JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (1)

image_pdfimage_print

JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (1) – Jan van der Watt

Die kruis van Jesus vorm saam met die opstanding die kern waarrondom die identiteit van Jesus en die Christendom oor die eeue gebou is. Dit het oor die jare heen ook die vis (wat oorspronklik die belangrikste teken van die Christene was) as hoofteken vir die Christendom vervang. Dit is eintlik ‘n onwaarskynlike verloop van gebeure, aangesien ‘n koning of Messias wat aan ‘n kruis dood is (‘n skandelike dood) nie vir die destydse mense na die ideale messias sou klink nie.

 

In hierdie Bybelstudie gaan ons kyk a) na die verloop van die kruisgebeure en b) na die manier waarop die kruis geïnterpreteer is.

 

deel 1 – Hoe verloop die kruisgebeure?

 

Jesus se kruisiging word min of meer op dieselfde manier deur die verskillende evangeliste beskryf. Die verskille wat ‘n mens tussen die verskillende beskrywings kry, hang saam met die besondere klem wat elke skrywer wou lê (ons noem dit die redaksie van elke skrywer). Kom ons kyk na die verloop:

 

Lees nou eers Markus 14-15 waar die verhaal vir ons vertel word.

 

  • Die gebeure voor die gevangeneming
    • Daar word planne gemaak om Jesus te vang deur van ‘n verraaier gebruik te maak
    • Jesus eet vir oulaas met sy dissipels saam en stel die nagmaal in.
    • Jesus gaan saam met sy dissipels na die tuin van Getsemane – daar bid Hy intens tot sy Vader
  • Jesus word gevang en verhoor
    • Jesus word in Getsemane gevang nadat Judas Hom verraai het
    • Jesus word deur twee “howe” verhoor:
      • Die Joodse Raad
        • Hulle soek redes om Jesus dood te maak en gebruik tot vals getuies
        • Petrus verloën Jesus
      • Jesus voor die Romeinse heerser, Pontius Pilatus
        • Pilatus verhoor Hom op aanklag dat Hy laster en Homself koning van die Jode maak
        • (Intussen pleeg Judas selfmoord)
        • Nadat die Jode Barabbas kies, word Jesus oorgelewer om gekruisig te word, al dink Pilatus Hy is onskuldig
  • Jesus word gekruisig
    • Die soldate bespot en slaan Jesus voordat Hy sy kruis na Golgota moes dra
    • Jesus word gekruisig
    • Jesus sterf en die Romeinse soldaat wat daar gestaan het besef dat Jesus regtig die Seun van God is
    • Daar vind wonders plaas (bv. donkerte en aardbewings)
  • Jesus word begrawe
    • Jesus word deur Josef van Arimatea van die kruis afgehaal en begrawe
    • Romeinse soldate bewaak die graf

 

Op die oog af verloop die gevangeneming van Jesus volgens die prosedure wat destyds bekend was as iemand gevang word. Tog het die evangeliste nie net die feite weergegee nie, maar die verhaal gebruik om te “preek” ook. As jy tyd het vergelyk nou Markus 14-15 met Johannes 18-19 en kyk watter verskille jy kan raaksien…………………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Volgende keer kyk ons na ‘n aantal interessante dinge wat rondom die kruisiging van Jesus gebeur het.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...