Laat sy Liefde jou Lei: Koester jou vriendskappe

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Koester jou vriendskappe – Milanie Vosloo

Vriende kan mekaar verwoes. Daar kan ook ‘n vriend wees vir wie jy liewer is as vir jou eie broer. Spreuke 18:24

Navorsing het bewys dat vroue ‘n sekere goedvoel-hormoon afskei wanneer hulle tussen ander vertroueling-vriendinne is. Klaarblyklik vryf ons letterlik positiewe energie op mekaar af wanneer ons weet dat ons tussen opregte vriendinne is. Is dit nie wonderlik dat ons Vader vroue-vriendinne vir mekaar gegee het nie?   Opregte vriendinne weet hoe kosbaar hulle verhouding is, Daarom sal hulle altyd:

  •  onderlinge vertroue bewaar;
  •  mekaar onveroordelend aanvaar en onvoorwaardelik vergewe;
  •  tyd en moeite doen om die ander een te leer ken; en
  •  energie in die verhouding sit.

Onthou Ralph Waldo Emerson se woorde: Die enigste manier om ‘n vriend te hê is om een te wees. Die grootste geskenk wat jy jou vriend kan gee, is ‘n stukkie van jouself. Moet nooit toelaat dat jou besige program of enige iets anders jou kosbare verhoudings met ander vroue in die wiele ry nie. Jy het dit nodig. Hulle het jou nodig. En meer nog: God gun jou die heerlikheid van koesterende vriendskappe.

Opregte vriendskap is soos ‘n helder ster in jou donker nag: Dit gee altyd hoop. Dis soos ‘n verkwikkende glas koue water op ‘n warm dag: Dit les jou dors. Dis soos ‘n hangmat in ‘n stil tuin: Dit maak jou rustig. Opregte vriendskap is ‘n kosbare meesterstuk wat deur twee harte geskilder word. En moet met albei hande vasgehou word.

Here, maak van my ‘n ware omgee-vriendin by wie ander veilig voel, asseblief.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...