Draai briek aan

image_pdfimage_print

God increases our yield so that by giving we can prove our yield is not our god. —John Piper

 

Draai briek aan

Jeff Goins (Wrecked: When a Broken World Slams Into Your Comfortable Life) sê dat soos die wêreld vinniger beweeg, moet ons doelbewus briek aandraai. Die lewe is te besig, te lawaaierig en te ingewikkeld  om die hele tyd volspoed te hardloop. Soms moet ons soos Jack Nicholson vra: Is this as good as it gets?

 

 

Hoe kan ons te midde van hierdie besig wees leef? Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding (2 Korintiërs 6:2). Ons moet in die teenswoordige leef. Maar hoe doen ons dit?

  • Gaan stap. C. S. Lewis het elke dag gaan stap – hy het geglo daar is iets geestelik aan stap. Maar dan moet jy stadig genoeg loop om te sien dat die blare hulle kleur verander en hoor dat die voëltjies sing. Jou spanning en angs verminder as jy raaksien wat reeds daar is. Dit voel asof God nader aan jou is – miskien is Hy.
  • Lees boeke. Ons hou van die digitale media en al die e-lesers. Maar ‘n ander deel van jou brein en gees word geaktiveer as jy ‘n boek lees. Jy absorbeer nie net die inhoud nie – jy ondervind dit. Tel maar weer jou Bybel op en lees dit.
  • Eet stadig. Ons eet vinnig, want daar is iets wat wag om gedoen te word. Ons het heeltemal vergeet dat kos daar is om te geniet. Geen wonder die Bybel praat dikwels van feeste, kos en wyn nie. Eet en wees opreg dankbaar vir dit wat jy eet.
  • Luister beter. As jy weer saam met ‘n vriend ‘n koffietjie (uit ‘n groot beker) drink, doen iets anders: kyk in sy oë, maak jou ore oop en gee aandag. Moenie net daar sit en wag totdat dit jou beurt is om te praat nie. Die lewe is vol onderbrekings. Die gevolg is ons begin dink dat geen boodskap so belangrik is as die een wat ons het nie. Ons vermoë om vir lang tye aandag te gee, is swak. Ons gaan soms deur ‘n hele gesprek sonder om te luister. Wat gebeur as die ander persoon dieselfde doen? Een van die belangrikste komponente van ons sosiale struktuur is die vermoë om met ander op ‘n persoonlike vlak te verbind en met hulle te deel. Vandag is dit ‘n formaliteit. Ons loop weg van daardie gesprekke … onveranderd. Kyk na Jesus – Hy het geluister. Hy het na die Samaritaanse vrou by die fontein geluister; Hy het na sy twaalf dissipels geluister; Hy het na die misdadiger aan die kruis geluister. Ons leer wat regtig die moeite werd is om te sê as ons leer hoe om te luister.
  • Skeduleer tyd vir stilte. Om te sit en “onproduktief” te wees, is moeilik Om die selfoon en skootrekenaar weg te sit, is nie so maklik nie – dit is immers al deel van ons lewens. Ons hou nie van stilte nie – dit maak ons senuweeagtig. Gebruik die tyd om na te dink en te bid – net jy en jou gedagtes sonder enige tegnologie. Tussen die Ou en Nuwe Testamente was daar 400 jaar van stilte. Was God afwesig?  Nee. God was besig om sy mense vir iets ongeloofliks voor te berei.

 

As ons stadiger gaan en die stilte waardeer, sluit ons by God aan in die proses om alles nuut te maak – ook onsself.

 

image_pdfimage_print