Ly vir die evangelie

image_pdfimage_print

 

Every Christian should be both conservative and radical; conservative in preserving the faith and radical in applying it. —John Stott

 

Ly vir die evangelie

Om vir Christus te ly is ‘n belangrike tema in 2 Timoteus. In 2 Timoteus 1:8b – 12a antwoord Paulus drie belangrike vrae oor lyding.

 

  • Hoe ly ons? (vers 8c)

Dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee.

Ons is maar swak, maar deur God se krag kan ons swaarkry hanteer. Jesus voorsien voldoende krag vir sy volgelinge sodat hulle teenstand, swakheid en vervolging kan hanteer. Jesus is voldoende. As jy vir die evangelie swaarkry, onthou dat jy deel in Christus se lyding en sy spesiale krag geniet. Sonder My kan julle niks doen nie (Johannes 15:5).

 

  • Hoekom ly ons? (vers 9 – 12a)

In hierdie verse beskryf Paulus kortliks die evangelie. Daarna sê hy: Om hierdie rede ly ek ook hierdie dinge.  Paulus was bereid om sy lewe op te offer, want hy het geglo dat die evangelie dit werd was. Jy kan lyding verduur as jy sien wat Paulus gesien het. Wat het Paulus gesien toe hy oor die evangelie nagedink het? In hierdie verse beklemtoon hy  drie aspekte:

  • Die grootheid van God in verlossing. Hy het ons gered en ons geroep … Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. God verlos ons
  • Die genade van God in ons verlossing. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Die bron van ons verlossing is nie meriete nie, maar God se onverdiende guns. God skuld ons niks nie. Ons enigste hoop op verlossing is sy genade. Ons kan dit nie doen nie; Jesus Christus het dit klaar vir ons gedoen.
  • Die gronde vir ons verlossing. Die basis van ons verlossing is die persoon en werk van Christus. Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus. Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. Toe hulle vir Bonhoeffer kom haal het om hom na sy teregstelling te neem, sê hy vir sy vriend: “Dit is die einde. Vir my die begin van die lewe.”

 

  • Wanneer moet ons lyding verwag (1 Timoteus 1:10c- 12a)

Ons kan lyding verwag as ons die evangelie verkondig. Verlossing berus volledig op genade, maar dit word ondervind deur die verkondiging van die evangelie. Paulus het die evangelie verkondig deur sy aanstelling as prediker en apostel en leraar. As prediker verkondig hy die evangelie; as apostel is hy met die evangelie gestuur; as leraar verduidelik hy die evangelie. Dit word ook van ons verwag.

 

As ons die evangelie verkondig, moet ons teenstand verwag. Ons moenie lyding soek nie, maar ons moenie verbaas wees as dit kom nie. Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Paulus ly, want hy het openlik gepraat en hy praat openlik, want hy het geglo dat die evangelie dit werd was.

 

 

image_pdfimage_print