Die Openbaring aan Johannes – God en die Lam word geprys (5:11-14) – Francois Malan

image_pdfimage_print

5:11-12 Die tweede lied van die engelekoor:

Wat Johannes sien word geïnterpreteer deur wat hy hoor. Die sirkels om die troon brei uit tot tienduisende maal tienduisende en duisende maal duisende; ontelbaar baie, soos in Daniël 7:10. Met harde stemme roep hulle uit dat Hy, as die Lam wat geslag is, waardig is om sewe lofprysings te ontvang (die volle getal): vier loof Hom, drie aanbid Hom. Hy word geloof vir:

a sy krag waarmee Hy die mag van die Bose verbreek het deur sy liefdesoffer van Homself aan die kruis. Dit is die krag van sy liefde, liefdesmag. Daarom het God aan Hom al die seggenskap gegee in die hemel en op die aarde (Mat. 28:18).

b sy rykdom – in Joh..12:32 het Jesus al van sy kruisiging gesê: as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek – met sy liefdesoffer trek Hy mense na Hom toe (vgl. ook Op. 3:18 wat verwys na die ware rykdom van geloof en vertroue op God). Sy nederige liefdesoffer staan teenoor die prag en praal van die sedelose vrou, die groot stad Babilon, waarmee sy die volke verlei het (17:4; 18:16).

c sy wysheid, die wysheid van God, wat, deur die dwaasheid van die kruis, die ‘wysheid’ van die wêreld aan die kaak gestel het (1Kor. 1:24,30) – God se wyse plan – ‘n gekruisigde God – is dwaasheid in die oë van die wêreld.

d sy sterkte verwys na die dinamiek in sy sterwe, om daardeur die dood en die Bose vir eens en vir altyd te oorwin, deur die sondelas van die wêreld te dra, en die mag van sonde en dood te verbreek.

Die laaste drie lofprysings aanbid sy verhoogde status, die Lam wat staan aan die regterhand van God.

e eer – die eer vir die uitvoering van God se plan kom alleen die Lam toe vir sy oordeel oor die wêreld, en redding van die geroepenes. Die eer en die heerlikheid wat aan God gebring word (4:11) kom ook die Lam toe. Dit getuig van die eenhied tussen die Seun en die Vader.

f heerlikheid – die glans van sy liefdesoffer aan die kruis verduidelik: God is liefde (1 Joh. 4:8,10). Sy heerlikheid is die glans van sy liefde, die glans van God se liefde vir die wêreld, wat sy Seun gegee het, en die glans van die Seun se liefde wat Homself gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kry (Joh. 3:16,36).

g lof – wat met dankbaarheid gesing word vir sy aanvaarding van sy leierstaak uit God se regterhand, en lof omdat Hy alleen daartoe waardig is, bekwaam daarvoor en vertroubaar daarmee.

5:13-14 Die derde lied, die hele skepping sing: eer aan God en die Lam.

Die skepping se vier afdelings word genoem: die hemel, die aarde, onder die aarde, die see – alles daarvan en daarin hef die pryslied aan – op die oomblik is die bose geeste in die lug, onder op die aarde, in die see, en is mense op die aarde nog in opstand teen God, maar die geskiedenis loop aan totdat alles en almal God en die Lam prys (vgl. 1 Kor. 15:23-28). Die inhoud van die lied herhaal van die elemente van al die liedere in hoofstukke 4-5 en word afgesluit met die bevestiging deur die vier verteenwoordigers van die hele skepping se ‘Amen’ en die 24 verteenwoordigers van die Ou en Nuwe Testament se gelowiges wat neerval in aanbidding

In hoofstuk 4 is God aanbid; in hoofstuk 5:11-12 is die Lam geprys, en hier in 5:13-14 word God en die Lam aanbid deur die hele skepping. Daarteen staan hoofstuk 18 met die weeklagte van konings, handelaars en matrose oor die verlore glorie van Babilon. Hoofstukke 4-5 openbaar hoe die kruisgebeurtenis in die verlede die huidige en toekomstige verloop van die geskiedenis bepaal. Van Bo af gesien word mag en sukses beskryf in terme van die beeld van die Lam wat geslag is en nou aan God se regterhand staan. Van onder af gesien word mag en sukses gesien deur Babilon se oorheersing, onderdrukking en selfverheerlikking.

As gelowiges het ons deel aan Christus se oorwinning wat Hy oor die Satan aan die kruis behaal het. Deur ons getuienis met woord, daad en lewenswyse verkondig ons sy oorwinning op elke lewensterrein. Ons is deel van ‘n verbete stryd in die samelewing en in ons eie lewe, maar sing nou reeds oor die uitslag daarvan (vgl. Ef 6:10-18).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...