Die Evangelie volgens Lukas: Die profetiese rede (Luk 21:5-38) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Die vervolging van die kerk kom deur vyande van die kerk (v12) en deur familie en vriende van die gelowiges (v16).

 21:12 Nog voor die ellendes wat gaan kom, sal die eerste Christene reeds gearresteer word, aangekla word, aan sinagoges se oordeel oorgegee word, in tronke opgesluit word, voor konings en goewerneurs gesleep word. Dit sluit hulle verantwoording voor Joodse en nie-Joodse instansies in. Al die ellendes kom oor hulle ter wille van Jesus se Naam, dit is sy Persoon en sy boodskap, omdat hulle in Hom glo en Hom volg. Wat Jesus dwarsdeur sy lewe en spesifiek aan die einde van hierdie lydensweek moet deurgaan, sal ook sy volgelinge se deel word (vgl. die Sanhedrin se optrede teen Petrus en Johannes in Hand 4:25-26 met ‘n aanhaling uit Ps 2:1-2; weer teen die apostels in Hand 5:17-18,40-41; en teen Stefanus in Hand, 6:12; 7:58; deur o.a. Paulus teen die Jerusalemgemeente in Hand 8:1-3; Herodes teen Jakobus in Hand 12:1-2; teen Paulus in Hand 16:19-25; 17:5; 18:12-13; 25:21; 26:1).

 21:13 Die vervolging het egter ’n ander uitkoms as wat die vervolgers in gedagte gehad het. Dit word ’n geleentheid vir die gelowiges om oor Jesus en sy goeie boodskap (evangelie) van verlossing te getuig (marturion ’n getuienis), soos Handelinge daaroor vertel. Later word die woord marturion in die kerk vereenselwig met martelaarskap, bloedgetuienis. Van die begin af het die lyding van die gelowiges gelei tot versterking van hulle geloof (Hand 5:29-32; 41-42).

 21:14-15 ‘Wanneer julle (voor die mense, voor regters en sinagoges) rekenskap moet gee (van julle geloof in Jesus) moet julle besluit om nie vooraf te dink oor julle verdediging nie. Want Ek sal aan julle die mond (woorde) en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan of weerlê nie.’ Jesus se volgelinge kan rustig wees en nie beangs word om vir hulle verdediging voor te berei nie, want die opgestane Jesus, hulle lewende Here, is by hulle en sal self die insig en woorde gee om oor Hom te getuig. Dieselfde opdrag het Jesus in Luk 12:11-12 gegee en bygevoeg: ‘die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat julle moet sê’ (vgl. Mark 13:11; Hand 4:8). Niemand kan teen die Heilige Gees weerstand bied nie (vgl. Hand 4:13; 6:10).

 21:16-17 Jesus versag nie die lyding wat op sy volgelinge wag nie. Selfs familielede sal sy volgelinge haat omdat hulle in Jesus glo en Hom volg (vgl. Mark 13:12; Luk 4:24; 2 Kor 11:26; 1 Tes 2:14). Familie en vriende sal hulle uitlewer, soos o.a. gebeur het tydens die slagting van die Christene deur Nero in 64 n.C. (vgl. Tacitus Annale 15.44). Hulle sal deur almal gehaat word ter wille van Jesus se Naam (vgl. Joh 15:18-21). Die haat sal ook lei tot die dood van sommige gelowiges (vgl. Hand 7:59; 12:2).

 21:18 Te midde van al die gewoel en vervolging van die wêreld verseker Jesus sy volgelinge dat ‘geen haar van hulle koppe vernietig sal word nie (apollumi),’ soos vir Daniël se drie vriende (Dan 3:27). Hy sal hulle beskerm in elke nood. Hulle sal slegs beleef wat tot hulle heil sal dien. In Luk 12:7 het Hy reeds gesê: ‘Selfs die hare op julle kop is almal getel (soos in Matt 10:30), om die waarde van elke gelowige in die oë van God te beskryf. Hy het ’n doel met elkeen se lewe. Daarmee word lyding en dood vir die gelowige nie uitgesluit nie. Maar dit kan ons nie skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Rom 8:35-39). Die uitdrukking dat die hare van jou kop wat niks sal oorkom nie, word reeds in 1 Sam14:45 oor Jonatan se lewe gebruik; vgl. Dawid se belofte aan die slim vrou uit Tekoa (2 Sam 14:11); en Salomo se belofte in 1 Kon 1:52.

 21:19 ‘Verkry julle lewe (psuchê siel, die wese van jou innerlike lewe van jou denke, wil en gevoel) deur julle volharding’ (hupomonê die vermoë om aan te hou uithou onder moeilike omstandighede). Deur onder vervolging geduldig en standvastig by die Here te bly, verkry ons die redding van ons lewe vir tyd en ewigheid. Paulus sê: ons buitengewone krag kom duidelik van God af en nie van ons nie: verdruk, maar nie oorweldig nie; verleë oor raad, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie; ons dra die sterwe van Jesus altyd in ons liggaam saam, sodat die lewe van Christus in ons liggaam sigbaar kan word (2 Kor 4:7-10). Die Heilige Gees word nie alleen aan die gelowiges gegee om in die wêreld te getuig nie, maar Hy versterk ons ook om in hierdie lewe staande te bly en die ewige lewe te verkry (vgl. 1 Petr 1:5).

image_pdfimage_print

You may also like...