Metodiste of Presbiteriane?

image_pdfimage_print

Metodiste of Presbiteriane? – Kobus Kok

Jeanette vra:

Wat is die verskil tussen die Nederduits-Hervormde kerke en die Metodiste kerk? Ek wil graag my kinders na n Engelse kerk neem oor hul akademiese taal engels is. Watter Engelse kerk stem ooreen met die NG en Hervormde kerke? Help asb?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Metodiste of Presbiteriane?

Beide die Metodiste en die Presbiteriane het ʼn noue verwantskap met die NG Kerk in die sin dat beide binne die Gereformeerde Protestantisme ontstaan het en Calvinisties van aard is. Beide het ook ʼn lang geskiedenis in Suid Afrika.

Die Presbiteriaanse kerk se naam kom van die Griekse woord “presbiteros” wat ouderling beteken. Die kerk se wortels gaan terug na Engeland en Skotland, en by name John Knox wat saam met Johannes Calvyn in Geneva, Switserland studeer het. Presbiteriane fokus veral op gasvyheid, omgee, konstante vernuwing en sosiale geregtigheid. Die Metodisme gaan weer terug na John Wesley en sy broer Charles Wesley en hulle vriend George Whitefield. Die kerk het ontstaan as ʼn herlewingsbeweging in die 18de eeu binne die Church of England. Wesley (1703-1791) en sy jonger broer Charles (1707-1788) het aan Oxford studeer en daar die sogenaamde “Holy Club” begin. Die klub het weekliks vergader en gefokus op die leef van ʼn heilige lewe. Die mede-studente het spottenderwys na hulle verwys as die groepie wat te veel “metodies” lewe. Wesley het die grappie omgedraai en dit die naam van sy beweging gemaak.  Na Wesley se dood het die beweging weggebreek van die Church of England en ʼn eie denominasie gevorm. Hierdie denominasie het ʼn baie sterk fokus op die missionêre geplaas en vinnig oor Engeland en Amerika versprei. Vandag is daar ongeveer 80 miljoen lidmate in die kerk. Die Metodisme het steeds ʼn sterk missionêre karakter en is bekend daarvoor dat hulle arm of hulpelose mense help. Hulle fokus dus veral op die bou van liefdevolle verhoudings met mense en druk dit veral uit in die vorm van omgee, sosiale diensbaarheid en inklusiwiteit.

In die NG Kerk se geskiedenis het die Skotse Presbiteriaanse invloed ʼn belangrike rol gespeel. In 1820 het ʼn groot hoeveelheid Britse setlaars die land ingestroom. Lord Charles Somerset, met sy Angliseringsbeleid, sou teen 1822 Engels die amptelike taal van die land maak. In die proses is al hoe meer Skotse predikante ingevoer. Die rede daarvoor was onder meer dat die Skotse Presbiteriane sterk ooreenkomste het met die Calvinisme, wat natuurlik eie is aan die NG Kerk. Andrew Murray snr was byvoorbeeld iemand wat uit hierdie groep gekom het, en uiteindelik het hy en sy familie ʼn reuse geskiedkundige invloed op die herlewing van die 1800’s in die NG Kerk gehad. Toe die Presbiteriaanse Moederkerk in Kaapstad gebou is, het baie geld uit die NG Kerk se fondsinsamelings gekom, wat net wys hoe mooi hulle mekaar ondersteun het. Toe die hoeksteen op 9 November 1827 gelê is, het die lidmate van beide kerke eers saam nagmaal gehou.

Die Metodiste Kerk het ook invloed in die NG Kerk uitgehad veral in die negentiende en twintigste eeue. Die Metodistiese invloed het aangesluit by die Nederlandse Nadere Reformasie (gereformeerde piëtisme) wat gelei het tot ‘n evangeliese stroom in die NG Kerk. Die Metodiste is bekend vir hulle praktiese realisme en hulle besondere vroomheid. Die kombinasie van die twee eienskappe het neerslag in die NG Kerk gevind en die dampkring geskep waarbinne baie bekende NG predikante ontwikkel het, soos Ben Marais, David Bosch, Beyers Naude en Willie Jonker.

U kan dus gerus by enige van hierdie kerke aansluit. 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 

image_pdfimage_print