God vra my om iets bo my vermoë te doen!

image_pdfimage_print

 

Love says: I’ve seen the ugly parts of you, and I’m staying. —Matt Chandler

 

God vra my om iets bo my vermoë te doen!

God, in sy soewereine wysheid, plaas ons soms in situasies wat ons tot die uiterste toe sal beproef. Soms word ons gevra om iets vir die heerlikheid van God te doen wat ver bo ons vermoëns is. Dit is die smeltkroes van leierskap. [Smeltkroes = omstandighede wat deur beproewing ‘n suiwerende invloed het – HAT.]

 

Moses het die smeltkroes geken. Toe God die noodkrete van die Israeliete gehoor het, verskyn Hy aan Moses en sê dat Hy sy volk uit hulle slawerny sal verlos. Moses was sekerlik dankbaar en verlig. Maar toe sê God vir hom: Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry (Eksodus 3:10). God sê dat Hy sy mense gaan verlos, maar dat Hy Moses stuur om dit te doen – dit is die smeltkroes.

 

Dit is hoe God dikwels werk: Hy kan dit doen dit, maar Hy stuur vir ons. Maar, net soos Moses, kyk ons na onsself en maak verskonings. Moses sê die mense sal hom nie glo nie (4:1). Voel ons nie ook dikwels so nie. God kan deur geloof ons gewone vermoëns verander in buitengewone vermoëns. Gee aan God jou vermoëns en sien hoe Hy te werk gaan daarmee.

 

Moses kom met ‘n volgende verskoning: Ek kan nie goed praat nie. Maar God kan ook hierdie swakheid gebruik. Ons moet ons swakhede vir Jesus gee en kyk hoe Hy daarmee werk. My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is … Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:9 – 12).

 

God gaan groot dinge doen. Hy gaan dit doen deur vir my en jou te stuur. Dink daaroor na.

 

 

image_pdfimage_print