Egskeiding

image_pdfimage_print

Egskeiding – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Môre, ek is geskei agv egbreuk deur my eks-man gepleeg. Ek het hom geskei. Dit was vir baie moeilik om te aanvaar dat ek my belofte wat ek afgelê het op my troudag verbreek het. Ek het gelees en nageslaan waar ek kon wat my te doen staan. Ek is ook onseker of ek ooit mag trou in die toekoms? Mense vertel my dan ook dat die egskeiding nie plaasgevind het in die oë van die Here nie, omdat wat saamgevoeg is mag nooit geskei word nie. Help my asb om duidelikheid te kry hieroor. Waardeer, Dankbaar.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Egskeiding en die pad na genesing

ʼn Egskeiding en die vernietigende pyn wat dit voorafgaan is een van die mees traumatiese ervaringe waardeur ʼn mens kan gaan. Sommiges beskryf dit op emosionele vlak as synde dat dit soos die ervaring van dood voel. In ʼn sekere sin gaan ʼn deel van ʼn mens dood as jy deur ʼn egskeiding gaan. Aan die ander kant staan die belofte van die geboorte van ʼn nuwe mens wat deur God se Gees vernuwe kan word en nuut anderkant uitkom. In sy boek  Ek is Geskei: Tel So die Stukke Weer Op, skryf Guillaume Smit dat baie geskeide persone met ʼn vernietigende en geknakte selfbeeld sit en dikwels met kinders wat die littekens daarvan dra. Dit is dikwels die werklikheid waarmee die geskeide persoon gekonfronteer word, skryf Smit, en waarin jy jou emosionele voete moet vind nadat jy in die dampkring van seer ingeval het.  Baie mense ervaar verder ook nog die geestelike skuldgevoelens van verbreekte beloftes wat voor God en mense gemaak is. Die vriende en familie van die geskeide maak dit ook nie altyd makliker nie, veral as hulle vir jou vertel dat dit wat God eenmaal bymekaar gevoeg het eintlik nooit weer geskei kan word nie en dat jy nooit weer mag trou as jy geskei het nie omdat jy owerspel sal pleeg as jy weer trou of in ʼn verhouding is. Is dit regtig hoe die Bybel daaroor dink?

Myns insiens is daar hoop ná egskeiding, gebrokenheid en seer. God is by uitstek die God wat spesialiseer in vergifnis, genesing, restourasie en nuwe hoop!

In ʼn vorige artikel het ek alreeds iets hieroor geskryf en sluit by die artikel aan:

Kan ʼn Christen wat geskei het weer trou?

Indien ons die vraag wil beantwoord of ʼn Christen wat geskei het weer kan trou, moet ons die vraag eers so paar stappe terugvat in die proses, deur daaroor te besin deur die bril van lewenslange getrouheid. Indien getrouheid en lewenslange trou ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees, gaan mens heeltemal anders met jou verhoudingslewe om as wat iemand daarmee sal omgaan vir wie hierdie waarde nie belangrik is nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy keer op keer sal óór begin, dat jy as huweliksmaat aan jouself en jou karakter sal werk sodat jou huwelik kan groei en nie skipbreuk sal lei nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy ander keuses maak as dit kom by die hou van gesonde grense met iemand by die werk of by sosiale geleenthede. Indien mens van die begin van jou huwelik al die saak uitmaak dat jy NIE gaan skei nie, en dat daar nie vir jou ʼn ander opsie IS nie, dan gaan jy anders omgaan met die uitdagings, pyn en teleurstelling wat mens in ʼn huwelik beleef. Omdat God die sentrum van jou lewe is en jy Sy wysheid soek, sal Hy jou in elke seisoen van jou verhoudingslewe op ʼn opwindende karakter-reis van groei en verdieping neem.

Soms gebeur dit egter dat ʼn verhouding eindig, en dat ʼn egskeiding onafwendbaar is. Vat maar net die man wat sy kinders molesteer en jare lank drink en sy vrou emosionele en fisiese geweld aandoen. In sommige gevalle is ʼn egskeiding die weg tot genesing.

Hou die Bybelse konteks in gedagte

Ons moet versigtig wees om die Bybelse teksgedeeltes wat oor egskeiding handel te maklik op ons eie situasie en konteks toe te pas. Die Bybelse tekste verteenwoordig ʼn lang groeiproses en daar was ook bepaalde dinge wat in daardie konteks rondom die dimensie van egskeiding plaasgevind het. Ons lees byvoorbeeld in Matteus 19:9 dat Jesus egskeiding verbied. Hierdie gedeelte in Matteus moet egter in die regte konteks verstaan word en die agtergrond daarvan moet eers belig word. Hier in Matteus 19 vra die Fariseërs vir Jesus ʼn strikvraag om hom uit te daag. Hulle wil weet of dit ʼn man geoorloof is om vanweë allerlei redes van sy vrou te skei?  Die teks waarna die Fariseërs verwys, verwys na ʼn konteks in die geskiedenis van Israel wat lank van te vore ter sprake was. Uit ons navorsing wil dit voorkom dat in die tyd van Jesus, die antieke Mediterreense kultuur grootliks ʼn paternalistiese sisteem was. Dit beteken dat die pa die onbetwisbare hoof van die huis was. Mans in die Grieks-Romeinse wêreld kon selfs so ver gaan as om te besluit of hulle hulle kind se lewe sal spaar of nie. Ons weet van gevalle waar mans aan hulle swanger vrouens skryf dat indien hulle geboorte gee aan ʼn dogter dan moet hulle ontslae raak van die kind, maar as dit ʼn seuntjie is kan hulle die kind maar hou. Dit het dikwels gebeur dat babas op die ashope gegooi is. Die pa het dus die mag oor lewe en dood gehad in die antieke tyd. Verder was die pa die hoof van die huis en die res van die gesin moes maar volgens sy pype dans. Dit wil verder uit ons navorsing voorkom dat baie mans vrouens beskou het as synde nie veel meer as ʼn stuk vleis nie. Hulle kon ook baie maklik van ʼn vrou skei deur eenvoudig vir die vrou ʼn skeibrief te gee as sy die kos een keer te veel gebrand het. Vrouens het baie min regte in ʼn paternalistiese sisteem gehad en so is vrouens eintlik in ʼn baie brose posisie gelaat. Dit is teen hierdie agtergrond wat Jesus se uitspraak dan verstaan moet word. Jesus se uitspraak is dus ook ʼn sterk reaksie teen die uitbuiting van die vrou en die absolute, soms onregverdige optrede aan die kant van mans. Jesus se reaksie op die vraag van die Fariseërs slaan die hamer reguit op die spyker en dring deur tot op die kern van die saak: Dit wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Hier maak Jesus dus ʼn baie sterk stelling wat reguit ingaan teen die algemene kultuur van sy dag. Die Fariseërs het vinnig hierop gereageer en voor al die getuies roep hulle hulle op die gebruik wat volgens hulle terug gaan na die groot leier  van Israel, naamlik Moses. Moses het volgens hulle die ruimte geskep om gewoon ʼn skeibrief te gee aan jou vrou en van haar te skei (vgl. Matteus 19:7). As Moses dit gesê het, en geoorloof het, wie is Jesus dan om te stry, was hulle grootste verweer. Jesus het onmiddellik daarop gereageer en die bal weer terug in die hande van die Fariseërs gegooi en hulle skynheilige karakters blootgestel deur te argumenteer dat Moses wel die ruimte gelaat het vir skeibriewe, maar dit gedoen het as gevolg van die hardheid en koudheid van hulle harte. Dit was egter nie van die begin af deel van God se hart of plan vir die mens nie. Jesus kom gee hulle dan ʼn nuwe siening, wat nie teruggaan na Moses nie, maar teruggaan na God se oorspronklike plan, en in sy betoog haal Jesus ʼn teks uit Genesis aan en argumenteer dat ʼn man sy vader en moeder sal verlaat en saam met sy vrou as een vlees/wese/mens leef.  Jesus sê verder dat die implikasie daarvan is dat die wat skei, teen die wil van God optree en niks minder as die sewende gebod oortree nie, naamlik dat mens nie mag egbreuk pleeg nie (Kyk ook Lukas 16:18, Markus 10:12 en Matteus 5:31, 32). Jesus het dus die ganse paternalistiese sisteem op sy kop geswaai en gewys dat verhoudings, integriteit, karakter en innerlike oriëntasie, radikale self-opofferende liefde, barmhartigheid en diens die belangrikste is.

Terug na ons tyd vandag. Kan ʼn Christen wat geskei het weer trou? Miskien is die vraag nie óf en hoe vinnig ʼn Christen wat geskei is weer kan trou nie maar in hoe verre ʼn Christen kan wys dat opregte verhoudings en trou wat in God gewortel is, kan hou! Miskien trou en skei ons heeltemal te vinnig vandag. ʼn Vriend van my wat ʼn prokureur is en egskeidings hanteer is vandag skatryk omdat soveel mense skei, sommiges selfs na ʼn paar maande se getroude lewe. Ek wonder of mens regtig al die huwelik of mekaar ʼn kans gegee het na so ʼn kort tyd. Tog is daar regtig ook situasies waar ʼn egskeiding onafwendbaar is en dikwels die weg tot genesing is.

In Jesus se hantering van die Samaritaanse vrou wat al meer as 5 mans gehad het in Johannes 4 en die vrou wat op ontug betrap is in Johannes 8 sien ons Jesus se radikale hart. Jesus skep tweede kanse en gee lewe. Terwyl ek glo dat lewenslange trou en liefde die reël is, glo ek ook dat God vir ons tweede kanse kan skep en ons mislukkings in verhale van hoop en genesing kan verander. Indien ons opreg in ons verhouding met Hom leef en ons weer trou na ons geskei het, sal Hy ook vir ons die geskenk van vergifnis en nuwe lewe gee. Ek ken mense wat ʼn tweede keer getroud is en wat God in hulle verhouding ten volle eer en wat Hom al meer in die nuwe verhouding ontdek.

Opgesom: God se wil is dat man en vrou in ʼn liefdevolle verhouding van trou leef wat Hom in die sentrum stel. God se hart klop nie vir egskeiding nie, maar vir liefdevolle trou. Soms is egskeiding onafwendbaar. In sulke gevalle kan God weer tweede kanse skep, maar dit moet eerder die laaste uitweg wees. Die groot vraag is watter lesse het ek geleer in my seer. Seer is dikwels die dampkring waarin ek geestelike goud ontdek. Die uitdaging is om te groei in ons karakter en menswees en in die proses nader te kom aan die mens wat God in gedagte het. Moet nie te vinnig in ʼn nuwe verhouding spring nie. Word heel en word in die eerste plek heel by God. Ontdek jou menswees en identiteit in God en laat God die basis wees van jou menswees, die bron van jou hoop, verwagting en vrede. In die proses sal God ook op die regte tyd die regte persoon oor jou pad bring. Maak dan seker dat God die sentrum van julle verhouding is en dat julle liefde nie net gebaseer is op wêreldse aantrekkingskragte nie – aangesien dit nie altyd hou nie. Die geestelike hou altyd en groei ook elke dag sterker. ʼn Geestelike verhouding met God as sentrum, skep die ruimte waarbinne twee mense al nader aan mekaar kan groei soos wat hulle nader aan God groei.

Lees gerus die volgende boeke:

Thomas, G., 2000, Sacred Marriage. What if God designed Marriage to make us Holy, more than to make us Happy? Zondervan uitgewers.

Guillaume Smit , Ek is Geskei: Tel So Die Stukke Weer Op: wat bestel kan word by:

http://www.kalahari.net/christian/Ek-is-geskei/35687/30209707.aspx

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 

image_pdfimage_print

You may also like...