Dit voel vir my of God ver weg is

image_pdfimage_print

 

‘n Priester sê vir Karl Barth dat hy sy geloof verloor het. Barth se reaksie: But what on earth gave you the impression that it was yours to lose?

 

Dit voel vir my of God ver weg is

Dit is maklik om weg te dryf van jou geloof. Sonde, omstandighede, ‘n tragedie en die alledaagse lewe kan die vuur van jou geloof blus. Die goeie nuus is dat God se liefde vir jou steeds onveranderd is. Wat kan ons doen as ons voel God is ver weg van ons?

 

  1. Lees die Bybel soos nooit vantevore nie

Voor jy begin lees, word eers stil en raak ontslae van alle vooropgestelde idees. Moenie sekere dele oorslaan, want jy weet in ieder geval wat daar staan nie en jy het dit al baie keer in die verlede gelees. God leer vir ons dikwels iets nuut en vars in ‘n ou bekende gedeelte. God se woord is lewend, aktief en kragtig. God se woord verander nooit nie. Wat wel verander is die manier waarop ek dit ondervind.

 

  1. Tree op na aanleiding van wat jy gelees het

Moenie net God se woord lees nie – doen dit. As ons God se beloftes vertrou, kom ons naby aan Hom en vertrou Hom. Ons het nou die geleentheid om toe te laat dat die Heilige Gees op wonderlike maniere deur ons te werk. Dan moet ons gereed wees om op te tree. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself (Jakobus 1:22)

 

  1. Dien ander

Dit is nie altyd maklik of natuurlik nie, maar om ander te dien is ‘n prioriteit vir elke gelowige. As ek my naaste dien fokus ek nie meer op myself nie, maar op ander. Soos Jesus Christus geleef het om ander te dien, moet ons ook doen. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense (Matteus 20:28).

 

  1. Leef saam met ander gelowiges

Ons is nie gemaak om alleen te leef nie. As jy gaan probeer om deur die lewe te gaan sonder ander gelowige vriende beperk jy jou geloof. God het aan ons die geloofsgemeenskap gegee waar ons bemoedig word – en aan God se goedheid en grootheid herinner word. Laat ons dan na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom (Hebreërs 10:24 – 25).

 

  1. Vra vrae

Dit is nie verkeerd om vrae te vra nie. Ons doen dit in elke verhouding wat groei. Jy moenie voel jy is verkeerd as jy erken dat jy nie alles van God weet wat jy moet nie. Sy weë is ver bo ons s’n. As jy vrae het waarop jy nie die antwoorde het nie, vra vir God en vir ander mense. Ons sal nie alle omstandighede verstaan nie, maar God belowe aan ons sy teenwoordigheid onder alle omstandighede. Moet my tog nie verstoot en verlaat nie, want U alleen is die God wat my red (Psalm 27:9).

 

Ons moet fokus, nie op hoe ver ons geval het nie, maar op hoe ver God bereid is om na ons uit te reik.

 

image_pdfimage_print