ervarings. Dit was in die Gereformeerde wêreld altyd ‘n baie groot saak om te beklemtoon dat wedergeboorte voor bekering moet kom. Daar was dus ‘n bepaalde volg-orde.

Selfs die begrip “heilsweg” kan in hierdie sin verkeerd verstaan word asof daar ‘n lang weg (pad) is waarop ons moet loop van die een ervaring na die ander toe. Heilsweg moet verstaan word as die manier of wyse waarop ons deel kry aan die heil. En hierdie ma­nier is ‘n ontmoeting met God waarin Hy by wyse van spreke sy hand na ons uitsteek en ons sy hand neem. Dit hoef nie in elke mens se lewe op ‘n bepaalde oomblik te gebeur nie, al gebeur dit wel so in baie mense se lewens, maar elke mens moet bewus wees van hierdie verhouding met Hom en hierdie vertroue op Hom, al het die bewussyn oor ‘n bepaalde tydperk gegroei.

Dat God sy hand na ons uitsteek, of die inisiatief in ons saligheid neem, beteken baie dinge. So het Hy byvoorbeeld in Jesus na die verlore mensdom gekom, deur Jesus ons skuld versoen, en laat Hy die goeie nuus aan ons verkondig. Op ‘n persoonlike vlak wek Hy deur die Heilige Gees in ons die oortuiging dat die evangelie waar is en dat ons ons daarop kan verlaat, Hy spreek ons vry, vergeef ons sonde, en gee ons ‘n nuwe lewe. Ons sou nog begrippe kon byvoeg, maar dit kom maar net neer op sy red­dende ingrype in ons lewe.

Dat ons sy hand neem, beteken ook baie dinge, byvoorbeeld dat ons erken dat ons die verkeerde pad loop en omdraai om Hom te volg, dat ons ons vertroue op Hom stel, dat ons ons lewe in sy hand gee.

Die dinge wat Hy doen, en die dinge wat ons doen, is egter ook nie twee lysies wat almal eers moet plaasvind sodat ek byvoorbeeld moet aftik of ek al alles gedoen het nie. Dat ek my lewe in sy hand moet gee, en dat ek my vertroue in Hom moet stel, is nie twee verskillende dinge wat ek een na die ander moet doen nie. Dis twee maniere om dieselfde ding te sê. Trouens, dalk het ek nog nooit in hierdie spesifieke woorde aan my verhouding met Hom gedink nie. Maar ek is net bewus daarvan dat ek van Hom afhanklik is sonder om verskillende kante van die saak of verskillende houdings van my kant te probeer onderskei.

En dit is ook nie so dat Hy eers alles doen wat hier genoem is en daarna reageer ons daarop nie. Ons kom in ‘n verhouding met God, en hierdie verhouding groei en ontwikkel. Maar van die oom­blik dat ons op Hom begin vertrou, bestaan hierdie ver­houding en moet dit net verder ontwikkel. Geleidelik sal ons leer wat Hy alles gedoen het en nog doen, en hoe ons ons ver­houding met Hom kan verfyn en verryk. In verskillende kerke sal verskillende begrippe gebruik word, maar dit gaan altyd om dieselfde saak. In een kerk sal die begrip “wedergeboorte” die populêre term wees, in ‘n ander “redding” of “bekering”, maar die terme het dan gewoonlik ‘n om­vattende betekenis. Daarom moet ‘n mens nie verwar word as jy aan een term gewoond is en skielik in ‘n ander kerk aan ‘n ander een blootgestel word nie. Dit gaan maar net om die vraag of jy regtig op Jesus as jou Verlosser vertrou.

Ons verhouding met Hom hoef ook nie noodwendig op ‘n be­paalde tydstip te begin nie. Iemand kan die Here van kleins af saam met sy of haar ouers ken en dien. ‘n Mens sal geleidelik meer verstaan en die verhouding sal verder ontwikkel, maar dis nie waar dat elke mens ‘n “dag en datum” moet hê nie, al is dit ‘n voorreg om so ‘n ervaring te ken. Die vraag is of jy hier en nou op Jesus as jou Verlosser vertrou, en nie wanneer jy begin het nie.

Andersyds moet ‘n mens ook versigtig wees. Die blote feit dat jy gedoop is (*Doop), klein of groot, dat jou ouers die Here dien, dat jy gereeld kerk toe gaan en Bybel lees (hoe goed dit ook al is!), beteken nog nie dat jy regtig op Hom vertrou nie. ‘n Verhouding met Hom is ‘n persoonlike ervaring, nie ‘n formele reëling nie.

Die begrippe gaan nou een na die ander behandel word, maar in alfabetiese volgorde, en nie in orde van belangrikheid of in tydsorde nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...