Die pad van wysheid (3)

image_pdfimage_print

 

Three ways to make Jesus your king: trust him, obey him, and expect great things from him – Tim Keller

 

Die pad van wysheid (3)

In die vorige blog het ons na enkele aspekte van wysheid gekyk. Ons kyk na verdere aspekte van wysheid.

 

  1. Wysheid gaan oor strategieë om die doelwitte te bereik

Spreuke vertel vir ons hoe om die slaggate van die lewe te vermy. Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van die pad af (10:17). Die wyse man is gewillig om raad te aanvaar. Die dwaas, daarenteen, loop nie in God se wysheid nie en aanvaar nie raad nie. In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het luister na raad (12:15); Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word, sodat jy uiteindelik wysheid kan hê (19:20).

 

  1. Wysheid gaan oor verhoudings

Ons moet altyd die beste vir ander soek. Liefde, geregtigheid en trou is die maatstawe vir ons handelinge met ander. Ons het praktiese wysheid nodig om ons in hierdie deugde te lei. Wie sy naaste verag, doen sonde; wie medelye het met die mens in nood, met hom gaan dit goed (14:21); As iemand wat jou haat, honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Die Here sal jou daarvoor vergoed, en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word (25:21 – 22). Liefde vir die naaste, al tree hy nie liefdevol op nie, is die kenmerk van ‘n wyse man. Die selfgesentreerde persoon is ‘n dwaas.

 

  1. Wysheid gaan oor selfbeheer

In Galasiërs 5:23 is selfbeheersing ‘n vrug van die Gees. Sonder  selfbeheer is die mens baie kwesbaar: ‘n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie (Spreuke 25:28). Die Spreuke-skrywer verwys baie na ‘n gebrek aan selfbeheersing. Twee voorbeelde is: Wie kort van draad is, begaan dwaashede (14:17);  ‘n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon (14:29). ‘n Gebrek aan selfbeheer is ‘n resep vir mislukking.

 

  1. Wysheid gaan oor nederigheid.

Ons kan nederigheid op twee maniere sien: jy aanvaar die dinge wat jy nie kan verander nie en jy aanvaar regstelling in jou lewe – dinge wat jy moet verander. ‘n Goue ring, goue juwele, so is die wyse vermaning vir wie wil luister (25:12). Die wyse man luister na ‘n teregwysing en is dankbaar daarvoor. Wie op ‘n teregwysing ag slaan, sal lewe en ‘n tuiste vind tussen mense wat wysheid het (15:31).

 

Jesus kom na die wêreld as die volmaakte wysheid. Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing (1 Korintiërs 1:30); Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind (Kolossense 2:2 – 3). Die lewe van wysheid waartoe ons geroep is, is ‘n lewe om meer sood Christus te wees. Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van  nederigheid en wysheid getuig (Jakobus 3:13).

 

‘n Lewe van wysheid erken dat God weet wat Hy doen en dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak (Jakobus 3:17 – 18).

 

image_pdfimage_print