Vryheid (3)

image_pdfimage_print

 

The Bible exhorts us to weep with those who weep. It doesn’t tell us to judge whether they should be weeping. —H.B. Charles Jr.

 

Vryheid (3)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Die moderne wêreld sien godsdiens as die vyand van vryheid. In plaas daarvan dat godsdiens en tradisies vir ons voorskryf, glo ons ons moet vry wees om te glo en te leef soos ons wil. Maar almal van ons aanbid iets of iemand. Daar is geen vryheid sonder beperkings nie. As daar geen God is nie, moet jy een of ander geskape ding aanbid.

 

Dit beteken geensins dat God nie beperkings op ons plaas nie. Hy vertel vir ons wat ons mag en nie mag doen nie. Christene aanvaar hierdie beperkings. Ons is gemaak om God te ken, te dien en lief te hê. As ons besef hoe Jesus ons verlos het met groot koste aan Homself, hoe Hy Hom van sy heerlikheid leegemaak het om ons te dien, maak dit dat ons Hom wil ken, dien en gehoorsaam. Jakobus 1:25 verwys na God se volmaakte wet wat ‘n mens vry maak. Christene sien die wil van God nie as ‘n las wat ons beperk nie, maar as dit wat Hom bly maak – waardeur ons Hom tevrede stel

 

As ons sy wil doen, word ons ook wie Hy ons geskep het om te wees. Die opdragte kom van ons Skepper. As ek sy wil verbreek, is dit teen ons wese en daarom verloor ons ons vryheid. Christus is ons Maker en Verlosser. Hy roep ons net om daardie dinge waarvoor Hy ons gemaak het, te doen. Hy sê dat Hy die las om Hom te volg op ons gelê het, maar Hy het reeds die prys betaal. Hy het die las om ons eie verlossing te verdien weggeneem; Hy het die las van skuldgevoelens oor mislukkings in die verlede weggeneem.

 

Jesus is die enigste meester vir wie ons kan leef sonder dat Hy ons sal uitbuit. Die Christelike geloof is die enigste godsdiens wat daarop aanspraak maak dat God sy vryheid opgegee het, sodat ons dié vryheid kan beleef – vryheid van die goddeloosheid en die dood self. Ons kan Hom vertrou

Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees (Johannes 8:36).

 

image_pdfimage_print