DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 3 (6) – Dionne Craffort

image_pdfimage_print

Gehoorsaamheid

   Die grondslag van ‘n lewe volgens die wil van God is gehoorsamheid. Die wil van God is ge-openbaar en kan geken word. Kennis is egter nie genoeg nie. Die wil van God moet gehoorsaam en gedoen word. Geloof in die wil van God is ook nie genoeg nie. Jakobus lê klem daarop dat geloof sonder die werke dood is. Geloof sonder daadwerklike gehoorsaamheid aan die wil van God is nie ware geloof nie. Uit gehoorsaamheid aan die wil van God, spruit al die gedagtes, woorde end ae voort wat verwag word van iemand wat aan God behoort en hom dien. Daarom is gehoorsaamheid die basis van ‘n lewe volgens die wil van God. Gehoorsaamheid aan die wil van God sal bepaal of ons die Koninkryk van die hemel sal ingaan. “Nie elkeen wat vir My sê: Here,Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is”.[Mat7:21] Die Vader maak dit moontlik deur sy Gees om sy wilt e kan doen.”Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer”.[Fil 2:13]

  Volgens die Bybel moet ons in die eerste plek gehoorsaam wees aan God en daarna ook aan owerhede en gesag wat deur God oor ‘n mens gestel is. Dit sluit in gehoorsaamheid aan ouers en ander gesagsfigure. “Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid”.[1Pet2:13 Hierdie gehoorsaamheid moet ons aanbeveel by alle mense. “Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp,daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is”.[Tit3:1] Die voorwaarde vir gehoorsaamheid is dat mense eers tot geloof in God moet kom, soos die apostel Paulus sê: “Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies,om tot eer van Sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring”.[Rom1:5]

   Gehoorsaamheid aan God kom nie van nature uit die mens nie. Ons is eerder van nature geneig tot ongehoorsaamheid. Gehoorsaamheid volg slegs op ‘n genadehandeling van God in ons lewe.”Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkle te word met die bloed van Jesus Christus”. Dit is ten nouste verbind aan die versoeningsdood van Jesus Christus.”Hy het self ons sondes in Sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God”.[1Pet2:24]

   Gehoorsaamheid aan God se wil beteken niks anders nie as die Skrif se oproep om heilig te lewe. Dit kom na ons as ‘n ernstige oproep.”Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees”.[1Pet1:15] Dit is ‘n oproep tot ‘n totale oorgawe aan God. “Stel julle in diens van God as mense wat dood was,maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil”.[Rom6:13]

   Gehoorsaamheid aan God deur Christus en deur die werking van die Heilige Gees, loop vanself uit op gehoorsaamheid aan owerhede wat oor ons gestel is.

   Gehoorsaamheid begin in die ouerhuis waar kinders geleer moet word om gesag te aanvaar. Dit lê die grondslag vir gehoorsaamheid aan ander owerhede soos onderwysers,wetstoepassers en regeringsowerhede. Die wetteloosheid in ons samelewing is die gevolg van geslagte van mense wat nooi geleer het om gesag te aanvaar en te eerbiedig nie, en ook nie om die eise van God se Woord te gehoorsaam nie.

Skrywer: Prof Dionne Craffort

 

image_pdfimage_print

You may also like...