Hoe pas ’n mens die Bybel vandag toe – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Vraag:

Ek hoor soveel preke. Lees baie waarhede in die Bybel, maar sukkel nog om dit wat 2000 jaar gelede vir antieke mense geskryf is, vandag effektief toe te pas. Netnou lees ek iets “in” die Skrif wat nie daar staan nie. Gee asb raad.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hoe pas mens die Bybel op vandag toe?

Hoe pas mens die Bybel op vandag toe? Hierdie vraag gaan oor wat in die wetenskap bekend staan as ‘hermeneutiek’, oftewel die manier waarop mens ‘interpreteer en verstaan’. Die Bybel is inderdaad ongeveer 2000+ jaar geskryf in ander kulturele en sosiale omstandighede (dink maar aan van die Ou-Testamentiese boeke wat meer as 2500 jaar gelede geskryf is toe van die kulturele gewoontes nog maar primitief was in vergelyking met vandag).

Bybellesers vandag voel aan dat mens nie die ou kulturele gewoontes net so op ons vandag kan toepas nie – vir sekere dinge lyk dit onsinnig. God wil tog sekerlik nie dat ons ons eetgery moet weggooi en soos die ‘ou mense’ met die hande eet of ’n leersak met wyn omstuur sodat elkeen ’n sopie kan vat nie. Ons hoef sekerlik nie soos die dissipels van Jesus rokke te dra of kopdoeke om te bind nie. Vir ons as Bybellesers is bogenoemde voorbeelde (en daar is nog baie ander) genoeg om ons te laat besef: ons kan nie alles net so op ons vandag toepas nie. Die tye het verander en so het die kleredrag, huise, kerke ens. God wil sekerlik nie dat ons alles moet los en soos die mense 2000 jaar gelede moet eet of aantrek nie.

Dit bring ons by die belangrike vraag van die leser: hoe moet ons dan die Bybel verstaan en op ons vandag toepas? Daar is verskillende benaderings waarvan ek ’n paar noem.

  1. Daar is gelowiges wat sê dat die Heilige Gees mens lei om te weet wat jy moet toepas en wat nie. Deur die woorde van die Bybel te lees word mens bewus van wat die Here vir jou wil sê. Natuurlik is die Heilige Gees aktief as mens die Bybel lees – dit is God se boek. Maar die gevaar is natuurlik dat mens die Gees van God met jou eie gees (1 Joh 4:1-3 noem dit valse geeste) kan verwar en goed wat jy graag wil hoor in die Bybel inlees. Om misverstand te voorkom moet mens dus weer en weer lees en ook hoor wat die Gees vir ander sê, want as die Here ’n belangrike boodskap vir sy mense het, gaan hy dit mos nie in geheime skrif net vir jou skryf nie.
  2. Daar is ook mense wat hulle houding teenoor die Bybel verander en sê dat die Bybel maar net mensewoorde oor God is. Dit is nie regtig God se woorde nie, maar wat mense oor Hom sê. Hierdie Bybelskrywers was volgens hulle maar mense soos ons wat ook foute kon maak. Die Bybelleser moet en hoef dus nie alles van die Bybel op homself toe te pas nie. Omdat dit net mensewoorde is, kan jy daarmee verskil en kan jy maar sekere dinge wat in die Bybel staan ignoreer of verander. Hier speel die tydsgees veral ’n rol – as die gemeenskap van hoofsaaklik nie-gelowiges ’n saak anders sien as wat in die Bybel staan, is die versoeking groot om maar saam met die massas te stap, al beteken dit dat dit nou nie heeltemal is wat die Bybel bedoel nie.
  3. Ander glo elke woordjie in die Bybel is deur God gegee en geïnspireer. Dit beteken dat mens die Bybel letterlik moet toepas. As die Bybel sê dat vroue hulle hoofde moet bedek, dan moet hulle hoede dra, of as die Bybel sê ons moet uit ’n beker nagmaal hou moet ons uit ’n beker nagmaal hou. Daar is selfs gemeenskappe (onder andere in Amerika), wat die Bybel so lees, waar hulle nie karre of telefone of TV’s het nie, omdat hulle die kulturele gebruike in die Bybel slaafs navolg.
  4. Daar word egter (veral in die hoofstroomkerke) erken dat daar dinge in die Bybel is wat mens nie so direk op vandag kan toepas nie, veral as dit by die kulturele gebruike en sulke dinge kom. Die Bybel is in ’n spesifieke situasie en tyd geskryf (ten minste 2000 jaar gelede). TOG is die Bybel die WOORD van God, wat ’n ander manier is om te sê dat God se boodskap, sy openbaring in en deur die Bybel gegee word. Met ander woorde: daar is twee aspekte wat in ag geneem moet word, naamlik, die Bybel bevat die openbaring van God, maar dit is ‘aangetrek’ (word aangebied) in die ‘klere’ (gebruike en konteks) van die mense van ongeveer 2000 jaar gelede.

Hoe nou gemaak? Hoe skei mens die kulturele gebruike (die kulturele ‘klere’) van die openbaring van God, met ander woorde, van sy boodskap? Die hoofmanier waarop dit gedoen word (ook in die teologiese lees van die Bybel) is by wyse van analogie. Analogie beteken dat daar tussen twee dinge iets is wat dieselfde is, maar ook iets wat verskil en help om die twee dinge van mekaar te skei.

            Die proses verloop soos volg:

 

Die eerste stap is om te vra (en eksegese help  mens daarmee) wat wil hierdie vers/ gedeelte vir God se mense sê? In die geval van 1 Kor 11 waar vroue gevra word om hoofbedekkings in die openbaar te dra het die kulturele agtergrond vereis dat vroue dit dra as teken daarvan dat hulle hul mans en huweliksituasie respekteer. Slegte vrouens op soek na mans het sonder hoofbedekkings rondgeloop. Die boodskap is dus dat vroue hulle huwelikssituasie moet respekteer en hulle wys dit deur in die openbaar hoofbedekkings te dra. Die hoofbedekkings het dus ‘gepraat’ – dit was ’n simbool wat iets gesê het.

            Hierdie Bybelboodskap geld vandag nog hoewel ons nie die kulturele gebruik (’n doek om die kop) presies so na te volg nie (dws. die kulturele ‘klere’ is die hoofbedekking – dit verskil van vandag, hoewel die boodskap vandag nog geld). Die vraag is nou hoe mens dieselfde boodskap aan mense van vandag gaan verduidelik? Watter ‘kulturele klere’ van vandag gaan gebruik word om mense te laat verstaan dat o.a. respek binne die huwelik vir God belangrik is. Daar is natuurlik meer as een moontlikheid: huweliksmaats moet nie met ander flirteer op partytjies of sosiale plekke nie, of miskien dat vroue klere sal aantrek wat nie uitlokking van ander mans aanmoedig asof sy nie self ’n man het nie. Dis analogie: iets bly dieselfde (die booskap) maar iets verskil (die kulturele gebruike).  Nog ’n voorbeeld: As Jesus vir die Twaalf dissipels sê dat hulle gered is, is die analogie die volgende: die Twaalf dissipels is almal al lank gelede dood, maar hulle was volgelinge van Jesus. Almal wat vandag Jesus se volgelinge is is analoog met Jesus se Twaalf dissipels. Dus kan mens vandag vir alle gelowiges sê dat hulle gered is, hoewel hulle nie die Twaalf self is nie. Mens kan egter nie sê dat alle mense gered is nie, want alle mense is nie soos die Twaalf volgelinge van Jesus nie.

            Hoewel hier benadering baie algemeen gebruik word om die Bybel op vandag toe te pas, is dit ook nie sonder probleme nie, want mense kan verskil oor presies waar die verskil en waar die ooreenstemming lê en hoe die boodskap in ‘vandag se klere’ aangetrek moet word – met ander woorde, hoe en waarop moet die boodskap toegepas word. Daarom is oorweging en gesprek met mede-gelowiges altyd aan te bevele, want dit help mens om nie jou eie rigting te volg nie, maar onderleiding van die Gees en mede-gelowiges die waarheid te soek.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...