Leef uit jou doop: 7.3 Waarom soveel probleme met die kinderdoop?

image_pdfimage_print

Leef uit jou doop: 7.3 Waarom soveel probleme met die kinderdoop? – Adrio König

7.3 Waarom soveel probleme met die kinderdoop?

Dit is ’n ope geheim dat daar baie lidmate is wat probleme met die kinderdoop ontwikkel. Waarom? ’n Mens kan aan minstens drie oorsake dink:

♦   Die kinderdoop is nie so voor die handliggend in die Bybel nie.

♦   Ons fundamentalistiese Skrifbeskouing.

♦   Die assosiasie tussen kinderdoop en geestelike doodsheid.

 

Dit is nie so eenvoudig om aan te toon dat die kinderdoop voortvloei uit die betekenis van die doop in die Nuwe Testament nie. Dit blyk alreeds uit die verskil in die lengte van hoofstukke 4 en 5! Maar dis natuurlik nie net met die kinderdoop die geval nie. As hierdie boek oor Sabbat-Sondag gegaan het, sou daar ook net ’n kort hoofstuk gewees het oor die standpunt dat ons nog steeds die Sabbat op Saterdag moet vier. Dit sou net ’n aantal verwysings gewees het na die besondere belang van die vierde gebod in die Ou Testament, en die strawwe vir mense wat die sabbatswette verbreek. Maar om aan te toon dat die situasie in die Nuwe Testament verander het, sou ’n veel langer hoofstuk gevra het.

 

Daar is ook ’n aantal ander geloofsake met dieselfde probleem: Vroue in kerklike ampte (predikant, ouderling), vroue wat nagmaal gebruik, die geloof dat God Drieenig is. Nie een van hierdie dinge kan sommerso met ’n teks of twee opgelos word nie. Daar is heelwat insig en beredenering nodig. En tog bely die Pinksterkerke al hierdie dinge saam met ons. Dit beteken tog dat ook hulle volle ruimte daaraan gee dat sekere geloofsake nie so uitdruklik in die Bybel staan nie, en dat ons soms met afleidings uit ander gegewens moet werk.

 

Aan die ander kant moet ’n mens nou ook nie maak of jy jou kop moet breek om die kinderdoop te verstaan nie. Die enkele woord “Abraham” kan al genoeg wees as jy verstaan wie Abraham was en watter betekenis hy in die Nuwe Testament kry. Maar selfs daarvoor is heelwat verduideliking nodig. En die klipharde waarheid is dat ons in die historiese kerke nie ons lidmate geleer het om self die evangelie te verstaan en te verduidelik nie. Hulle is oor dekades (eeue?) heen gewoond gemaak daaraan dat “dominee” weet. Gelowiges in ander groepe, miskien juis in Pinkster, is beter in staat om hulle geloof te verantwoord. Dit beteken dat ons lidmate maklik oortuig word van ander sienings.

 

Die tweede saak hang direk hiermee saam. Wat die NG Kerk se predikante ook al glo oor die Bybel, ons lidmate het ’n fundamentalistiese Skrifbeskouing en Skrifgebruik. Dit beteken dat hulle neig om in ’n “een tot een”-verhouding met die Bybel te werk. Iets moet direk in die Bybel staan. En as iets in die Bybel staan, word dit direk op vandag oorgedra. As daar in die Bybel staan Israel moes ’n tiende gee, moet ons ’n tiende gee. As daar staan ’n vrou mag nie bid sonder ’n hoofbedekking nie, moet vroue hoede opsit kerk toe (altans so was dit nog 20 jaar gelede). En as vroue verbied word om versiering te gebruik, is dit uit.

 

Dis terloops interessant hoe konserwatief die Pinksterkerke drie dekades gelede nog oor vroue was. Grimering en ander vroue-versiering was eenvoudig uit, dit was ’n teken dat so ’n persoon “wêrelds” is, teruggeval. En hoe dramaties het dit verander! Sou dit verander het onder invloed van die Charismatiese beweging wat nie uit die Pinksterkerke gegroei het nie, maar uit die historiese kerke soos die NG Kerk? Hierdie kerke het nie dieselfde konserwatisme oor vroue gehad nie, en die lidmate wat uit hierdie historiese kerke oor is na die Charismatiese beweging, het eenvoudig met hulle leefstyl voortgegaan. Vroeër kon ’n mens Pinkstervroue uitken, maar deesdae is daar nie meer ’n merkbare verskil tussen die kerke nie. Vir mense wat die Bybel op ’n een-tot-een-beginsel verstaan, is dit moeilik om by die kinderdoop te bly as iemand sê: “Wys my net een keer die woord ‘kinderdoop’ in die Bybel.”

 

Die derde rede vir die probleme met die kinderdoop is die assosiasie tussen die historiese kerke en geestelike doodsheid. Of dit noodwendig waar is of nie, die oortuiging  bestaan by baie Christene dat die historiese kerke onentoesiasties, formeel en dood is. Dit is dan ook goed moontlik dat sommige lidmate van hierdie kerke nie in die eerste plek met die doop probleme kry nie, maar eerder met die spiritualiteit in die historiese kerke. As hulle dan ’n belewing van die entoesiasme van die Pinksterkerke en die Baptiste kry, is die verwerping van die kinderdoop maar net deel van ’n groter pakket.

 

Hierdie siening word skynbaar gesteun deur die volgende feite. Die vernuwing in die NG Kerk het sedert die tagtigerjare van die vorige eeu goed op dreef gekom. Dit as ’n herlewing van die ou Evangeliese spiritualiteit met ’n paar kleiner Charismatiese elemente. Dit het ’n entoesiasme in gemeentes ingedra wat aansteeklik was en mense gelok het. Dit het gedurende die laaste twee dekades al sterker geword. Terselfdertyd het die afname in lidmategetalle van die NG Kerk drasties verminder in vergelyking met die jare sewentig en tagtig. Skynbaar is meer lidmate nou tuis in die warmer, meer informele styl van die vernuwing in die NG Kerk. Beteken dit ook dat minder van hierdie lidmate probleme kry met die kinderdoop omdat hulle gelukkiger is in die gemeente? Of kry hulle dalk juis nou meer probleme? Ek wens ek het goeie inligting hieroor.

 

leefuitjoudoopMens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...