Hoekom ly ons in hierdie wêreld?

image_pdfimage_print

 

 “Faith never knows where it is being led, but it loves and knows the One who is leading.” – Oswald Chambers

 

Hoekom ly ons in hierdie wêreld?

Daar kom tye waar die oeste misluk, waar werk skaars is, waar mense gebrek ly. Hoe verstaan ons dit in die lig van God se liefde? Die wêreld wat God gemaak het, is tog nie ‘n wêreld van tekorte, siekte en dood nie. God se wêreld is tog ‘n wêreld van oorvloed, gesondheid en lewe. Die mens se sonde bring egter lyding en swaarkry. [Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry (Romeine 8:22 – 23).

 

Hoekom verwag ons iets meer as pyn en dood? Die wêreld is tog vol opstand teen sy Skepper. As ons die Gewer van alle lewe verwerp, moet ons lyding en dood verwag. God laat mense toe om sy aarde te bewoon en Hy seën hulle. [Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen – Matteus 5:45] God gee aan ons tyd om, voor dit te laat is, van Hom te leer en na Hom te draai. Baie van ons is ondankbaar en hou aan sonde doen. Ons sien nie sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld raak nie. [God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil bring lei nie? – Romeine 2:4]

God gebruik soms hartseer en lyding om mense na Hom toe terug te bring. ‘n Goeie voorbeeld is Jeremia. Jeremia en sy mense geniet goeie tye, maar dit verander nie hulle harte nie. [Hulle het nie vir hulleself gesê: Ons moet die Here ons God dien wat ons die groot reëns gee, die vroeë en die laat reëns, elkeen op die regte tyd, wat vir ons gesorg het met oeste op die regte tyd,” nie – Jeremia 5:24.] Later volg moeilike tye – oorlog en hongersnood. Dit wys vir mense die gevolge van sonde. [Julle oortredings het dit laat verander, julle sondes het die voorspoed van julle weerhou – Jeremia 5:25.] Steeds wou die volk nie luister nie. Die gevolg is dat Jerusalem vernietig word en baie in ballingskap weggevoer word.

 

Klaagliedere vertel ons hoe die skrywer huil terwyl hy sien hoe sy mense van honger sterf. Hy weet hoe hard God probeer het om hulle terug te wen. [Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie; dit is elke môre nuut. U trou is groot – Klaagliedere 3:22 – 23.]

God is ‘n God van liefde; God is verdraagsaam. Soms moet ons egter verstaan dat opstand teen Hom nie altyd ongestraf sal bly nie.

 

 

 

image_pdfimage_print