Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(4) – Hennie Stander

image_pdfimage_print

Ploeë

Die ploeg self het bestaan uit twee houtbalke wat T-vormig aanmekaar vasgemaak is. Die horison­tale deel van die T het die handvatsel gevorm waarmee die ploeg gestuur is. Die onderste punt van die vertikale balk moes die grond oopkloof. Verder is die vertikale deel van die T-vormige ploeg aan die juk vasgemaak wat oor die nekke van die diere gekom het. Die juk self was bloot ‘n houtbalk wat dwarsoor die nekke van twee diere gelê het en rondom hul nekke vasgemaak is. Dit is in posisie gehou deur twee vertikale stukke hout wat weerskante van die nek afgekom het en aan die onderkant daarvan vasgemaak is (sien Jeremia 28:13). Die eerste ploeë was bale lig. Hulle was ook draagbaar en kon vir ‘n ver afstand op die skouer gedra word. Baie van hierdie ploeë en ander land­bou-implemente is al met argeologiese opgrawings gevind.

In die beginjare van landbou was die skerp punt van die ploeg weinig meer as ‘n stok of paal met ‘n skerp punt. Dit was dus ‘n groot verbetering toe koper gesmelt kon word en ‘n koperskede of lem aan die grondpen vasgemaak kon word. Dit was selfs ‘n nog groter deurbraak toe die Filistyne yster na die land gebring het al het dit dan nou ook beteken dat die Israeliete geen ander keuse gehad het as om hul ploegskare na die Filistyne te neem wanneer hulle dit wou laat skerp maak nie (1 Samuel 13:19-21).

bylpik

‘n Bylpik uit die tyd van Christus. Hierdie bylpik, wat jy met jou hand vasgehou het, is gebruik om die grond stukkend te breek op plekke waar die ploeg nie kon bykom nie. Dit kon ook aan ‘n lang handvatsel vasgemaak word.

 

Ploeë kon nie gebruik word op die heuwels nie, ook nie naby bome of op buitengewoon harde grond nie. In sulke gevalle is ‘n bylpik gebruik (sien die foto)-dit was ‘n handwerktuig soos ‘n skoffel met een snykant wat reghoekig weerskante van ‘n handvatsel aangebring is (Jesaja 7:25).

Wanneer die osse steeks was of wanneer hulle te stadig was vir die boer, het by hulle aangespoor om te beweeg deur hulle met ‘n skerp stok of ‘n osprikkel te steek. So ‘n osprikkel was swaar genoeg om as ‘n persoonlike wapen te gebruik (Rigters 3:31). In die Nuwe Testament kry ons die osprikkel in ‘n idiomatiese uitdrukking “om teen die prikkels te skop” (Handelinge 26:14) in die betekenis van “om te ly of swaar te kry omdat jy lynreg in stryd met die gesag of owerheid optree”.

Die koring is heel eerste gesaai, en daarna eers is die gars en die ander produkte soos sorghum, peulgewasse (soos lensies-2 Samuel 23:11 en bone-2 Samuel 17:28), komkommers en waatle­moene gesaai. Hierna moes die lande vanaf Desem­ber tot Februarie geskoffel word om die onkruid uit te roei. Daarna, wanneer die temperatuur begin styg het teen die einde van Maart en die begin van April, het die lentereëns gekom (sien weer Joel 2:23). Hierdie reën het die graan laat swel en teen die einde van April was die gars gereed om geoes te word.

Paaie het deur die oeslande geloop (Numeri 22:24) en mense was toegelaat om die koringare te pluk van die koring wat langs die pad gestaan het. Hierdie koringare was veral lekker in die lente voordat dit te hard geword het. Jesus se dissipels het ook so op ‘n Sabbatdag deur die gesaaides geloop en are gepluk en met hulle hande uitge­vrywe en geëet (Lukas 6:1-2). Hulle is nie gekriti­seer omdat hulle are gepluk het nie, want dit is deur die Wet toegelaat (Deuteronomium 23:25). Die Fariseërs se beswaar was egter gemik teen die feit dat hulle dit op ‘n Sabbatdag gedoen het en dat dit moontlik as “werk” vertolk kon word

ploeg

‘n Boer van die Bybelse tye ploeg met twee beeste. Let op die skaar (of lem) van die ploeg asook die skerp prikkel in die boer se hand

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...