NEHEMIA – VERNUWING (2).

image_pdfimage_print

Complacency is a deadly foe of all spiritual growth. —A.W. Tozer

 

Nehemia – Vernuwing (2).

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #12: Vernuwing … verfris jou leierskap

 

Esra

In Hoofstuk 8 ontmoet ons nou vir Esra. Die mense van Jerusalem het hard gewerk – hulle is fisies en emosioneel uitgeput. Hulle het vernuwing nodig.

Nehemia was die goewerneur en in baie opsigte die volk se geestelike leier. Hier sien ons nog ‘n dimensie van sy leierskap: hy is gewillig om sy leierskapsrol met ander te deel. Vantevore het hy Ganani en Gananja betrek. Nou laat hy toe dat Esra die leiding neem.

 

Hoe begin geestelike vernuwing vir die moeë muurbouers? Dit was ‘n week na die muur voltooi was; dit was die begin van die sewende maand; dit was die tyd vir die viering van die jaarlikse huttefees – let op God se tydsberekening. Die volk kom bymekaar op die plein voor die Waterpoort (8:2). In die volgende verse lees ons ‘n beskrywing van ‘n herlewing in aksie. Hier is die bewyse dat ‘n geestelike vernuwing op pad is:

  • Die volk stel belang in God se woord – hulle vra vir Esra om die wetboek van Moses … te bring (8:2).
  • Daar was ‘n begaafde leermeester. Esra was aktief as leermeester betrokke vir die afgelope 15 jaar. Daarom vra die volk vir hom om die wetboek te bring.
  • Daar was ‘n begeerte om God se woord te hoor en te verstaan. Dertien ander mans het Esra bygestaan om die waarheid vir die mense te interpreteer. Hulle het ook vir die volk gewys hoe dit op hulle lewens van toepassing is (8:5 – 9)
  • Daar was eerbied vir God se woord: Toe kniel hulle en buig diep voor die Here … die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.” (8:6 – 7)
  • Die mense reageer op God se woord. Toe hulle God se woord hoor en verstaan, huil hulle – hulle het berou oor hulle sonde (8:10).
  • Hulle besluit om God se woord te gehoorsaam. In die wet lees hulle van die ontstaan van die huttefees. Hulle besluit daar en dan om die huttefees te vier (8:15 – 17).
  • Hierdie gees van vernuwing was nie net ‘n verbygaande emosie nie. Die hele maand deur duur dit voort. Die mense bevestig weer hulle gehoorsaamheid aan God en sy wette (Nehemia 9).

 

As ons vernuwing wil ondervind, moet ons God se woord ontvang en toelaat dat die Heilige Gees ons energie gee. God se woord is die middelpunt van vernuwing. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Romeine 12:2).

 

Om die muur te herbou was ‘n noodsaaklike doelwit, maar slegs oor die korttermyn. Jy moet nooit die hele beeld uit die oog verloor nie. Die muur gee vir die mense ‘n veilige omgewing vir herlewing en vernuwing. Om te verseker dat dit kon gebeur, staan Nehemia onselfsugtig terug – hy laat Esra toe om hierdie taak te doen, want hy was beter daartoe in staat.

 

Vernuwing is ‘n voortgaande proses. Hoekom? Leierskap en die lewe dreineer ‘n mens. Jy moet verander; jy moet aanpas; jy moet jouself fisies, verstandelik en veral geestelik vernuwe om toegerus te wees vir die lewe. Doeltreffende leiers laat toe dat God hulle vorm. Hulle haak nie vas in een metode nie.

 

Volgende keer kyk ons na die dertiende kenmerk van ‘n leier – lojaliteit.

 

image_pdfimage_print

You may also like...