Hoe verskil die moderne kerk van die vroeë kerk?

image_pdfimage_print

 

“It is not he who reads most, but he who meditates most, that will prove the choicest, sweetest, wisest, and strong Christian.” – Thomas Brooks

 

Hoe verskil die moderne kerk van die vroeë kerk?

Ons hoor dikwels Christene wat sê dat ons meer soos die vroeë kerk moet wees. Preston Sprinkle sê dat baie van ons ontnugter sal wees, want die vroeë kerk het waardes nagestreef wat radikaal van ons waardes verskil. Kom ons kyk na ‘n paar sulke waardes.

 

  1. Die familie

Een van hierdie waardes is hulle siening van die kerk as ‘n familie. Maar ons moenie na hierdie beeld deur die lens van ons huidige families kyk nie – families waar die grootouers in ouetehuise geplaas word en stout kinders as uitgeworpenes hanteer word.

 

In die eerste eeu het die familie ver buite die kernfamilie gestrek. Hulle is bymekaar gehou deur ‘n onvoorwaardelike band van toewyding en diens. Jy hoef nie van jou familie te hou nie, maar jy moes hulle liefgehad het. Vir Jesus en Paulus sluit familie mense van alle rasse en sosiale strata in.

 

  1. Hoe ons ons geld spandeer

Baie gemeentes spandeer hulle geld op salarisse, geboue, ens. En barmhartigheid? Waarskynlik so ‘n 1 of 2% word gespandeer om mense in nood te help. Nog sowat 5 – 10% word aan behoeftes buite die gemeente gespandeer – wat ook die armes mag help. Nêrens in die Nuwe Testament lees ons van geld gebruik vir ‘n gebou nie en baie selde word geld vir salarisse gebruik. As die Nuwe Testament van gee praat, verwys dit gewoonlik na die herverspreiding van geld na die armes – gewoonlik arm gelowiges.

 

  1. Hoe ons oor mag dink

Militarisme is die begeerte dat ‘n land ‘n sterk militêre vermoë moet besit en bereid moet wees om sy nasionale belange aggressief te beskerm. Wat het dit nou met die kerk te doen? Die militêre geskiedkundige, Andrew Bacevich sê: “Were it not for the support offered by several tens of millions of evangelicals, militarism in this deeply and genuinely religious country becomes inconceivable.” Die vroeë Christene was nooit beïndruk met die mag van die Romeinse weermag nie – hulle hou vas aan die kruis waar die bose deur lyding en liefde en nie deur swaarde en spiese oorwin word. Die vers wat hulle dikwels aangehaal het, was Jesus se opdrag dat ons ons vyande moet liefhê. Vandag het ons hierdie opdrag onder ‘n aantal voorwaardes begrawe – ons kan tog nie al ons vyande liefhê nie. Ons verkies geregtigheid bo genade. Vir die vroeë Christene was trou aan God se koninkryk belangriker as trou aan die Romeinse Ryk.

 

  1. Hoe ons die Bybel bestudeer

Die vroeë kerk het groot waarde aan die korporatiewe bestudering van die Bybel geheg. Vandag besit baie Christene meer as een Bybel. Die vroeë kerk het Jesus se stelling dat ‘n mens nie van brood alleen kan leef nie, maar van elke woord wat uit die Here se mond kom, uitgeleef. Baie Christene vandag is Bybels ongeletterd – ten spyte van al hulle Bybels. Die vroeë Christene het God se woord soos ‘n spons opgeneem. Elke nuwe bekeerling het hulle eerste drie jaar as gelowiges gebruik om die hele Bybel te bestudeer. Dit was nie ‘n opsie nie. Baie van die vroeë Christene kon nie lees nie, maar hulle het die Bybel geken deur na die gesamentlike lees en onderrig van God se woord te luister. Hulle sou ons moderne mense nie kon verstaan nie: ons besit en lees God se woord … en verwaarloos dit.

 

As ons werklik na die vroeë kerk wou terugkeer, sou ons radikale veranderinge in ons geloofslewe moes aanbring.

 

image_pdfimage_print