Dissipelskap: Die hart van ‘n dissipelmaker

image_pdfimage_print

Heaven will pay for any loss we may suffer to gain it; but nothing can pay for the loss of heaven. –Richard Baxter

 Dissipelskap: Die hart van ‘n dissipelmaker

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

 Hoekom wil ons nou juis dissipels maak? Doen ons dit vir die verkeerde motiewe kan ons meer skade as goed doen. God sê herhaaldelik dat Hy meer vir die mens se hart omgee as vir uitwendige dinge.

As Hy oor uitwendige dinge bekommerd was, sou die Fariseërs geloofshelde gewees het. Maar luister wat sê Jesus vir die Fariseërs: Hierdie volk eer my met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie (Matteus 15:8 – 9). Wat is dan vir God belangrik? Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike (1 Samuel 16:7). God wil hê dat ons sekere dinge moet doen, maar die rede waarom ons dit doen is belangrik.

 God wil hê dat ons met blydskap moet dien – om Hom te dien, moet nie ‘n verpligting wees nie. God wil hê dat ons die voorreg en vreugde om ander te dien, moet ondervind. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief (2 Korintiërs 9:7)

 Ons moet altyd onthou dat ons ander mense van die Bybel en hoe hulle  ‘n goddelike lewe kan uitleef, moet leer. Hierin is die rol van die leermeester baie belangrik. As ons ander leer as gevolg van die prestige wat daarmee gepaard gaan, moet ons weer dink. In 1 Korintiërs 13 maak Paulus dit baie duidelik dat kennis sonder liefde nutteloos is. As ons ander dien, moet liefde altyd op die voorgrond staan. Is jy bekommerd oor wat mense van jou dink of soek jy geleenthede om lief te hê en te dien? Liefdelose mense sien ander as ‘n manier om hulle eie doel te bereik.

 Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat ‘n mens behoort te hê nie. Maar as iemand God liefhet, ken God hom (1 Korintiërs 8:1 – 3). Dit gaan duidelik nie oor wat jy weet, of dink jy weet, nie, maar oor liefde. As ons nie bereid is om ons liefde vir God en ons naaste ons hoogste prioriteit te maak nie … stop. Wie nie liefhet nie, bly in die dood (1 Johannes 3:14).

 Om dissipels te maak, beteken nie om mense bymekaar te maak om na jou te luister nie. Die doel is om getrou te wees aan God se oproep om ander mense lief te hê. As ek hulle genoeg liefhet, sal ek hulle help, maar ook hulle behoefte aan liefde raaksien. Ons moet hulle by die Verlosser bring en Hy sal hulle van die mag van sonde en die dood vrymaak.

 Vraag: Hoeveel gee jy om vir die mense om jou? Wees eerlik – ook oor jou motiewe. Volgende keer gaan ons na die belang van ons voorbeeld kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...