Is jou naam belangrik? – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

‘n Leser vra:

 Is dit verkeerd om jou kind Ruach te noem? Familie van my het, en die arme kind ken net pyn en lyding. Hy is meer in die hospitaal as by die huis. Sy longe is swak en nog baie ander.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Naamgewing van kinders was nog altyd ’n sensitiewe saak. Miskien nie meer vandag só soos ’n geslag of twee, drie gelede nie toe dit in sekere gemeenskappe (veral tradisioneel Afrikaner-gemeenskappe) nog baie belangrik was om die grootouers te vernoem. Vandag is daar baie groter rustigheid daaroor om nie noodwendig die grootouers pertinent te vernoem nie, veral waar dié name nogal “swaarwigtig” kan oorkom. Wat ’n mens dus deesdae aantref, is óf kombinasie-name (Susanna Maria wat Sumarie word), óf waar heeltemal wegbeweeg word van familiename in die rigting van eie skeppinge. Daar word dan geredeneer dat die kind nie belas moet word met ritse familiename wat “verleentheid” kan veroorsaak nie. Mooi-klinkende name word dan gekies, wat geen inherente betekenis dra nie, maar gewoon net lekker op die (hedendaagse) oor val. Die invloed van die rolprentindustrie en sosiale media moet in hierdie verband nie onderskat word nie. Dit skep nuwe sosiale naam-norme waaraan almal graag wil meedoen.

’n Ander weg wat dikwels opgegaan word, is om doelbewus name te gee wat een of ander betekenis dra of suggereer. In hierdie verband is vreemdtalige name, of name met ’n godsdienstige konnotasie dikwels gewild. En ek vermoed dat die naam Ruach in hierdie kategorie val. Ruach beteken “wind” of “gees” in Hebreeus, wat ook soms na die Gees van God kan verwys (vgl Genesis 1:2), en moontlik wou die ouers hiermee aandui dat hulle kind ’n draer van die (Heilige) Gees sal wees. Inderdaad is dit binne Afrikaanse konteks ’n ietwat vreemde naam, maar myns insiens nie so vreemd dat dit die oorsaak van die kind se gesondheidsprobleme kan wees nie. Laasgenoemde se oorsaak moet waarskynlik elders gesoek word.

Indien dit egter blyk dat die kind se naam tog ’n (bydraende) rede tot stres en lyding by die kind is (dit sal mens mooi moet deurpraat met die kind), sal dit myns insiens beter wees om eerder die betekenis van die naam aan hom te verduidelik sodat hy uiteindelik ’n trots daaroor kan ontwikkel. Wat veral belangrik is, is dat niemand daaroor moet stres dat die naam dalk op disrespek teenoor die Heilige Gees sou neerkom nie, veral as die ouers die naam uit godsdienstige oorwegings gekies het. Daar is geen teologiese rede waarom dit verkeerd sou wees om so ’n naam te dra nie. Inteendeel, dit moet eerder so gesien word dat die band tussen die kind en God op hierdie manier bevestig word. Die kind is nie net die ouers se kind nie, maar ook God s’n. Trouens, name met ’n godsdienstige konnotasie is baie algemeen en is in die geskiedenis dikwels aan kinders gegee. Byvoorbeeld, die groot klassieke komponis, Wolfgang Mozart, se tweede naam is Amadeus, wat “deur God geliefd” of “hy wat vir God liefhet” beteken. En so sou mens talle ander voorbeelde kon noem. Verder, Amadeus is die Latynse weergawe van die Grieks, Teofilus, met dieselfde betekenis, en dit was trouens Mozart se amptelike doopnaam. En ons weet van ten minste een persoon in die Bybel met dié naam, naamlik die persoon aan wie die boeke Lukas en Handelinge opgedra is (Lukas 1:3; Handelinge 1:1). ’n Mens bevind jou dus in goeie geselskap as jy ’n naam met ’n sterk godsdienstige konnotasie het. Op sy minste moet dit aan die kind ’n gevoel van trots gee, eerder as ’n verleentheid te wees.

Ten slotte, enersyds moet ’n mens nie te hoog opgee oor ’n naam nie, nie te veel afleidings daaruit maak nie. Na alles is dit nie die naam wat die mens maak nie, maar die mens die naam. Andersyds moet mens met groot omsigtigheid besluit op ’n naam vir jou kinders, want dit is iets wat hulle vir die res van hulle lewe met hulle saamdra. ’n Mens moet veral so kies dat dit nie net jou ideale, voorliefdes of vooropgesette idees is wat die naam bepaal nie, maar dat dit ook iets sal wees waarmee jou kind gemaklik sal kan saamlewe.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

 

image_pdfimage_print

You may also like...