Leef uit jou Doop: 2.4 Inlywing in die verbond

image_pdfimage_print

Leef uit jou Doop: Inlywing in die verbond – Adrio König

2.4 Inlywing in die verbond

Naas die vereniging met Christus, het ons hier die betekenis wat die beste ontwikkel is. Ons sal in die volgende hoofstuk terugkom na die inlywing in die verbond wanneer ons kyk na die moontlike verband tussen die besnydenis en die doop.

Dis interessant dat al drie die betekenisse waarna ons so ver gekyk het, met inlywing te doen het. Deur die doop word ons in Christus ingelyf, in sy liggaam ingelyf, en nou ook in die verbond ingelyf. Ons sal later verwys na die korporatiewe betekenis van die doop wat ’n wesenlike faset van die evangelie is. Dit beteken dat God nie net met enkelinge werk nie, maar dat Hy enkelinge in ’n


gemeenskap inlyf, dat Hy ook met mense as groepe werk. Daar is selfs ’n sin waarin Hy met die ganse mensdom as ’n eenheid werk.

♦ Deur Adam se sonde word die hele mensdom geraak (Rom 5:12-21).

♦ Abraham is die vader van alle gelowiges (Rom 4:16).

♦ In Christus word die hele wêreld met God versoen (2 Kor 5:18-19).

Daarom red God ook een groot familie, nie net los enkelinge nie. Maar daarby kom ons later.

Vir die doop wat ons in die verbond inlyf, kyk ons na Galasiërs 3 en 4, en na Handelinge 2:38-39.

Galasiërs 3

Ons het hier naas Romeine 6 en Kolossense 2-4 die rykste hoofstuk oor die doop. Ons het reeds in Romeine en Kolossense gelees wat ook in Galasiërs 3:27 staan: “Julle almal wat deur die doop met Christus verenig is.” Maar hier kom iets by: “En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God” (3:29). Dit kan tog nie iets anders beteken

nie as dat die doop ons in die verbond met Abraham inlyf.

Maar is die verbond met Abraham dan nie die ou verbond wat deur die nuwe verbond in Christus vervang  is nie? (Dit word onder 5.4 bespreek.) Kom ons kyk wat Paulus hier in Galasiërs oor Abraham en die verbond met Abraham skryf.

Hy skryf hierdie Brief om die gelowiges in Galasië te oortuig dat ’n mens nie die wet hoef te hou om gered te word nie, maar net die evangelie van Jesus moet glo. Om dit te bereik, stel hy dan die wet en die evangelie skerp teenoor mekaar. Maar kyk nou mooi wat Paulus onder die wet indeel, en wat onder die evangelie (3:1-9).

♦ Onder die wet deel hy in: Moses, die onderhouding van die wet, eie krag.

♦ Onder die evangelie deel hy in: Gees, geloof, Abraham, vryspraak.

Vir Paulus is Abraham dus deel van die evangelie!

Verder lees ons oor Abraham:

♦ Abraham het in God geglo, en daarom het God hom vrygespreek (3:6).

♦ Die goeie nuus (Grieks: “evangelie”) is al aan Abraham verkondig (3:8).

♦ Dié wat glo, is kinders van Abraham (3:7).

♦ Dié wat glo, word saam met die gelowige Abraham geseën (3:9).

♦ Deur Christus se kruis het ook heidene deel gekry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het (3:14).

♦ Christus is die eintlike nakomeling van Abraham (3:16).

♦ God het sy genade aan Abraham deur ’n belofte toegesê (3:18).

♦ As ons aan Christus behoort, is ook ons nakomelinge van Abraham (3:29).

Ons kan hier byvoeg wat Paulus in Romeine 4 oor Abraham skryf:

♦ Hy is die vader van alle gelowiges (4:17),

♦ en ons moet glo soos Abraham geglo het (4:17).

As ons dit alles bymekaarsit, is dit natuurlik nie moontlik om die verbond met Abraham die ou verbond te noem nie. In 5.4 sal ons sien die Skrif is duidelik oor wat die ou verbond is: die wetsverbond wat God by Sinai tydens die uittog uit Egipte met Israel gesluit het (Jer 31:31-34).

Die verbond met Abraham was tog van die begin af die geloofsverbond (Gen 15:6) en daarom die genadeverbond. Dis mos eintlik wat Galasiërs 3 ons leer.

Verder is dit duidelik dat ons deur die doop in hierdie verbond opgeneem word. Ons is immers deur die doop met Christus verenig, en omdat ons (deur die doop) aan Hom behoort, is ons nakomelinge van Abraham (3:27, 29), of kinders van Abraham (3:7).

Gaan net eers terug na die lys van tien dinge wat Paulus oor Abraham skryf. Is dit nie byna oorweldigend nie? Van geen ander gewone mens word in die Bybel selfs net die helfte hiervan geskryf nie. Is dit nie sonder meer duidelik nie dat enigeen wat die betekenis van Abraham nie reg

verstaan en tot sy reg laat kom nie, nie die rykdom van die evangelie goed verstaan nie?

Handelinge 2:38, 39

Hier het ons Petrus se oproep aan die Jode om hulle te bekeer en te laat doop. Wat ons hier interesseer, is die driedubbele kwalifisering van die doop. Die 1983-vertaling is

bietjie “los”; daarom gebruik ons liewer 1953.

♦ “Laat elkeen van julle gedoop word tot vergewing van sondes.” Ons kom later op hierdie betekenis van die doop terug.

♦ “en julle sal die gawe van die Gees ontvang”. Wat is “die gawe van die Gees”?

♦ “Want die belofte kom julle toe …” Wat is “die belofte”?

 

Die belofte

Wat is “die belofte” in Handelinge 2:39? Natuurlik die Heilige Gees. Maar is dit al? Skynbaar nie. Skynbaar ook “die vergifnis van sonde”. Maar het “die belofte” nie ook ’n ruimer betekenis nie?

“Die belofte” is ’n uitdrukking wat herhaaldelik voorkom in Handelinge en in Romeine en Galasiërs. Daar is vier gevalle in Handelinge wat belangrik is: 7:17; 13:23, 32; 26:6. In 7:17 is dit die belofte wat God aan Abraham gegee het. In die ander drie gevalle is dit ’n omvattende term wat verwys na die betekenis van Christus, veral sy geboorte (13:23), sy opstanding (13:32), en dan na die algemene

opstanding (26:6). Dit word alles saamgevat onder “die belofte aan die voorvaders” (13:32). In Handelinge is “die belofte” dus die lyn uit die Ou Testament waarby die apostels aangesluit het, die lyn wat teruggaan tot by Abraham. Dit sluit die blywende betekenis van die Ou Testament in.

Hieruit kan ’n mens alreeds vermoed dat “die belofte” in Petrus se Pinksterpreek ook ’n omvattende betekenis het en meer insluit as net die Gees en die vergifnis. Maar dis nog nie duidelik nie. Wanneer ons na “die belofte” in Paulus se Briewe kyk, word die betekenis nog duideliker. Dit blyk dat “die

verbond met Abraham”, “die seën van Abraham”, en “die belofte aan Abraham” wisselterme by Paulus is. Net in Romeine 4:13-22 alleen kom die term “die belofte” sewe keer voor as aanduiding van die verbond met Abraham. “Belofte” kan elke keer vervang word met “verbond”. Die betekenis is nog duideliker in Galasiërs 3-4. Hier word oor en oor van die “belofte” gepraat as die verbond met Abraham bedoel word (oa Gal 3:16, 17, 18, 22, 29). Dit is dus skynbaar redelik om te aanvaar dat “die

belofte” van Handelinge 2:39 die verbond met Abraham insluit.

Maar wat dan van die Gees as die primêre inhoud? Dis interessant dat die Gees juis direk met Abraham en die verbond met Abraham verbind word wanneer daar sprake is van “die belofte”. Die beroemde Galasiërs 3:14 – waar ons lees dat Christus eintlik aan die kruis die verbond met Abraham vir die heidene toeganklik gemaak het – vervolg: “dat ons die belofte van die Gees deur die geloof ontvang het” (1953-vertaling). Hier word die verbond met Abraham en die Gees op ’n merkwaardige

manier aan mekaar verbind. Dit gebeur weer in 4:28, 29 waar ons lees van Isak as die kind wat deur die Gees in die wêreld gebring is. Ons weet dat Isak juis die kind van die belofte genoem word, wat beteken dat die Gees en die belofte (verbond) ook hier aan mekaar gekoppel word.

Wat beteken dit alles vir “die belofte” in Petrus se Pinksterpreek? Dat “die belofte” waarskynlik minstens onder andere na die Abrahamverbond verwys.

Maar kom ons kyk na die ander onsekerheid in Handelinge 2:39: “Julle kinders”. Wie is dit? Petrus verwys na drie groepe vir wie God se belofte bedoel is:

♦ Julle,

♦ julle kinders,

♦ en almal wat daar ver is.

Daar is min verskil oor die eerste en derde groepe. “Julle” is die Jode wat besig is om na Petrus te luister, en “almal wat daar ver is” is die heidene wat later die evangelie sal hoor. Maar wat word bedoel met “julle kinders”? Beteken dit dat die kinders, net soos in die geval van Abraham, van

kleins af deel van die “belofte”, die verbond sal wees? Of is “julle kinders” hier eenvoudig ’n aparte groep wat net soos die ander twee, Jode en heidene, die evangelie moet hoor, moet glo en dan gedoop word?

’n Mens kom nie veel verder deur net na die woorde “julle kinders” te kyk nie. Maar wat hier opvallend is, is die feit dat hier drie groepe genoem word in plaas van net twee.

Dit kan min twyfel laat dat Petrus met hierdie drie groepe eintlik bedoel die hele wêreld. Dit was die opdrag van Jesus: die evangelie aan alle mense. Maar ons weet alle mense word normaalweg in die Bybel in twee groepe ingedeel: Israel en die nasies, Jode en heidene, Jode en Grieke, Jode en nie-Jode (Hand 14:1; 18:4; 19:10, 17; 20:21; Rom 1:14, 16; 2:9, 10; 3:9; 10:12) om maar net na die voorbeelde in twee Bybelboeke te kyk. Met hierdietweedeling word dan die hele mensdom bedoel.

In Efesiërs 2:17, 18 is daar nog so ’n tweedeling vir die hele mensdom: “dié wat naby is, en dié wat ver is”. Dis duidelik net ’n alternatief vir “Jode en heidene”. As daar dan konsekwent na die mensdom met hierdie tweedeling verwys word, waarom in Handelinge 2:39 skielik ’n driedeling? Waarom kom “julle kinders” by? As Petrus slegs gesê het: “Julle en almal wat daar ver is” was dit klaar duidelik wat hy bedoel: die hele mensdom. Is dit nie nog ’n teken dat die verbond met Abraham hier ter sprake is nie? Dit is mos die enigste voorbeeld  in die Bybel waar die mensdom nie met die bekende tweedeling aangedui word nie, maar met ’n driedeling:

♦ Abraham

♦ sy nageslag

♦ en al die volke van die aarde (Gen 12:2, 3).

En wanneer Paulus na Abraham, en spesifiek na die verbond met Abraham en die besnydenis verwys, gebruik hy juis hierdie driedeling vir die mensdom:

♦ Abraham (4:11)

♦ sy nageslag (4:12)

♦ en die heidene (4:11).

Ons het hier dus die tweede aanduiding dat “die belofte” waarna Petrus verwys die Abrahamverbond insluit. Net soos in Galasiërs 3 het ons dus ook hier ’n direkte verband tussen die doop en die verbond met Abraham.


leefuitjoudoopMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...