Ek is moedeloos

image_pdfimage_print

 

We have met the enemy, and it is us – Walt Kelly

 

Ek is moedeloos

In 2 Korintiërs 4 skrywe Paulus oor moed verloor. Hy begin deur te sê dat God Hom oor hom ontferm het en hierdie bediening aan ons opgedra het. Daarom word ons nie moedeloos nie. In vers 16 lees ons weer: Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Baie mense word moedeloos te midde van uitdagings en teenstand. Paulus het seker soms moed verloor met die gemeente in Korinte – hy het maar ‘n moeilike verhouding met hulle gehad.

 

Hoekom het Paulus nie moedeloos geword nie? In Hoofstuk 4 praat Paulus oor drie werklikhede vir Christene wat moedeloos word.

  1. Die roeping na die Christelike bediening

Ons sal gou moedeloos word as ons nie meer ons roeping onthou nie. Dit het Paulus versterk en beskerm hom van ‘n bediening sonder vreugde. In vers 1 verwys hy na hierdie bediening. Dan beskryf hy die aard van hierdie bediening:

  • Ons maak die waarheid openlik bekend.
  • Hy verwys in vers 3 na ons evangelie.
  • Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus.
  • Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here.

Paulus se bediening was om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Dit was sy roeping na hierdie bediening wat Paulus laat volhard het – wat gekeer het dat hy nie moedeloos word nie. Dit het Paulus staande gehou ten spyte van teenstand.

 

Paulus se roeping was sekerlik uniek, maar ook ons is geroep na een of ander bediening. Ook ons moet die waarheid van die evangelie verkondig deur mense wat deur hierdie wëreld verblind is. Omdat ons geroep is om die evangelie te verkondig, moet ons dit met integriteit doen: Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Ons is nie innoveerders van die woord nie, maar verkondigers. Ons is verkondigers van ‘n spesifieke boodskap – Jesus Christus as die Here. Ons roeping is suiwer uit genade – God het Hom oor ons ontferm.

 

  1. Die konteks van Christelike bediening

Paulus het geen illusies gehad oor wat sy bediening behels het nie. Paulus het geweet dat hy nie net geroep was om te verkondig nie, maar ook om te ly en te dien. Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek (4:7). In vers 8 en 9 noem hy sommige van die werklikhede van bediening in ‘n gevalle wêreld: verdrukking, teneergedruktheid, radeloos, neergegooi, vernietig. Paulus het elkeen van hulle in sy lewe ondervind. Ook ons bediening sal lyding, teenstand, vervolging en beproewings insluit, want ons werk in dieselfde gevalle wêreld.

 

Hierdie dinge gebeur nie sommer toevallig met ons nie. Die krag wat alles oortref kom dus van God, nie van ons nie. Ons sien sy krag veral te midde van ons swakhede. Lees weer verse 8 en 9. Hier lees ons van harde werklikhede, maar elke keer lees ons ook maar nie. Paulus erken die werklikhede van die lewe, maar hy vestig veral ons aandag op God se genade. Dit versterk ons as ons neig om moedeloos te word.

 

  1. Die hoop van Christelike bediening

Paulus word nie moedeloos nie, want hy behou ‘n ewigheidsperspektief. Hy besef dat al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Daarom kan hy sê: Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. As ons die aard en omvang van Paulus se lyding onthou, skok hierdie vergelyking vir ons. Hy kon dit net doen, want hy was besig om dit met sy toekomstige heerlikheid te vergelyk.

 

Om hierdie perspektief van Paulus te ontwikkel, moet ons op die regte plek kyk. Waar kyk Paulus? Na die heerlikhede van die onsigbare toekoms verwerf deur Christus se dood aan die kruis. Dit vereis geloof om verder as ons huidige swaarkry te kyk. As ons na hierdie toekomstige heerlikheid kyk, verander dit ons perspektief van die huidige.

 

image_pdfimage_print