Laat sy Liefde jou Lei: Vervulling in jou jy-wees

image_pdfimage_print

Vervulling in jou jy-wees – Milanie Vosloo

Daar is wonderlike verhale van mense wat ongelooflike dinge kan doen, teenslae op wonderbaarlike wyses oorkom en teen alle logika in, die onmoontlike regkry. Wanneer ons hierdie mense se verhale lees, het ons altyd ’n keuse wat ons daarmee maak:

Ons kan kies of dit ons motiveer om die beste uit onsself te haal of ons kan toelaat dat dit ons aan ons eiewaarde laat twyfel. Of dit ons in ons hoekie van selfbejammering laat sit. Daardie hoekie waar ons vir onsself sê dat ons tog nie in staat is tot hoogtes, prestasies en groot dinge nie.

Nouja, as jy soms in jou hoekie-vir-jammer-kryers gaan sit, is jy presies waar Satan jou wil hê. Want Satan dryf mense na dié plekke waar hulle vertroue in hulself en hul God verloor. Hy weet immers dat die oomblik as ons in ons jammerkry-plek is, hy met ons kan maak net wat hy wil.

Niemand, ook nie God, verwag van jou om dinge te doen wat buite jou talentveld, ondervindingswêreld of vermoëns lê nie. Al wat die Vader van sy kinders verwag is dat elkeen van ons ons unieke talente na die beste van ons vermoëns sal uitleef. En dit maak nie saak of die prestasies wat ons daardeur behaal die koerante se hoofopskrifte behaal nie.

Wanneer ek en jy dit wat ons goed kan doen, góéd doen, leef ons ons doel op aarde uit. En dan sal ons ’n diep gevoel van tevredenheid en vervulling ervaar.

Here, ek wil my beste “ek” wees.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...