Ek cope nie meer nie: Droom én jaag jou drome na – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Gee rigting aan jou lewe

Drome en ideale is soos sterre; jy mag nie altyd by hulle uitkom nie, maar hulle sal altyd rigting in jou lewe gee. Aan die ander kant sal jy nooit ’n droom kan verwesenlik as jy nie drome droom nie.

’n Groot probleem is egter dat baie van ons nêrens het om heen te gaan nie. Die een dag is maar soos die ander en ons sloeg met moeite deur die lewe. Ons het min of niks om na uit te sien nie en dit gee vir ons die gevoel van mislukking. Ons cope nie meer nie, want niks gebeur om ons te laat voel ons cope nie. Die situasie waarin jy nou is, wil jy nie hê nie en dit maak jou nie gelukkig nie. Maar omdat jy nie weet wat jy wil hê nie, kan jy nie jou situasie verbeter nie.

As jy motor wil bestuur, moet jy eers ’n motor hê. As jy jou lewe rigting wil gee, moet jy eers rigting hê. Maslow sê om te weet waarheen jy gaan en om drome te hê om na te jaag is van die basiese vereistes om jou as mens gelukkig te maak. Om te snork is eenvoudig; jy doen dit sommer in jou slaap, maar dan moet jy eers gaan slaap. Om jou lewe rigting te gee is ook eenvoudig, maar dan moet jy vir jouself uitmaak in wat­ter rigting jy wil gaan.

Jy is dit aan jouself verskuldig om jou lewe te beplan. Soos ’n skip wat in die donker na ’n hawe toe moet vaar en net die lig­toring se liggie het om dop te hou, so moet jy in jou lewe doel­stellings en drome hê om die bootjie van jou lewe aan die vaar te hou. Niemand kan natuurlik jou drome vir jou droom nie, want dan is dit nie meer jou drome nie. Jy moet jou eie drome droom. ’n Vrou droom byvoorbeeld dat haar maer jare voorlê; ’n man dat sy maer jare agter die rug is. Mense se belang­stellings en prioriteite verskil en daarom verskil hulle drome. Maar ’n mens moet met vertroue en doelgerigtheid jou drome droom.

Wees jouself en droom jou drome dus met vertroue. Dié verhaaltjie kan as illustrasie dien: Een aand, in die middel van ’n leeutemmer se vertoning, gaan die krag af. Dit was stik­donker in die tent en hy was alleen saam met ’n klomp leeus in ’n hok. Hy kon niks sien nie, maar besef dat die leeus goed kon sien in die donker. Toe die ligte na ’n lang ruk weer aan­gaan, het al die leeus steeds op hul plek gesit. In die donkerte het die mense gehoor dat die leeu­temmer die hele tyd met die leeus gesels en sy sweep slaan. Hulle vra toe vir hom hoe­kom hy dit gedoen het, want hy kon mos niks sien nie.

“Ja, maar die leeus het dit nie geweet nie,” sê hy. “Daarom het ek maar op my normale manier voortgegaan in die hoop dat die ligte gou weer aangaan.”

In die groot krisis het hy maar net homself gebly en gedoen wat hy weet reg is. Sy vrees en onsekerheid het hom nie oor­weldig nie.

Dit is eintlik vir ons ook ’n baie goeie les. Ligte gaan vir jou in die lewe ook soms af sodat jy nie weet waarheen nie. Alles lyk so donker. Maar dan moet jy die krag en oortuiging hê om steeds jouself te wees en jou doelwitte helder in jou gedagtes te hou. Moenie onder druk koers verloor en ophou om jouself te wees nie. Die ligte sal wel weer aangaan en dan moes jy nie so­veel skade in die donker aangerig het dat jy dit nie weer kan herstel nie. As die leeutemmer paniekerig begin raak het, sou die leeus waarskynlik daarna ’n nuwe leeutemmer nodig gehad het …

Nou moet ’n mens nie die idee kry dat drome net drome is as dit groot drome is nie. ’n Droom hoef nie net ’n droom te wees as jy droom dat jy president wil word, of dalk ’n multi­miljoenêr nie. Drome is ook drome al is hulle klein. ’n Groot huis word met klein bakstene gebou. Drome is soos ’n lig. Al is die lig hoe flou, die skadu val altyd agter jou. Jou ideale en drome, al is hulle hoe klein, laat altyd die doelloosheid en gevoel dat jy nie cope nie agter jou lê. Dit gee jou iets om voor te werk en na te streef. Wees die waarmaker van jou drome.

Droom realisties

Dit is belangrik dat jou drome realisties is. Dit vra ’n fyn ba­lans tussen wat jy graag wil bereik (jou drome) en die kennis wat jy van jouself het.

As jy nie mooi is nie, help dit nie jy probeer mejuffrou Wêreld word nie. Wees realisties en besef dat as jy mooi wil lyk, moet jy met mense omgaan wat minder mooi is as jy. Daardie stuk­­kie realisme moet ’n mens bereid wees om aan die dag te lê. Dit help nie jy droom jy wil president word, maar jy weet dat daar geen kans daarvoor is nie. Dit is net ’n resep vir teleur­stelling. Dit is egter net so sleg as jy nié droom jy gaan president word nie, as jy wel ’n kans (al is dit net ’n buitekans) het om dit te word. As jy na middelmatigheid mik, presteer jy ge­woonlik ondergemiddeld. As jy na uitnemendheid mik, sal dit jou aanmoedig om bogemiddeld te presteer. Moenie jouself oor­skat nie, maar moet jouself ook nie onderskat nie. As jy ’n droom het, jaag dit na. In die meeste gevalle bereik men­se tog hulle drome, al is dit nie met die eerste probeerslag nie.

Om drome te droom en doelwitte in die lewe te hê beteken ongelukkig ook dat jy soms gaan misluk. Maar dit is beter om iets aan te pak en die gevaar van mislukking in die oë te kyk as om nooit iets aan te pak nie omdat jy in vrees en onsekerheid leef dat iets dalk verkeerd kan loop. Dit is waar: wie nooit iets verwag nie, sal nooit teleurgesteld wees nie, maar dit is net so waar dat daardie persoon selde of ooit iets sal kry of bereik.

’n Mens moet bereid wees om risiko’s te loop, al sluit dit die moontlikheid van mislukking en kritiek in. As jy die hele tyd bang is vir kritiek, gaan jy niks aanpak nie. Dan is jy soos die persoon wie se droom dit was om komediant te word. Hy het dit toe nooit geword nie, omdat hy bang was dat mense vir hom sou lag. James Hewett het die dilemma maar ook die antwoord mooi verwoord. Hy het gesê:

Om humoristies te wees is om die risiko te loop om ’n gek van jouself te maak.

Om te huil is om die risiko te loop om ooremosioneel te lyk.

Om ander te help is om die risiko te loop om veels te diep betrokke te raak.

Om drome te droom is om die risiko te loop om jou drome te verloor.

Om lief te hê is om die risiko te loop om verwerp te word.

Om te leef is om die risiko te loop om te sterf.

Om te hoop is om die risiko te loop dat jy mag wanhoop beleef.

Om te probeer is om die risiko te loop om te misluk.

Maar tog moet ons risiko’s loop, want die grootste hindernis in die lewe is om glad nie risiko’s te wil loop nie. Die man of vrou wat nie iets wil waag nie, sal niks doen nie, sal niks kry nie en sal niks wees nie.

’n Groot geheim in die lewe, ook die Christelike lewe, is om nie terug te deins vir die gevaar van mislukking nie. Wat ons dikwels as mislukking ervaar, is nie werklik mislukking nie. Dit is net ons wat sê dit is mislukking. Hoe ons dus na dinge kyk, is belangrik om ons te help om op koers te bly.

Joyce Wright, die vrou van ’n bekende leraar, vertel dat sy een dag vir ure saam met haar man langs die viswater gesit het. Die visse wou maar net nie byt nie. Uiteindelik sê sy vir haar man dat hulle maar moet opgee.

“Nee,” sê hy, “nou begin ons eers vang. Ons weet nou ten minste waar die vis nie is nie.”

Die vrou sou opgehou het, maar die man gaan aan. Dit is dieselfde situasie, maar twee maniere van kyk, natuurlik met twee verskillende resultate. Vir die vrou het die visvangery in ’n mislukking uitgeloop; vir die man in ’n verdere geleentheid.

Mislukking is dikwels God se manier om ons ’n kans te gee om voor te begin, maar hierdie keer met ’n bietjie meer ken­nis en wysheid. Wat die beste is, is dat dit net so maklik is om die positiewe in ’n situasie raak te sien as die negatiewe. Ruskin het iets gesê waaroor ’n mens maar ’n bietjie kan nadink: “Daar is nie slegte weer nie; daar is net verskillende tipes goeie weer.”

Dit is inderdaad beter om oor jou planne te slaap as wat dit is om wakker te lê oor wat jy nie gedoen het nie. Wees daarom bereid en dapper genoeg om jou drome te droom en hulle te probeer bewaarheid. Om na die sterre te reik beteken dat jy hier op aarde deur valleie en oor heuwels gaan stap. Soms, as jy in die vallei afdaal, gaan dit vir jou voel of jy verder en ver­der van jou ideaal af wegstap, maar as jy weer teen die heu­wel begin opklim, sal jy weet dat jy op die regte koers was. Moet dus nie dat teleurstellings jou boikot of jou drome van jou af wegvat nie. Wie nie waag nie, sal nie wen nie.

Die ou kerkvader Chrusostomus het dit al besef toe hy die volgende illustrasie gegee het. Hy het gesê dat die pad goed is as die pad na ’n fees toe loop, al moet jy deur donker en gevare gaan om daar uit te kom. Maar as ’n pad na die galg lei, is die pad sleg, al is dit die mooiste pad in die stad. Nie die pad nie, maar die eindpunt tel. Moet dus nie dat die pad jou ontmoedig om jou eindpunt te bereik nie.

Daarom is daar baie voor te sê om jou lewe gedissiplineerd te leef en jou doel na te jaag. Om gedissiplineerd te leef beteken eenvoudig dat jy weet waar jy wil heengaan met jou lewe en sorg dat jy in daardie rigting stap. Jy soek nie allerhande afdraaipaadjies of verskonings om jou doel te bereik nie. Dit is ’n bewustelike besluit wat jy neem. Om nie te besluit om jou doel met mening na te jaag nie, is ook tog om ’n besluit te neem, maar ongelukkig die verkeerde een.

image_pdfimage_print