Herdink die hemel

image_pdfimage_print

 

“Humanism was not wrong in thinking that truth, beauty, liberty and equality are of infinite value, but in thinking man can get them himself without grace.” —Simone Weil

 

Herdink die hemel

Vir eeue dink baie mense in die kerk dat dit wat nog in die toekoms gaan gebeur uit twee dinge bestaan:

  1. Jesus gaan ons opneem om saam met Hom in die hemel te wees. Dit sou dan ons nuwe verhouding met God voltooi.
  2. Jesus gaan weer terugkeer. Gewoonlik kom Hy, nie om hier te bly en die wêreld te verander nie, maar om sy mense op te neem na die hemel.

 

Verstaan ons egter wat in die verlede gebeur het (die gebeure aangaande Jesus), besef ons dat die toekoms iets te doen het met die bymekaarkom van die hemel en die aarde – iets te doen met die vernuwing en herstel van die skepping. Die Bybel sê relatief min van wat met mense gebeur onmiddellik na hulle doodgaan. Die Bybel is egter baie geïnteresserd in wat uiteindelik gebeur. Die goeie nuus gaan oor die verlossing en hernuwing van die hele skepping.

 

Openbaring 21 en 22 gaan nie oor verloste siele wat hemel toe gaan nie, maar oor die nuwe Jerusalem wat uit die hemel na die aarde kom en so die nuwe hemel en aarde skep. Dit is een en dieselfde plek. As Jesus terugkom gaan Hy die hele wêreld verander en dit met vreugde, geregtigheid en liefde vul. Lees net Jesaja 11:1 – 10 waar die profeet hierdie nuwe wêreld beskrywe. Met Jesus Christus se opstanding het hierdie nuwe skepping begin. God het hierdie wêreld gemaak; Hy het dit lief en Hy gaan dit hernuwe.

 

God wil mense regstel om die wêreld reg te stel. Dit het Jesus Christus ook bereik. God het die mens gemaak om oor die aarde te heers – die mens is God se verteenwoordiger op aarde. Daarom is die mens se opstand teen die Skepper so ‘n ramp – nie net vir die mense nie, maar vir die hele skepping.

 

Die goeie nuus van die toekoms hang af van die goeie nuus van die verlede. Die opstanding van Jesus Christus is die lanseerblad vir God se nuwe wêreld. God se nuwe wêreld het begin en ons kan deel daarvan wees.

 

 

 

image_pdfimage_print