‘n Profeet soos Moses (4)

image_pdfimage_print

 

The Bible simultaneously pictures God as utterly sovereign, and as a prayer-hearing and prayer-answering God. —D.A. Carson

 

‘n Profeet soos Moses (4)

Ek sal ‘n profeet vir julle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18).

Jesus het herhaaldelik voorspel dat Hy deur die Romeinse en Joodse leiers doodgemaak sou word (Matteus 16:4; 17;12 en 23; 20:18 – 17; 26:2). Hy het ook besef dat Hy deur kruisiging sou sterwe. Hoekom moes Hy sterwe? Om sy lewe te gee as losprys vir baie mense (Matteus 20:28) en vir die vergewing van sondes (Matteus 26:28).

 

Die grootste teken van alles was dat Hy op die derde dag uit die dood opgewek is. Jesus het dit reeds voor sy dood belowe: Hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word (Matteus 17:23). Geen profeet het ooit so ‘n belofte oor homself gemaak nie; geen profeet het nog ooit uit die graf opgestaan nie. Jesus Christus het dit voorspel en gedoen. Daar is geen twyfel dat Jesus Christus die profeet is wat Moses voorspel het nie.

 

Petrus was ‘n ooggetuie van hierdie gebeure. Op ‘n stadium het hy hom by Jesus se vyande gevoeg en Hom selfs verloën. Na Jesus se opstanding besef Petrus dat die dood nie meer iets is wat gevrees moet word nie. Met die krag van God se Gees staan hy voor hierdie selfde vyande op en hou ‘n toespraak in die Pilaargang van Salomo (Handelinge 3:17 – 24). In hierdie toespraak haal hy Deuteronomium 18 aan. Aangesien Jesus Christus ‘n profeet soos Moses is, is Hy nou die nuwe Middelaar vir sy mense. ( Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus – 1 Timoteus 2:5).

 

Wat sal gebeur as ons nie luister nie? Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word (Handelinge 3:23). So ‘n persoon is nie meer deel van God en sy mense nie. Ons lewens hang daarvan af of ons versigtig na hierdie Profeet luister. God se teenwoordigheid is vir ons te groot – ons kan Hom nie direk sien of hoor nie. Daarom het ons ‘n Middelaar nodig.

 

Vir die Jode by Sinai gee God ‘n middelaar – Moses – maar Hy belowe dat ‘n ander Middelaar sou kom. Die Nuwe Testament wys vir ons dat hierdie nuwe Middelaar Jesus Christus is. Daarom moet ons sy boodskap met respek hanteer as ons ons lewe met Hom en sy mense wil deel.

 

 

image_pdfimage_print