Verdeling van finansies – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Leser vra:

Ek is so huiwerig om hierdie vraag te vra. Ek voel dat ek dalk baie selfsugtig sal voorkom, en miskien is ek selfsugtig.

Ek en my man werk albei. Alhoewel ons dit finansieel kan bekostig dat ek by die huis kan bly, weier my man, omdat hy sê dat ek moet help met die finansies. Ons het ‘n 2 jarige dogtertjie, met nog n babatjie oppad. Ek verdien ‘n goeie salaris. Maar dit kom nie naby wat my man verdien nie. Hy besit sy eie besigheid. Tot dusver was sy geld syne, en my geld myne. Hy dra die grootste gedeelte van die huishoudelike uitgawes, soos die huur, versekering, krag en telefoon. My salaris gaan in die kruideniersware, klere, petrol en al die onvoorsiene uitgawes in. Ek moet my eie kar onderhou. Ek betaal vir ons dogter se studiepolis en ek is die enigste een wat spaar. En ek betaal ook ons mediese fonds.

Alhoewel ek ‘n goeie salaris verdien, voel ek dat elke laaste sent in die huishouding ingaan. Daar is nooit iets oor vir myself of om ‘n stokperdjie te onderhou of vir ‘n fotografie klas te gaan, ens nie. Ek ry ‘n klein, tweedehandse ekonomiese karretjie wat al beter dae gesien het.

My man aan die ander kant, ry ‘n nuwe dubbel kajuit bakkie wat hy opgebou het soos hy wou, het 2 bote vir sy visvang stokperdjie, koop gereeld nuwe goed om sy stokperdjie te onderhou, gaan weg vir visvang naweke, en het net laas week ‘n nuwe bootenjin gekoop vir ‘n belaglike bedrag.

Ek ly nie honger nie, ek het klere, my kind is versorg en ons het n dak oor ons kop. Maar moet ek so voortgaan en niks vir myself kan doen nie, terwyl ek kyk hoe spandabelrig hy is waar sy belange aangaan? Of is ek maar net selfsugtig?

Estelle

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dit is baie moeilik om in hierdie geval ‘n goeie antwoord te gee sonder dat mens met jou en jou man afsonderlik en gesamentlik ‘n goeie gesprek gevoer het. En bygesê: waar albei gewillige gespreksgenote is en bereid is om na mekaar te luister, én gewillig is om aanpassings te maak waar nodig. Ek gaan dus baie in die algemeen antwoord, maar wil reg aan die begin sê: Julle sal êrens vorentoe die hele saak van die verdeling van julle finansiële verantwoordelikhede eerlik en nugter moet uitpraat – met mekaar, en met ‘n berader, indien nodig.

Met die beginsel van die verdeling van finansiële verantwoordelikhede in die huwelik is daar nie fout te vind nie. Die dae dat die man die alleen-broodwinner is en die vrou die alleen-tuisteskepper, is oënskynlik verby. (Daar ís nog sulke huwelike en gesinne, en as dit goed werk, kan dit selfs in vandag se tye ‘n goeie opsie wees. Maar kom ons laat dié opsie vir doeleindes van hierdie antwoord daar.)

Soos ek die saak verstaan, is jy nie ongelukkig oor die feit dat jy buitenshuis werk nie. Jy is bereid om jou kant te bring. (Hoewel ek die indruk kry dat jy graag net tuisteskepper sou wou wees.) Die ding wat jou eintlik pla, is dat jy voel jou man ‘n baie beter voordeel uit julle finansiële en werksverdeling het as jy. Hy kan homself ten volle uitleef – werk, huwelik, gesin, stokperdjies, ens – terwyl jy aan die agterspeen suig wat jou eie ontspanning en verryking betref. En eersdaags is daar nóg ‘n paar pienk voetjies in die huis. En gaan jy vir hom/haar ook so voorsiening moet maak soos tans die geval is – uit jou salaris?

As julle beide dieselfde inkomste gehad het, sou jy waarskynlik ook genoeg oorgehad het vir jou eie stokperdjies. Maar nou kry jou man baie meer as jy. Dit wil dus lyk of jy te swaar dra aan die finansiële verantwoordelikheide soos dit tans verdeel is tussen julle. En die nuwe baba gaan hierdie situasie nog verder onder druk plaas. Ek dink die feit dat daar ‘n nuwe baba op pad is, skep ‘n goeie geleentheid om ‘n totale herevaluering van die verdeling van julle finansiële verantwoordelikhede te maak.

Daar is ongelukkig nie pasklaar antwoorde vanuit die Bybel oor die tipiese uitdagings wat aan hedendaagse huwelike gestel word nie (soos in julle geval), omdat die sosiale en kulturele opset van Bybelse tye baie verskil van vandag s’n. Maar gaan kyk ‘n mens na die gedeeltes in die Nuwe Testament wat oor die huwelik handel (bv Matt 5:29; 19:3-12; 1 Kor 7; Gal 3:28; Ef 5:21-33 [v21 is belangrik]), is die goue draad wat deurloop dié van eenheid, pariteit (teen die agtergrond van destydse opvattings oor die status van man en vrou in die samelewing en huwelik), wedersydse respek en ondersteuning, liefde, versorging, en veral beskerming van die vrou. Die Bybelse beginsel wat in julle situasie veral ter sprake is, is dat man en vrou mekaar op ‘n manier moet ondersteun wat billik en regverdig is, wat beide gelukkig en versorg laat voel, en waar dit duidelik is dat julle julle huwelik so inklee dat dit tot eer van God en tot voordeel en opbou van mekaar is. Die liefde soek die ander se voordeel en geluk, nie net die beste “deal” vir jouself nie. En dít, lyk my, is die kern van die saak wat in julle huidige finansiële verdeling nie goed werk nie, altans, nie vir jou nie.

My antwoord is dus: Pak die bul by die horings en praat die saak uit. En doen dit op so ‘n manier dat julle agterna beter daaraan toe is as voor die tyd. Jy sal die beste weet hoe om die saak met jou man aan te roer. En, soos reeds gesê, gebruik die koms van die nuwe baba as aanknopingspunt om te praat oor ‘n nuwe finansiële verdeling in julle huwelik.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 

image_pdfimage_print

You may also like...