My identiteit (4)

image_pdfimage_print

 

A believer, after all, is someone in love – Soren Kierkegaard

 

My identiteit (4)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Hoekom is hierdie nuwe identiteit deur geloof in Christus beter as die wêreldse identiteit? Alle mense is na God se beeld gemaak om sy eie eienskappe en karakter te weerspieël. Maar nog meer: ons waarde vermeerder verder as gevolg van ons aanneming. Deur geloof  in Christus word ons God se geliefde kinders. God is nou ons volmaakte Vader; Hy gee vir ons die sekuriteit wat net ‘n ouer-kind verhouding kan bied. Hy sal ons nooit verlaat nie al sondig ons. Natuurlik het God standaarde – Hy is volmaak regverdig en heilig. Jesus het hierdie standaarde vir ons vervul. Jesus het ons straf gedra. Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1).

 

Die Christen se ware self is die self wat Hy voor God is. God sê vir Abram: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees (Genesis 17:1 – OAV). Om voor iemand te wandel behels beide aanspreeklikheid (die een met wie jy loop kan jou sien) en sekuriteit – jy sal nooit alleen wees as daar probleme opduik nie. Om met God te wandel beteken dat net sy oë en siening van belang is. Om met God te wandel, wat ons altyd sien en liefhet, bring ‘n nuwe integriteit na vore.

 

Wie is ek? Ek is wie ek voor God is. Daar is niks kosbaarder as hierdie nuwe identiteit nie. Wat help dit die mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe (Markus 8:36 – 37). Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van my verloor, sal dit vind (Matteus 10:39). Die evangelie bied aan ons die versekering van ons eie waarde, maar terselfdertyd vereis dit nederige diens en die verlies van outonome onafhanklikheid.

 

 

 

 

image_pdfimage_print