Hoekom bereik ons nie die land vir Christus nie?

image_pdfimage_print

 “The place God calls you to is the place where your deep gladness and the world’s deep hunger meet.” Frederick Buechner 

 

Hoekom bereik ons nie die land vir Christus nie?

Greg Stier, die stigter en President van Dare 2 Share Ministries International, fokus veral op tienerbediening. Hy identifiseer sewe redes waarom die VSA nie vir Christus bereik word nie. Hierdie is ‘n Amerikaanse studie, maar baie van dit wat hy sê, geld net so vir ons.

 

 

In die VSA is daar  300 000 Protestantse kerke. Miljoene mense woon Sondae die eredienste in hierdie kerke by. Geen dorp is sonder sy kerk nie. Maar tog slaag die kerk nie daarin om die land vir Christus te bereik nie. Hoekom nie?

  • Ons het evangelisasie uitgekontrakteer.

Ons het ons uitreikpogings gedelegeer of sommer net geabdikeer aan diegene met die “gawe” van evangelisasie. Ons wag  vir die volgende uitreikaksie om ons dorp te bereik voor ons eers aan hierdie Godgegewe funksie dink. Evangelisasie is immers die taak van die groot manne (soos Billy Graham) en nie vir ons gewone mense nie. Verkeerd! Dit is elke gelowige se plig  om dissipels van ons bure, medewerkers, familie en vriende te maak.

  • Ons het ons gevoel van dringendheid verloor

Evangelisasie is nie ‘n dringende aktiwiteit nie, want  ons het die hel uit ons godsdiens gehaal. Sit die hel terug en skielik  verander alles – siele is op die spel.

  • Ons is skaam vir die evangelie

Dit is so nougeset. Om vir iemand te vertel dat Jesus die enigste weg is en geloof is noodsaaklik beteken dat ons sê alle ander paaie is verkeerd. Ons leef immers in ‘n inklusiewe kultuur wat  alle paaie aanvaar. Om Jesus as die enigste pad te verkondig beteken dat mense met ons gaan spot – en daarom bly ons stil. Jesus sê vir sy dissipels: Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg (Matteus 5:11 – 12). Ons moenie skaam wees vir die evangelie nie – verkondig dit met deernis en respek.

  • Baie Christene kan nie die evangelie verduidelik nie

Baie Christene kan nie die boodskap van die evangelie op ‘n eenvoudige manier verduidelik nie. Napoleon het drie opdragte vir sy boodskappers tydens die oorlog gehad: Wees duidelik. Wees duidelik. Wees duidelik. Dit geld ook vir ons. Wees duidelik wat die boodskap van die evangelie is. (Lees Paulus se opsomming in 1 Korintiërs 15:3 – 4). Daarna: Bid dat ek dit duidelik sal verkondig soos dit my opgelê is (Kolossense 4:4).

  • Kerkleiers loop nie voor nie

Baie kerkleiers loop nie voor as dit by evangelisasie kom nie. Hulle mag af en toe ‘n uitreik reël; hulle mag “professionele mense” met die gawe van evangelisasie inbring. Self is hulle nie aktief by evangelisasie betrokke nie. Daar is ‘n ou spreekwoord: If there is a mist in the pulpit there’s a fog in the pew.  Jesus sê self dat ‘n leerling nie hoër as sy leermeester is nie (Matteus 10:24). Kerkleiers moet betrokke raak by evangelisasie.

  • Ons het vergeet hoe om te bid

As daar tydens die erediens meer tyd aan afkondigings as aan gebed gespandeer word, is iets iewers verkeerd. God moet harde harte sag maak en toe deure oopmaak. Daarvoor moet ons Hom in gebed vra.

  • Kerke mobiliseer nie hulle jongmense om die evangelie te deel nie

Meeste mense wat tot bekering kom, doen dit voor hulle 18 jaar oud is. Hoekom bemoedig kerke nie jongmense om die evangelie aan hulle groep te verkondig nie? Rus hulle toe en laat hulle los. Ons weet tog die mense wat waarskynlik die evangelieboodskap sal aanvaar is jongmense. Maar ons rus nie jongmense toe om ander jongmense te bereik nie.

 

Is dit nie tyd om al ons verskonings te los en ons land vir Christus te bereik nie?

 

image_pdfimage_print

You may also like...