Het jy geweet? Begrafnisse

image_pdfimage_print

Het jy geweet? Begrafnisse – Jan van der Watt

Lyke moes in die Joodse tradisie so gou moontlik begrawe word (Deuteronomium 21:23; Handelinge 5:5-6, 10), waarskynlik omdat die klimaat so warm is in Palestina, maar ook omdat lyke as ritueel onrein gesien is.

Om iemand nie te begrawe nie, was om aan daardie persoon geweldige oneer te bewys (1 Konings 14:10-14; 2 Konings 9:34-37; Openbaring 11:9). Hoewel die Jode se bure, naamlik die Grieke en Romeine, lyke veras het, was dit nie ʼn gebruik onder die Jode nie. Alleen in uiterste gevalle is dit toegelaat, byvoorbeeld as die liggaam vreeslik geskend was (1 Samuel 31:12) of as daar ʼn plaag gedreig het (Amos 6:10).

Nadat die persoon sy laaste asem uitgeblaas het, het die oudste seun of ʼn ander nabye familielid die gestorwene se oë toegemaak sodat dit lyk of hy/sy slaap (Genesis 46:4). Daarna is die liggaam gewas (Handelinge 9:37) en met lekkerruik parfuum en olie gesalf (Johannes 12:7). Die liggaam is dan in materiaal (vir gewone mense gewoonlik linne) toegedraai (Matteus 27:59; Johannes 11:44). Daarna is die persoon in ʼn voorbereide graf gaan neerlê (Johannes 19:39-42). Die liggaam is gewoonlik op ʼn houtdraagbaar geplaas en deur lede van die huishouding na die graf gedra (2 Samuel 3:31). Die familie is deur professionele roubeklaers begelei, wat gewoonlik vroeër al na die huis toe gekom het. Dit was belangrik om hardop te huil en so jou rou en smart bekend te maak (2 Samuel 3:31; Jeremia 9:17; Amos 5:16; Matteus 9:23). Dit was ook belangrik dat die persoon in die ‘familiegraf’ begrawe moes word. As iemand nie in die familiegraf begrawe word nie en die familie ook nie vir ʼn aantal dae intensief rou nie (die hele rouproses vir die vrou moes tot ʼn jaar duur), is dit as oneer vir die gestorwene gesien. Nie een van die vereistes was in die geval van Jesus se begrafnis teenwoordig nie. Daaruit lei teoloë af dat Jesus se lyding na sy dood aangegaan het – ook sy begrafnis was vernederend. Met sy opstanding sou alles egter verander.

Grafte is dikwels uit rotse gekap sodat dit soos ʼn kamer met beddens lyk. Die lyke is dan op die ‘beddens’ neergelê. Nadat die lyk ontbind het, is die bene bymekaar gemaak en in ʼn kissie deur die familie bewaar. As daar dus van ʼn nuwe graf met Jesus se begrafnis gepraat word (Johannes 19:41), beteken dit dat daar nog nie iemand voor Hom in die graf begrawe is nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

 

image_pdfimage_print