Die oue weerklink in die nuwe: Moses (1) – Jan van der Watt
Dit is interessant om te sien hoe hierdie ‘gesagvolle posisie’ van Moses gebruik word om die grootheid van Jesus te beklemtoon.
- In Joh 1:17 word daar gesê dat God die wet deur Moses gegee het, maar dat die genade en waarheid deur Jesus gekom het. Daar word nie gesê dat Moses onbelangrik is nie, nee, hy was die instrument in God se hande. Wat wel waar is, is dat Jesus beter is, want die genade en waarheid wat die wêreld sou verander en lewe gee, kom deur Hom. Jesus is dus baie groter as hierdie groot leier van Israel.
- Moses (saam met Elia as een van die ‘groot twee’ uit die geskiedenis van Israel) verskyn op die berg van verheerliking in die teenwoordigheid van Jesus (Mk 9:4 en parallelle). Na die ontmoeting keer Jesus na die gewone wêreld terug met ‘n stem wat uit die hemel kom met die opdrag dat daar na Jesus geluister moet word (Mk 9:7 en parallelle). Daarmee word gesê dat Jesus nou God se boodskapper in die wêreld is. Na Hom moet nou geluister word.
- Dit is heel moontlik dat Matteus impliseer dat Jesus die ‘tweede Moses’ word wat met die Bergpredikasie (Mat 5-8) die nuwe interpretasie van die wet afkondig, soos Moses dit die eerste maal van die berg Sinaï gedoen het. So wys Jesus dus dat ‘n nuwe era in die geskiedenis van die volk van God aangebreek het. Sy boodskap oortref die boodskap van Moses. Immers, in die ‘ou dae voor Jesus’ het mense die wet op een manier verstaan, maar Jesus het vir hulle die regte pad kom wys (Mat 5:18 en verder).
Omdat Moses so met die sentraal belangrike wet verbind word, is dit dus nie snaaks dat hy in sommige gevalle ook sommer as ‘simbool’ vir die hele Joodse volk beskryf word nie. In Hand 6 word daar vertel van die konflik tussen die Jode en die Christene wat uiteindelik op die steniging van Stefanus uitgeloop het (Hand 7). In die konflik kla die Jode Stefanus aan: ‘Ons het hom teen Moses en God hoor laster’ (Hand 6:7). Hier staan die naam Moses vir die Jode met hulle tradisies. Stefanus het teen die Joodse volk (Moses) gedraai en so teen God ook. In Hand 21:21 word Paulus daarvan beskuldig dat hy die heidene aanmoedig om ‘van Moses’ af weg te draai, met ander woorde, om nie die Joodse gebruike te volg nie (‘wet van’ is hier in die vertaling ingesit en staan nie in die Grieks nie).
Uitdrukkings soos ‘die wet van Moses’ (Rom 5:13) kom baie in die Nuwe Testament voor. Omdat die Jode die wet gebruik het om te bepaal of iemand sonde gedoen het, het mense gewonder of daar sonde voor die wet was, en hoe het mense dit geweet. In Rom 5:12-14 sê Paulus dat sonde en die resultaat, die dood, eintlik al daar was sedert Adam; dit het nie met die wet eers begin nie.
In 2 Kor 3:7-18 vergelyk Paulus wat Moses gedoen het met dit wat die Gees doen, met ander woorde, wat die Israeliete gehad het met wat die Christene nou het – hy noem die era van Moses ‘die bediening wat tot die dood lei’, terwyl die era waarvan hy deel is, ‘die bediening is wat deur die Gees geskied’ (2 Kor 3:7-8; sien ook Eks 34:29-35). Nou sê hy juis nie dat wat Moses (die Israeliete) gehad het sleg was nie. Inteendeel, Moses het van heerlikheid gestraal nadat hy in die teenwoordigheid van God was. Hy skryf (2 Kor 3:7-8): ‘Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie?’. Dit is juis die punt – wat die gelowiges vandag het, is soveel groter as wat Moses gehad het, want wat Moses gehad het, het gou verdwyn. Wat die gelowiges nou het, is onoortreflik en permanent: ‘Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie. As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter’ (2 Kor 3:10-11). Dit moet die gelowiges laat moed hou en besef wat hulle het, of soos Paulus dit stel: ‘Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op’ (2 Kor 3:12). Wat Moses gehad het, was nie sleg nie, maar wat die Christene het is net veel beter. Johannes sluit op sy eie manier by die gedagte aan as hy sê: ‘God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom’ (Joh 1:17). Die wet kom wel van God af en het wel op sy manier ‘n rol gespeel, maar wat Jesus gebring het is soveel beter. Deur Jesus leer ons nie wette ken nie, maar genade en waarheid.
Volgende keer kyk ons verder na Moses.