Ons en die kultuur om ons

image_pdfimage_print

 

It is quite clear that between love and understanding there is a very close link. He who loves understands and he who understands loves. One who feels understood feels loved and one who loves feels sure of being understood. – Paul Tournier

 

Ons en die kultuur om ons

Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, omdat hulle bang was vir die Jode (Johannes 7:13)

Dit is nie altyd maklik om openlik die evangelie te verkondig nie. Ons lees in Handelinge 18:9: Een nag het die Here in ‘n gesig vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie.” In ons huidige kultuur is dit nog meer intimiderend om op te staan en die Bybelse waarhede te verkondig – dit word as polities verkeerd gesien. Om dit te doen, moet gelowiges ‘n deeglike verstaan van God se woord hê.

 

Almal kyk na die wêreld deur ‘n besondere lens. Ons verwys na hierdie lens as iemand se wêreldsiening. In ons huidige kultuur het meeste mense ‘n nie-Christelike wêreldsiening. Ons moet mense help om die wêreld deur ‘n Bybelse lens en wêreldsiening te sien.

 

Rick Warren identifiseer enkele wêreldsienings wat ons vandag algemeen teenkom.

  1. Materialisme

Volgens hierdie siening is al wat saakmaak die materiële wêreld. Wat belangrik is, is geld en die bymekaarmaak van besittings. Die ekonomie is koning: dit bepaal hoe ons optree en dink. Jesus waarsku hierteen: Want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie (Lukas 12:15).

 

  1. Genotsug

Hierdie is die filosofie dat alles wat goed voel, goed moet wees. Hier is plesier ons god. Die doel van die lewe is om gelukkig en gemaklik te wees. Geluk kan nooit die primêre doel in jou lewe wees nie. Wie plesier voorop stel, word arm (Spreuke 21:17)

 

  1. Individualisme

“Ek is eerste.” Ons doen wat ons wil, wanneer ons wil. Niemand kan vir my voorskryf wat om te doen nie. God het ons nie gemaak om vir onsself te leef nie. Ons is gemaak vir iets groter as onsself. Individualisme vernietig huwelike en verhoudings. Julle moenie net elkeen aan julle eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was (Filippense 2:4 – 5).

 

  1. Kollektivisme

[‘n Leer wat die staat verantwoordelik hou vir die sosiale en ekonomiese welsyn van sy burgers – HAT] Die regering is god en moet alles beheer. Daar is niks verkeerd met regering nie; dit is ‘n goeie ding wat deur God ingestel is. Maar die regering is nie God nie. Die regering is nie jou verlosser nie. Die Bybel sê dat die regering drie doelwitte het: om vryheid te beskerm, om geregtigheid te verseker en om die vrede te behou. Jesus verduidelik die rol van die regering in Matteus 22:21: Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort. Ek moet aan die regering respek bewys, my belasting betaal en die wette  van die land gehoorsaam. Ons het nie meer ‘n keiser nie. Die kiesers is die keiser in ‘n demokrasie. Die mag berus by diegene wat mense verkies tot sekere poste. Ons verkondig die evangelie aan mense met dubbele burgerskap – hulle is burgers van Suid-Afrika en van die hemel. My grootste lojaliteit is aan God. ‘n Bybelse wêreldsiening verwerp enige ooruiging dat God en land ewe belangrik is.

 

Ons kultuur is besig om te verkrummel – krisisse in ons skole, korrupsie, verbrokkelde families, ens. Wat is die Bybelse wêreldsiening? Ons kry dit in die Bybel. Daar is baie dinge in die Bybel wat niemand ontstel nie. Die Bybel sê dat ons moet omsien na die armes, die siekes moet versorg, die waarheid moet vertel, ander respekteer, almal liefhê, die omgewing versorg, ens. Hiermee het niemand probleme nie. Daar is drie aspekte van die Christelike wêreldsiening wat die wêreld haat.

  1. Die lewe is heilig

Dit sê vir ons dat God ‘n doel met elke ongebore baba het. God het ons lewens nog voor ons geboorte beplan. Ons is verantwoordelik om te praat vir diegene wat nie vir hulleself kan praat nie – ook die ongebore babas. Maar ook in Suid-Afrika is aborsies wettig en ons hoor selde dat gelowiges daarteen beswaar maak.

 

  1. Die heiligheid van seks

Die heiligheid van seks leer vir ons dat seks net vir die huwelik bedoel is. Seks was God se idee; dit bind man en vrou aanmekaar. Seks is nie sleg of vuil nie. Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom (Hebreërs 13:4). God se opdragte het nie verander nie. Voor-huwelikse seks is vir God onaanvaarbaar. Owerspel is vir God onaanvaarbaar. Jy kan vergifnis in ‘n verhouding met Jeus Christus kry. In ‘n liefdevolle geloofsgemeenskap wat mense aanvaar, kan jy genesing kry.

 

  1. Die heiligheid van die huwelik

God se oorspronklike ontwerp was die vereniging van een man en een vrou. Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê:Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie (Matteus 19:4 – 6).

 

Ons moet God se waarhede verkondig al is dit ongewild. Ons moet God se goedkeuring eerder as dié van mense soek. Die beloning duur vir ewig. Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in (Hebreërs 10:35).

 

image_pdfimage_print