God se teenwoordigheid in my lewe

image_pdfimage_print

 

The unrighteous look for the good in themselves and for evil in others … the righteous try to see their own faults and overlook those of others – Martin Luther

 

God se teenwoordigheid in my lewe

Is ek bewus van God se teenwoordigheid in my lewe? Selfs vir gelowiges voel dit soms asof God afwesig in ons lewens is. Daar is weer ander tye wanneer ons baie naby aan Hom voel. Ons is geneig om te oordeel of God by ons is deur ons omstandighede. As alles reg verloop en Hy antwoord ons gebede, is Hy naby aan ons. Maar as ons swaarkry, glo ons dat God afwesig is.

 

Ons moenie toelaat dat omstandighede ons persepsie beïnvloed nie. Ons moet vertrou op wat die Skrif sê. Luister wat sê die psalmis: Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig (Psalm 23:4). As gelowiges het ons dieselfde belofte – die Here stap saam met ons in goeie en in slegte tye. Glo ons dit? As ons dit nie glo nie, sal ons die voordele en seëninge van sy teenwoordigheid verbeur.

 

As ons van God se teenwoordigheid bewus wil wees, moet ons ons verhouding met Hom verdiep. Die plek om te begin is by sy woord. Lees elke oggend sy woord en ons gedagtes word die hele dag op Hom gerig. As ek vertrou op God se kragtige teenwoordigheid in my, word my lewe verander.

 

  1. My perspektief verander

Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig (Psalm 16:8 – 9). As ek van God se teenwoordigheid bewus is, is daar ‘n gevoel van vrede en veiligheid oor my. Al lyk dinge donker hoop ek steeds, want my vertroue is op Hom – nie in my omstandighede nie. Ons skryf nou nie ons seëninge aan geluk toe nie, maar ons word bewus dat God die bron van alle goeie dinge is.

 

  1. As ons van God se teenwoordigheid bewus is motiveer dit gehoorsaamheid

Ons sal nie sonde in ons lewens verdra nie want dit pas nie by ons identiteit in Christus in nie. Nou sif ons elke besluit wat ons neem deur sy wil, want ons wil doen wat Hy begeer.

 

  1. Ons liefde vir God en ons sensitiwiteit vir Hom neem toe

Gebed word nou ‘n geleentheid om met die Here te praat – nie net ‘n tyd om versoeke te rig nie. Ons kan die hele dag lank ons gesprekke met Hom in ons harte dra. Aanbidding word nou meer as ‘n roetine – dit is ‘n geleentheid om die Here te eer.

 

God wil hê dat ons meer bewus van Hom sal wees. Maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie, Hy is by jou. Niks is vir Hom verborge nie; niks is buite sy bereik nie.

 

image_pdfimage_print