Verstaan God se wil

image_pdfimage_print

“Jesus Christ carries on intercession for us in heaven; the Holy Ghost carries on intercession in us on earth; and we the saints have to carry on intercession for all men.” – Oswald Chambers

 

Verstaan God se wil

Elke dag is vol keuses en besluite – sommige minder belangrik, ander baie belangrik. Almal van ons het groot besluit om te neem: Met wie moet ek trou? Watter werk moet ek doen? Ens. God gee aan ons leiding sodat ons keuses kan maak wat Hom tevrede stel. Paulus bid vir die gemeente in Kolosse: Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang (1:9 – 10).

 

Maar wat beteken die “wil van God?” In die Bybel verwys dit soms na God se ewige plan waarin Hy alles aan sy wil laat voldoen. Daar is ook God se voorskriftelike wil. Dit is soos die voorskrif van ‘n geneesheer – as ons dit neem is dit voordelig, maar ons kan weier om dit te neem. God se voorskriftelike wil is wat God wil hê dat ons moet kies in die lewe. Dit sluit die duidelike opdragte in sy Woord in, maar ook onderskeiding en wysheid Die soewereine wil van God is hoe dinge is; die voorskriftelike wil van God is hoe dinge behoort te wees.

 

 

God gebruik nie twyfelagtige tegnieke of allerhande foefies om sy wil bekend te maak nie. Maar hoe kan ons God se wil ken?

  • Duidelike opdragte van God

God het reeds vir ons in sy Woord gesê wat sy wil vir ons lewens is. Daar is sekere gedeeltes wat vir ons sê dat sekere dinge die wil van God is. Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag (1 Tessalonisense 5:16 – 18); Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe (1 Tessalonisense 4:3). Daar is nog baie soortgelyke verse. Ons kan met sekerheid weet dat hierdie dinge God se wil vir ons lewens is. Hoe meer ons God se woord lees, hoe duideliker is God se wil vir ons lewens. Dwarsdeur  sy woord gee Hy vir ons leiding.

 

  • Interpreteer en pas die Skrif akkuraat toe

Paulus sê vir Timoteus dat hy die woord van die waarheid suiwer verkondig (2 Timoteus 2:15). Romeine 12:1 – 2 help ons baie: En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Die ontdekking van God se wil is ‘n proses wat soos volg verloop: Ons gee ons lewe oor aan God. Dit beteken dat ek die gedrag van die heidense kultuur verwerp en my denke en lewe vernuwe. Hierdie oorgawe van my lewe aan God lei tot onderskeiding. Soos ons dan akkuraat lees en nadink oor God se woord groei ons nader aan God en voer sy wil uit. Nadenke en gebed oor die woord verhoed dat ons lees net ‘n intellektuele oefening bly.

 

  • Gebed en die leiding van God.

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie (Jakobus 1:5 – 6). Ons moet vra vir wysheid. Gebed en tyd saam met God maak ons harte oper en meer bereid om besluite te neem.

 

  • Verbly jou in die Here

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer (Psalm 37:4). God gee nie aan ons ‘n volledige padkaart vir die lewe nie; God roep ons om ‘n verhouding met Hom te hê en dit sal al die besluite wat ons moet neem, vorm.

 

  • Soek wyse raad

Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie (Psalm 84:12). Om reg te lewe is moeilik, maar God het ons nie alleen op aarde gelos nie. Daar is mense beskikbaar wat God gebruik om wyse raad te gee. Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is (Spreuke 15:22). In die Spreuke-boek is daar baie verse wat die belang van raadgewers beklemtoon.

 

  • Evalueer omstandighede

As jy al bogenoemde maniere gebruik om God se leiding te soek, kan jou omstandighede baie behulpsaam wees. Niks gebeur toevallig nie. Maar omstandighede is nie belangriker as die ander nie – veral nie sy Woord nie.

 

  • Gebruik suiwer oordeel

Gesonde oordeel is goed. Die menslike rede is ‘n gawe van God en is goed as dit in ooreenstemming met God se woord is. In Handelinge 6 lees ons van die suiwer oordeel van die apostels toe hulle sewe diakens aangestel het sodat hulle al hulle aandag aan gebed en bediening van die woord kon gee.

 

  • Ondervind God se intrede.

En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy (Psalm 115:3) Daarom moet ons nie verbaas wees dat God ons soms op wonderbaarlike wyse lei nie. So verander God Paulus se sendingplanne toe hy ‘n man van Masedonië sien wat hom smeek om na hulle toe te kom (Handelinge 16:9 – 10). God tree volgens sy diskresie in om ons te lei.

 

Ons kan die wil van God agterkom. Die vraag is of ons dit wil doen.

 

image_pdfimage_print

You may also like...