Het ons ons godsdiens afgewater? Die hedendaagse kerk

image_pdfimage_print

When I cease to preach salvation by faith in Jesus, put me into a lunatic asylum, for you may be sure that my mind is gone –  C. H. Spurgeon

Het ons ons godsdiens afgewater? Die hedendaagse kerk

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

In die vorige blog het ons gelees van die vier vissermanne langs die See van Galilea en die prys wat hulle moes betaal om vir Jesus Christus te volg. Wat hoor ons vandag in die kerk?

Nooi Jesus Christus in jou hart en lewe; herhaal hierdie gebed agter my aan; jy is gered. Nêrens in die Bybel leer ons dat ons Jesus Christus in ons hart en lewe moet innooi nie; nêrens in die Bybel lees ons van so ‘n gebed wat ons moet bid nie. Tog is dit al wat van duisende Christene vandag verwag word. Ons water die werklikheid van wat dit beteken om Jesus te volg af.

Hoekom? Sodat dit beter vir die mense kan proe. Ons wil tog nie mense kwaad maak en afskrik nie. Duisende mense dink hulle is Christene, maar is dit nie. Jesus self het ons hierteen gewaarsku: Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree (Matteus 721 – 23).

Jesus praat nie hier met heidene of ateïste nie – Hy praat hier met goeie godsdienstige mense wat glo dat hulle saak met God reg is. Eendag sal hulle met ‘n skok uitvind dat dit nie so is nie. Hulle bely hulle geloof in Hom; hulle doen goeie werke, maar hulle ken Hom nie.

Is dit nie baie algemeen in die hedendaagse kerk nie? Ons bely ons geloof in Jesus Christus; ons doen goeie werke, maar ons ken Hom nie. Hoekom gebeur dit? Want die pad wat ons moet loop om Jesus Christus te volg, is nie so eenvoudig en maklik nie. Daarna gaan ons volgende keer kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...