God se soewereiniteit teenoor menslike vryheid

image_pdfimage_print

 

Anger isn’t the opposite of love. Hate is and the final form of hate is indifference – Becky Pippert

 

God se soewereiniteit teenoor menslike vryheid

Bepaal God die gebeure in ‘n mens se lewe, of besluit ons self? Dit is ‘n vraag wat by baie gelowiges spanning veroorsaak. Die Bybel beskryf hulle dikwels saam asof hulle saamwerk en nie mekaar weerspreek nie. Kom ons kyk na ‘n voorbeeld uit die Bybel.

 

Een van die wreedste vorm van verraad waarvan ons in die Bybel lees, is Josef wat deur sy broers as slaaf verkoop word. Hulle doen dit, want hulle was baie ontstel oor Josef se drome. Uiteindelik verkoop die handelaars hom in Egipte aan Potifar. Na heelwat intriges word hy die tweede in bevel in Egipte. Sy broers kom in Egipte aan om kos te koop as gevolg van ‘n wêreldwye hongersnood.

 

Josef se broers herken hom nie en daarom word hulle deur sy woorde geskok: Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red … Dit is nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God (Genesis 45:4 – 5, 8). Josef erken dat hulle hom verkoop het, maar hy maak aanspraak op ‘n hoër Mag as die oorsaak van sy reis na Egipte – die soewereine God. Hier sien ons dat dieselfde gebeurtenis beide ‘n goddelike en menslike oorsaak het: Josef se broers verkoop hom en hy beland in Egipte. Maar ook God is betrokke hierby. Hulle sonde en God se plan word deur dieselfde gebeurtenis uitgevoer.

 

Ons moet baie versigtig wees hoe ons dit verstaan. God se soewereine beheer verander nie die broers se sonde in iets goeds nie. Dit impliseer ook nie God in hulle sonde nie. Toe hulle hom verkoop het, sondig die broers teen God en teen Josef. Wat belangrik is, is dat die broers se sonde nie God se plan frustreer nie.

 

Nadat die vader, Jakob, oorlede is, vrees die broers vir hulle lewe: nou dat Jakob nie meer daar is nie, sal Josef wraak neem? Josef se reaksie getuig van genade en ‘n verstaan van die spanning tussen God se soewereiniteit en menslike vryheid. Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen (Genesis 50:19 – 20). Hier leer ons dat dieselfde gebeurtenis twee verskillende motiewe kan hê. Die broers wou vir Josef kwaad aandoen, maar God wou goed doen. Ons kan nie God blameer vir die kwaad nie. Ons kan Hom wel loof vir die goed wat Hy doen.

 

In Jesus se kruisiging is die geheimenis van God se soewereiniteit en die mens se vryheid duidelik. In Lukas 22:22 praat Jesus van Judas se verraad: Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word. Jesus onderwerp Hom aan God se plan, maar terselfdertyd hou Hy sy verraaier verantwoordelik. Judas se verraad het geen invloed op God se plan nie.

 

Luister na Petrus se woorde op daardie eerste pinksterdag: God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer. En julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak (Handelinge 2:22). Later lees ons: Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen  u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het (Handelinge 4:27 – 28). Toe sondaars vir Jesus gekruisig het, het hulle net gdoen wat God vooraf reeds besluit het. Jesus se verlossingsdood was deel van God se plan van voor die skepping. Terselfdertyd was Jesus se kruisiging die grootste onreg wat nog ooit gedoen is.

 

Die spanning tussen God se soewereiniteit en die mens se vryheid is vir ons geheimsinnig – ons verstaan dit nie. Maar om met enigeen te peuter lei tot misverstande. Om die mens se verantwoordelikheid te ontken, verander die samesweerders teen Jesus in God se dienaars wat goed gedoen het deur Jesus te kruisig. Om Jesus se soewereiniteit af te water  verander die kruis in noodoptrede deur God. Beide benaderings is verkeerd.

 

 

image_pdfimage_print