Fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea

image_pdfimage_print

Fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea

Ses teksgedeeltes in die Nuwe Testament vertel vir ons van die fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea wat oor die verloop van ‘n aantal jare deur Paulus behartig is.  Ons lees eerste in Handelinge (11:27-30) daarvan, waar dit duidelik is dat hierdie inisiatief by die gelowiges in Antiogië begin het, en dat Paulus dadelik deel daarvan gemaak is.  Lees gerus hoe hy die inisiatief later verder geneem en afgehandel het…

Hand. 11:27-30

Die Heilige Gees kondig deur ‘n profeet, Agabus, aan dat daar ‘n hongersnood oppad is, en dit realiseer in die tyd van keiser Claudius.  Hierdie hongersnood het die gelowiges in Judea besonder swaar getref, en die gelowiges in Antiogië besluit om ‘n hulpfonds te stig om tot hulle verligting by te dra.  Elkeen sou volgens sy vermoë bydra tot hierdie fonds, en Paulus (Saulus) en Barnabas moes dit na die ouderlinge in Jerusalem neem.  Dit was die begin van ‘n fondsinsameling waaraan later nie net die Antiogiërs meegewerk het nie, maar ook ander gelowiges in die provinsies van Galasië, Masedonië en Agaje.

 

Gal. 2:1-10

Nadat hierdie fondse aan die ouderlinge in Jerusalem oorhandig is (Hand. 12:25), is Paulus en Barnabas by ‘n latere geleentheid weer in Jerusalem vir ‘n vergadering met die apostels en ouderlinge daar.  By dié geleentheid versoek die apostels, naas sekere andere vereistes waaraan die bekeerdes uit die heidennasies moet voldoen (Hand. 15:20, 29; 21:25), dat hulle ook “nie die armes onder [die Judese gelowiges] moet vergeet nie” (Gal. 2:10).  Paulus dui dan aan dat hy hom steeds vir hierdie liefdesdiens beywer.

 

1 Kor. 16:1-6

In hierdie brief aan die Korintiërs beskryf Paulus die praktiese wyse waarop hulle die fondsinsameling moet hanteer, waarskynlik nadat die gemeente hom daaroor uitgevra het.  Paulus antwoord hulle op ‘n diplomatiese wyse, wat duidelike riglyne gee maar tog ook nie voorskriftelik is nie.  Hy begin deur uit te wys dat die gemeentes in Galasië ook daarmee besig is, en dat die Korintiërs die saak dus op dieselfde wyse as hulle moet aanpak.  Die gelowiges moet nou reeds elke Sondag tuis iets opsy sit, spesifiek vir hierdie doel.  Met Paulus se koms, kan hulle die fondse aan hom oorhandig. Hy sal dan ‘n afvaardiging, wat die gemeente self saamstel, van aanbevelingsbriewe voorsien om die fondse na Jerusalem te neem, of selfs ook saam met hulle reis indien nodig.  Maar voordat hy na hulle toe kom, gaan hy eers vir ‘n tyd lank in Masedonië en Efese werk.

 

2 Kor. 8-9

Teen die tyd dat Paulus in Masedonië aankom, het daar ‘n mate van verhoudingsbreuk tussen hom en die gemeente in Korinte plaasgevind, grootliks te wyte aan “vals apostels” in hul midde wat sy gesag ondermyn het.  Paulus skryf ‘n brief aan hulle (wat hulle eers hartseer maak, maar tog ook tot inkeer laat kom, 2 Kor. 7:8-9). Titus kom dan met die berig na Paulus in Masedonië dat die gemeente positief gereageer het op sy brief aan hulle (7:5-16).  ‘n besoek van Paulus aan die gemeente sal dus nou (weer) geleë wees. Ter voorbereiding van sy besoek, terwyl hy nou reeds oppad is om die ander gemeentes se ingesamelde fondse na Jerusalem te neem, versoek Paulus die Korintiërs om nou werk te maak van hul eie fondsinsameling (wat skynbaar ietwat agterweë gebly het terwyl hulle tydelik nie op ‘n goeie voet met Paulus was nie), sodat dit gereed is wanneer hy by hulle arriveer.  Om hulle te help om alles gereed te kry, en so te verhoed dat hulle in die verleentheid kom, stuur Paulus solank ‘n afvaardiging vooruit na hulle toe.

 

Rom. 15:25-29

Paulus arriveer uiteindelik by die Korintiese-gemeente, en voordat hy vandaar verder vertrek om die fondse na Jerusalem te neem, skryf hy ‘n brief aan die gemeente in Rome (Romeine).  In hierdie brief vertel hy hulle dat hy oppad is om fondse, wat die gemeentes in Masedonië en Agaje uit vrye wil ingesamel het vir die doel, na Jerusalem te neem, ten bate van die armes onder die gelowiges daar.  Behalwe dat dit hulle eie besluit was, meld Paulus dan dat hy dit ook as hul plig beskou, “want as die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan” (Rom. 15:27).  Paulus is van voorneme om ná sy besoek aan Jerusalem sy sendingwerk in die Oos-Middelandse-See-streke eers te laat vaar ten gunste van ‘n nuwe sendingveld, Spanje, en om oppad daarheen ‘n wyle in Rome te vertoef.  Hierdie voorneme kon egter nie realiseer nie, aangesien Paulus in Jerusalem gevange geneem is.

 

Hand. 24:17

Na Paulus se gevangeneming en wegsending uit die oproerige Jerusalem uit om voor die goewerneur Feliks verhoor te word, verduidelik hy sy teenwoordigheid in Jerusalem so aan Feliks: “na baie jare het ek teruggekom om my mense met ‘n geldelike bydrae te help en om aan God te offer”.  Dit is af te lei dat hy hier verwys na die afhandeling van die fondsinsameling deur die oorhandiging van die bydraes in Jerusalem, voor sy gevangeneming.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 

image_pdfimage_print

You may also like...