Ek cope nie meer nie: Breek die bose spiraal – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Hierdie spiraal moet gebreek word, anders sluk dit ’n mens net dieper en dieper in. Om die spiraal te breek moet ’n mens gemotiveerd wees om dit te wil doen. Dit help nie om te maak soos die ou wat die sielkundige gaan sien nie. Hy kla dat hy elke aand droom hy speel krieket, maar hy is elke keer vir ’n nul uit. Hy sê hy kan sy swak spel nie meer vat nie.

Die dokter sê toe vir hom dat hy positief moet begin dink voor hy gaan slaap. Hy moet aan ander dinge dink wat vir hom lekker is.

“Wat,” sê die ou vir die dokter, “en my kolfbeurt mis?” Hy wou nie regtig iets aan sy probleem doen nie. So vorder ’n mens nie. Maar jy kan vorder as jy wil. Jy moet bewustelik jou negatiwiteit ontkom deur werk daarvan te maak. Daar is verskillende maniere om dit te doen. Hier is so ’n paar:

  • Toets jouself. Skryf alles neer wat jy vir jouself vertel verkeerd kan loop. Kyk hoeveel van jou doemprofesieë word regtig waar. Jy sal verbaas wees hoe ’n swak profeet jy regtig is. As jy die hele tyd verwag dat iets iewers verkeerd gaan loop, moet jy nie verbaas wees as dit tog eendag gebeur nie. Dinge loop soms verkeerd. Maar dit hang alles af van hoe jy met jouself gesels oor hierdie ding wat verkeerd geloop het.

Hier moet ons ’n bietjie stilstaan by die manier hoe gebeure ons selfgesprek beïnvloed. Dit werk amper soos ’n storie. As jy na ’n vakansie by die huis kom en jy vertel vir jou buurvrou hoe die vakansie was, vertel jy haar nie elke stukkie detail wat gebeur het nie. Jy begin nie met ’n minuut-vir-minuut- weer­gawe van hoe julle gepak het, die motor aangeskakel het en weggery het nie. Nee, jy vertel vir haar die dinge wat vir jóú interessant en belangrik was: die weer was lekker en ons het vir so en so op die strand gesien. Jý kies dus waarop jy wil kon­­sentreer en dit word jou storie van die vakansie. As jy ’n klomp lekker dinge uitkies om te vertel, sal die storie van jou vakansie lekker klink en sal jy ook sê die vakansie was lekker. Kies jy ’n klomp slegte dinge uit (byvoorbeeld, dit het een dag ge­reën of die kar wou nie aan die gang kom toe ons wou gaan uiteet nie), sal jou vakansie vir jou sleg klink en sommer sleg gewees het ook. Die feit is dus: ons kies wat ons uit elke gebeurtenis wil onthou. Dit wat ons kies om te onthou word ons belewenis en “storie” van daardie gebeurtenis. Jy moet dus mooi kyk na hoe jy dinge beleef wat met jou gebeur. Wat kies jy uit? As jy gaan piekniek hou: Waaroor praat jy daarna? Praat jy oor hoe lekker dit was om saam met die familie uit te gaan of kla jy oor die miere wat in die poeding gekom het en goggas wat jou gepla het? Jy kan dus jou eie storie maak en so kies hoe jy oor die piekniek wil voel. Daar sal altyd lekker en slegte dinge wees om uit te kies.

Deur so ’n biet­jie op jouself te let sal jy gou agterkom waar jy staan. Werk daar­aan om bewustelik beter en positiewer keuses te maak. Jou selfgesprek sal geleidelik daarby aanpas. Moenie net altyd kyk wat verkeerd kan loop en dit dan opblaas asof dit al is wat gebeur het nie. Een swaeltjie maak nie ’n so-mer nie. Kyk ook wat reg geloop het en wat jy gewoonlik sommer as vanselfsprekend aanvaar. Tel jou seëninge en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk. As jy begin sien dat die dinge wat verkeerd loop maar ’n druppeltjie in die emmer is, sal jou geloof dat jou negatiewe profesieë altyd bewaarheid word, begin wankel, en die negatiewe siklus sal stadig maar seker uitmekaar begin val.

  • Ken jouself. Jy is die waarmaker van jou eie vrese en drome. As jy dink dinge gaan verkeerd loop, gebeur dit gewoonlik. As jy egter positief dink en jouself positief motiveer, sal jou prentjie baie rooskleuriger lyk. Daar is ’n opname gemaak onder inge­nieurs om te probeer vasstel wie die kreatiefste is. Die bevin-ding was dat dit nie die slimstes was nie, maar daardie persone wat gegló het dat hulle kreatief is en kan wees. Hulle drome het vir hulle werklikheid geword.

So moet jy jouself leer ken, jou eie drome begin droom en besluit om daardie drome waar te maak. Dit sal ’n groot verskil in jou lewe maak. Dit sal maak dat jy nie meer soek vir wat alles verkeerd kan loop nie. Jy sal te besig wees om planne te maak om jou drome te verwesenlik.

Op avontuurkampe sien ’n mens duidelik hoe so iets werk. Daar’s mos gewoonlik een of ander rivier of moddergat of so iets waaroor ’n mens met ’n tou moet kom. Daar is natuurlik twee moontlikhede: of jy land in die water of jy kom droog ander­kant uit. As jy die “kandidate” dophou, kan jy sommer vooraf sien wie dit gaan maak en wie nie (met miskien so       5-10%-moontlikheid vir ’n fout). Dié ouens wat met ’n “ge-oe” en “ge-aah” en groot oë kyk, land gewoonlik in die water. Dan sê ons hulle het nie selfvertroue nie.

Wat ons eintlik sê, is dat hulle hulleself met hulle selfgesprek so bang gepraat het, dat hulle eintlik vooraf besluit het hulle kan dit nie maak nie. Al wat gebeur het, is dat hulle hulle eie drome waar gemaak het.

Dan is daar gewoonlik ook die groep wat gedetermineerd die tou bekyk en hulle tegnieke voor die tyd oefen. Hulle wil oorkom, en gáán gewoonlik ook oorkom.

Ons sien baie keer atlete konsentreer ernstig voor hulle oor die hoogspringlat seil. Dit lyk of hulle presies in hulle kop laat gebeur wat eintlik netnou regtig moet gebeur. Weten­skaplike toetse het bewys dat dit inderdaad die geval is. Jy kan hoër spring omdat jy dink en vir jouself sê dat jy hoër kan spring. Daarom word rekords gedurig verbeter. As die ander ou dit kan doen, kan ek ook. Dit beteken natuurlik nie dat al-mal rekords in hoogspring kan opstel net omdat hulle so dink nie. Daar kom darem ander dinge ook by. As jy egter die talent het, kan die manier waarop jy oor jouself dink jou help om nog beter te doen. As jy Doemprofeet is en voel dat jy die “profetiese roeping” vaarwel wil toewens, gaan dit beteken dat jy jou gewete op ’n ander manier fiks sal moet hou. Jy sal dit nie meer fiks hoef te hou met al jou bekommernisse nie, maar met die positiewe gedagtes. Dit verg oefening. As jy agter-kom jy dink negatief oor iets wat jy moet doen, probeer dadelik positiewe redes soek waarom jy daardie betrokke ding moet doen. Gaan doen dit en leef so jou vrese dood. Dan breek jy nie alleen die spiraal by die punt af waar jy net altyd die ver-keerde dinge soek nie, maar ook waar jy bang begin raak om te gaan leef.

  • Ken jou helpers. As jy regtig ernstig is om daardie siklus van negatiewe denke te breek, moet jy steun op die mense wat die naaste aan jou is. Vra vir hulle om jou te help, want hulle is die mense wat jou negatiewe gedagtes moet aanhoor. Kry vir julle een of ander simboliese teken (’n gesigtrek, ’n boete of wat ook al) om die persoon wat van die negatiewe gedagtes ontslae wil raak te beloon of te “straf”. Dit moet nie te ernstig word dat julle later baklei nie; doen dit speels en ge­-niet dit. Vra die mense rondom jou om op ’n mooi manier vir jou te help om jou selfgesprek positief te maak. Vra hulle om jou net ’n teken te gee as jy begin negatief raak, sodat jy dit kan regstel.

So, stadig maar seker sal die gety swaai en sal die positiewe winde van verandering begin waai. Dit sal jou lewe skoon waai sodat daar weer plek is vir die skoon lug van die genot van die lewe. Jy sal dan sien dat jy skielik die gevoel van nie cope nie begin verloor. Skielik sal die wêreld met sy uitdagings en genot vir jou begin oopgaan. Jy gaan anders voel, want jy dink an­ders.

Die geheim om die negatiewe gedagtes met positiewe gedagtes te vervang bly steeds: doen dit bewustelik; doen dit bepland; doen dit doelgerig.

 Ou Skeidsregter, dis ek

’n Fout sal ek kry, dis verseker

Iemand het eenmaal gesê: “My vrou is bly ek is nie perfek nie. Sy hou daarvan om fout te vind.” Daar is oorkritiese mense wat met alles fout vind. Hulle kop werk eenvoudig so. Hulle is soos skeidsregters. Al wanneer jy gewoonlik van ’n skeids­regter hoor, is as daar iets verkeerd is en al waarna hy soek, is foute. So kry jy mense wat dink hulle taak in hierdie wêreld is om met alles fout te vind en te kritiseer. Hulle is ge­durig besig om te beoordeel en te evalueer. Op die geringste fout sak hulle toe soos ’n klomp tieners op ’n bak roomys, en hul­le kritiek hou nie op voordat elke druppel afgelek is nie. Dis die tipe mens wat met die viering van hulle vyf en twintigste huweliks-herdenking met geboë hoof vir ’n minuut stilte sal vra. Alles is altyd verkeerd, vra maar net vir hierdie persoon: hy sal vir jou iets kan wys wat verkeerd is. Gee die persoon vir jou ’n kolle-tjies- en ’n gestreepte das vir Kersfees en jy sit die kolletjiesdas vir die Kersdiens aan, wil die persoon dadelik weet of jy nie van die strepiesdas hou nie. Nie die positiewe nie, maar die negatiewe staan altyd voor in die ry.

’n Ander se sukses is my neerlaag

Hoewel ’n mens nie heeltemal kan veralgemeen nie, is sulke mense gewoonlik maar onseker van hulleself. As jy by hulle selfgesprek kan gaan insit, sal jy hoor dat die eerste ding wat hulle gewoonlik doen as hulle iets hoor of as iets met hulle ge-beur, is om te vergelyk. Hulle is so bang iemand is dalk beter as hulle. Daarom vergelyk hulle die hele tyd, en bewaar die persoon wat beter is, want as ander beter is as hulle, gaan dit hulle slegter laat lyk.

Die lewe is vir hierdie mense net nie meer eenvoudig nie. Hulle kan die lewe nie sommer net meer geniet vir wat dit is nie. Die lewe word vir hulle een groot stryd (of wedstryd) waarin hulle die hele tyd net moet keer dat hulle nie verloor nie. Dit is of hulle ’n figuurlike liniaal in hulle kop saamdra wat so lank is soos hulle eie vermoëns. As hulle iets van iemand hoor, meet hulle dit met daardie liniaal en alles wat langer is as hulle liniaal probeer hulle met die kritiek van ’n skerp tong afsny. Om te voel dat hulleself iets is moet hulle ander mense met hulle kritiek tot niet maak. ’n Ander se prestasie is dus vir hulle ’n neerlaag. Die skeidsregter sal mooi met jou kan gesels oor alles wat skeef geloop het. Dit is waarvoor hy gekyk en gesoek het. Maar het hy werklik die genot en prag van die lewenspel raak gesien?

’n Skeidsregter blaas ook teen homself

Daar is ongelukkig nog ’n ander sy ook; die van vernietigende selfkritiek. Hierdie mense is in hulle eie selfgesprek gewoonlik hulle eie grootste vyand. Hulle voel hulle doen nie goed genoeg nie; stel ander teleur en is maar in die verloorspan. Daarom kritiseer hulle hulleself gedurig, want hulle voel hulle is misluk-kings en soek dan ook die redes daarvoor. Daarom het hulle gewoonlik ’n swak selfbeeld, want hulle voel nooit dat hulle goed genoeg is nie. Hulle is die hele tyd besig om vir hulleself wys te maak dat hulle nie eintlik is wat hulle moet wees nie en hulle glo dit ook. As jy vir so iemand vra hoe gaan dit met die nuwe baba, sal hy vir jou sê: “Hy lyk na my, maar is darem gesond.” Geen wonder dat so iemand nie kan cope nie. As jy heeltyd jouself afbreek, kan daar tog niks staande bly nie.

’n Skeidsregter vergeet dikwels van die Here

As Christene is ons nogal geneig om onsself tussen twee diewe te kruisig, naamlik “skuld vir gister” en “vrees vir môre”. Om-dat ons so skeidsregter speel, is ons so deeglik bewus van al ons foute. Ons kan nou maar eenmaal nie loskom van ons skuld van gister nie. Dit pla en ry ons. Ons voel altyd skuldig en dus nie goed genoeg nie. Omdat ons so bewus is van ons eie tekortkominge is ons ook onseker en bang vir die toekoms. Ons kry die gevoel van: “Jy flop so maklik; moet niks aanpak nie, want jy gaan buitendien flop. Dan oorweldig daardie ge­voel jou dat jy nie behoorlik cope nie. In die hele proses ver­-geet ons van die Here. Dikwels jaag skeidsregters die Here van die speelveld van hulle lewe af. Ons vergeet dat ons nie tus­sen die twee diewe hoef te hang nie, maar dat Hy in ons plek daar gehang het. Hy het met die skuld van gister af­gereken. Ons hoef dit nie meer te dra nie. En die vrese van môre? Daarvoor sal Hy ook sorg, want Hy sal saam met ons daar wees. Die vrees sal jou nie kan oorweldig nie. Sy vre-     de gee Hy vir jou (vgl. Joh. 14:27). Moet dus nie die Here      se werk probeer doen nie. Vertrou Hom, Hy kan dit beter doen as jy.

Kritiek maak seer

Die mense wat skeidsregters is, is ook baie sensitief en fyn­ge-voelig as iemand hulle kritiseer. Hulle voel al klaar dat hulle nie regtig die pyp rook nie. Nou kom ander dit nog invryf ook. Daarom reageer hierdie mense baie keer aggressief op enige kritiek. As hy kritiek hoor, hoor hy eintlik dat hy sleg is, en wie gaan homself dan nie verdedig nie? Kritiek, al is dit hoe goed bedoel, maak vir Skeidsregter seer en plaas hom op die ver­­dediging.

’n Eienskap van dié verdediging is dat dit eintlik buite ver­houding is. Die persoon wat die eerste opmerking gemaak het, voel dit gewoonlik die duidelikste aan, want die ander persoon reageer heeltemal anders as wat hy dit bedoel het. Dit is soos die persoon wat in ’n restourant instap en sê: “Sjoe, ek het tien maande gelede laas iets hier gehad,” en dan kom die antwoord van die kelner: “Wees geduldig; dit is my eerste aand hier en ek werk so vinnig as wat ek kan.”

Ek weet tog beter as jy

Om hulleself so ’n bietjie te probeer beskerm en hulle eie on-sekerheid weg te steek is sulke mense dikwels die groot beter-weters. Hulle weet altyd wat die beste of die grootste of die sterkste is, soos die twee wat oor krieket gesels het.

“Wat is jou hoogste telling?” vra Stefanus.

“Honderd en vyftig,” antwoord Loutjie.

“O, myne is honderd en sestig,” sê Stefanus. “En wat is die meeste paaltjies wat jy in ’n boulbeurt gevat het?”

“Nee,” sê Loutjie, “dit is nou jou beurt om eerste te ant­woord.”

Agter die bravade van beterweterigheid steek mense ge­woon­lik hulle eie vrese en onsekerheid weg. Dit gee vir hulle die gevoel dat hulle darem ook iéts is, al is dit net om te wys dat hulle van iets meer weet as die ander.

Stel die regte reëls vir jou lewe op

As so iemand begin leer om op ’n ander manier met homself te praat, gaan dit al klaar baie help. Ons het reeds elders gesien dat ons ons eie reëls vir ons lewe maak. Hierdie reëls en waar­des beheer dan ons lewe. En dit is presies een van die probleme van Skeidsregter. Skeidsregter moet tog reëls hê waarvolgens hy moet optree. Die reëls gaan vir hom sê waar die foute lê en waar nie. So stel jy ook self die reëls vir jou eie lewe op en dan kri­ti­­seer jy jouself en sommer al die ander mense ook aan die hand van daardie reëls.

Iewers het jy die idee gekry dat jy altyd die sen­trum van aandag in ’n gesprek moet wees: almal moet al­tyd na jou luister. Nou kom jy agter dit gebeur nie en hoe meer jy probeer om die “lekker ou” in die gesprek te wees, hoe minder gebeur dit. Nou voel jy uiters terneergedruk; sommer ’n flop.

Maar waar lê die probleem eintlik? Dit lê beslis nie daarin dat jy regtig ’n flop is nie; jy voel maar net so. Die probleem lê in die verwagting of reël wat jy vir jouself gemaak het. Dit is ’n reël wat nie nodig is nie en ook nie by jou pas nie. Hoekom moet jy die sentrum van ’n gesprek wees? As dit nie by jou persoonlikheid pas nie, hoekom moet jy dit wees?

Vra jou elke keer weer af: “Waarom is die reël so belangrik?” Dan sal jy agterkom dat ons baie reëls vir onsself maak wat eintlik nie nodig is nie. Dit krap net jou lewe om en maak dit vir jou baie moeiliker om te cope. Verander daardie reël; sê vir dit vir ewig totsiens. Begin eerlik met jouself wees en stel reëls op wat jou lewe sin gee en nie jou lewe aan bande lê nie.

Dit is nie altyd so maklik nie, want as ’n mens jou hele lewe gewoond is om skeidsregter te speel, leer ’n mens dit nie sommer in ’n dag af nie. ’n Mens moet hier eintlik ernstig met jouself praat. Jy moet jou reëls weer in oënskou neem en vra of die dinge wat vir jou so belangrik is, regtig so belangrik is. Luister maar wat ouer afgetredenes sê as hulle gevra word wat hulle in hulle lewe anders sou doen. ’n Mens hoor baie dat hulle sê: “Ek sou meer tyd aan my gesin gegee het,” of “Ek sou nie agtien uur ’n dag gewerk het nie, en meer met my mense op vakansie gegaan het of my stokperdjie beoefen het.” Wat sê hulle eintlik? Hulle sê dat die reëls wat hulle vir hulle lewe gemaak het, nie heeltemal in die kol was nie. Daar­om is ’n mens dit aan jouself verskuldig om na te dink oor die reëls waarvolgens jy skeidsregter speel in jou lewe.

Dit is juis hier waar dit dus belangrik is om jouself te leer ken. Luister na jouself en jou eie drome; jy hoef nie skaam te wees daaroor nie. Jy het die volste reg om jouself te wees, en dan presies soos jy is! Jy hoef nie na die pype van ander te dans nie, want dit is al klaar moeilik genoeg om na jou eie py­-pe te dans. Konsentreer meer op wie jy is, as wat jy omgee oor wat ander dink. Leef vir jouself en nie vir ander nie, en pas jou selfgesprek so aan.

Luister na Salomo oor wat ’n sinvolle lewe is

Salomo sê in Prediker dat hy die sin in hierdie lewe wou ontdek. Hy wou agterkom wat die regte reëls is waarvolgens ’n mens moes lewe. Hy het hom daarop toegelê om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en behoorlik te deurdink (vgl. Pred. 1:13, NAV).

  • Hy het begin en geld bymekaargemaak soos nog nooit tevore nie. Hy het groot besighede, plase en wat nog alles begin, en ’n groot sukses daarvan gemaak (lees maar Pred. 2:3-10). Toe hy uiteindelik so oor al die rykdomme van hom kyk, moes hy vir homself ’n vraag beantwoord: Wat het al hierdie moeite en sukses nou regtig aan hom gedoen en vir hom beteken? Hy antwoord self: Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ’n gejaag na wind … (Pred. 2:11, NAV). Die werklike sin in die lewe kon hy nie daar kry nie.

Hy gee in Prediker 4:9 (NAV) en verder ’n hele paar redes waarom hy so sê:

  • In 5:9 (NAV) sê hy: Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie … Om belangrikheid en status jou doel te maak, maak van jou ’n baie onaangename skeidsregter. Jy sal altyd ontevrede wees en fout vind, want jy sal nooit genoeg hê nie. Jou kar is nooit blink genoeg nie en jou bankrekening nooit groot genoeg nie. Nou vra Salomo wat die sin daarvan is: Wil jy kies om jou lewe te leef in ’n donker tonnel van be-geerte na nog meer en nog meer wat geen einde het nie? Dan kan jy dit maar doen, maar jy moet weet daardie lewe gaan jou uiteindelik los met die gevoel van ’n gejaag na wind.
  • Dan is daar die feit dat as die goeie dinge in die lewe baie word, word die eters ook baie (vgl. Pred 5:10, NAV). Dit bete-ken dat mense graag agter ander aanloop wat geld het. Geld lok vrien­de soos vlieë. Maar wil jy vriende hê omdat jy baie geld het, met ander woorde, wil jy ook maar net toevallig die vriend wees van jou geld se vriende? Of wil jy liewer vriende hê wat jou vriende is omdat jy jy is? Moenie dink geld en status bring egte vriende nie; dit het Salomo blykbaar al uitgevind.
  • In Prediker 5:11(NAV) noem Salomo ’n heeltemal ander rede waarom hy nie dink dat ons ons lewensreëls so moet maak dat ons agter status en geld aanhardloop nie. Hy sê die arbeider (of arm man) slaap lekker, terwyl die ryke die hele aand lê en rond­rol, natuurlik omdat hy so baie het om hom oor te bekommer. As jy graag wil lê en rondrol omdat jy bed-maats het met die name stres en bekommernis, kan jy dit maar doen.
  • Toe Salomo agterkom geld werk nie so lekker nie, het hy hom in die poele van plesier gaan begeef, soos hy in Prediker 2:1 sê. Hy het homself oorgegee aan plesier en gedink hy kan die lewe so geniet. Wat was sy slotsom? Van lag moes ek sê: dis sinloos, en van plesier: wat bring dit? (Pred. 2:2, NAV) As jy die volgende og­gend met hoopyn opstaan, wonder jy of die vorige aand se ge­rin­kink die moeite werd was. Is daar nie iets meer in die lewe nie?
  • Dan was daar prestasie en harde werk: Sou dit nie ’n mens se lewe sinvol kon maak nie? het Salomo gewonder. In Prediker 4:13-16 (NAV) vertel hy ’n mooi storie van ’n jongman wat arm was en in die tronk gegooi is. Toe hy uitkom, het hy so pre­steer dat die mense hom uiteindelik koning gemaak het. Duisende der duisende het agter hom aangeloop, te veel om te tel. Die arm tronkvoël het die magtige koning geword. Toe sterf hy en … (t)og het die nageslag nie met vreugde aan hom gedink nie … (Pred. 5:16, NAV). ’n Paar jaar later het niemand eers meer van hom geweet nie. Dit is maar die beloop van die lewe. As jy dink mense gaan vreeslik hande klap oor alles waarvoor jy jou so afsloof en opoffer, maak jy ’n groot fout. Moenie vir die gehoor speel nie. Na die vertoning staan hulle op, stap uit en vergeet van jou.

Hierdie is maar ’n paar voorbeelde wat Salomo noem om ons aan die dink te sit. Waarom plaas ons soveel druk op onsself om dinge na te jaag wat lewenslus uit ons tap, ons ongelukkig maak en die lewe sinloos by ons laat verbygaan? Jy sal sekerlik hier en daar redes daarvoor kan uitdink waarom jy dit doen, maar Salomo vra dat jy weer ’n keer daaroor sal dink.

Jy het die reg om jouself te wees, om jou eie opinies en wil te hê en om te besluit wat jy met jou lewe wil maak. Maak vir jou reëls in jou lewe waar die skeidsregter omtrent niks te doen het nie, en ook die genot van die lewe kan smaak. Dit is ook deel van Salomo se raad. Geniet dit wat God vir jou gee en moe­nie toelaat dat dit by jou verby gaan nie (vgl. Pred. 2:24-25; 3:10-13, NAV).

Weereens, soos in die geval van Doemprofeet, moet jy ou Skeids­­regter in jou lewe bewustelik groet en die mense naaste aan jou vra om jou te help. Verklaar bewustelik oorlog teen alle negatiewe gepraat of gedink. Jaag die skeidsregter in jou kop van die veld af sodat daar nie net meer op die foute gekon­sentreer word nie. Stuur vir Beterweter en Fyn­gevoeligheid op ’n safari in Afrika en laat hulle daar vir altyd verdwaal. Begin die positiewe raak sien en neem dit wat die Here vir jou be­loof ernstig op. Dit kan ’n reuseverskil in jou lewe maak.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print