Ons soek ‘n verduideliking; God gee ‘n openbaring

image_pdfimage_print

 

The ungodly are not half so restrained in their blasphemy as we are in our praise. —C.H. Spurgeon

 

Ons soek ‘n verduideliking; God gee ‘n openbaring

Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet (Deuteronomium 29:29). Hierdie was Calvyn se gunsteling Bybelvers. Maar hierdie waarheid pla baie mense, want dit beteken dat daar waarhede is wat nie aan ons geopenbaar is nie. Baie mense sukkel om ‘n God wat hulle nie ten volle kan verduidelik nie, te aanvaar. As dit by God kom, wil ons graag ‘n verduideliking hê.

 

Dit is interessant hoe dikwels God vir ons ‘n openbaring gee as ons ‘n verduideliking eis. J. D. Greear verwys na die geboorteverhaal van Simson. ‘n Engel van die Here verskyn aan Simson se ouers en sê dat die vrou swanger sal word. Manoag (die vader) vra vir die Engel: Wanneer u belofte waar word, hoe moet die kind hom dan gedra en wat moet hy doen? Later vra Manoag vir die Engel: Wat is u naam? Wanneer u belofte waar word, wil ons aan u eer betoon.

 

Kyk na die reaksie wat Manoag kry: Waarom vra jy my Naam? Dit is te wonderlik om uit te spreek. Skielik besef Manoag en sy vrou dat hulle nie met ‘n engel te doen het nie. Manoag wil besonderhede hê van wat om te doen. In plaas daarvan sê God vir hom: “Dit is wie Ek is.” Gelowiges moet aan sulke reaksies gewoond word. “God, hoekom het dit gebeur?” “God wat gaan volgende gebeur?” Dikwels antwoord God nie ons vrae nie, maar wys vir ons wie Hy is.

 

As jy antwoorde op elke “hoekom” en “wat” vraag verwag voordat jy glo, sal daar altyd nog een vraag wees. As ek daarop aandring dat God my vrae beantwoord sê Hy vir my: “Sien jy my Naam? Sien jy dat dit wonderlik is? Vertrou jy my genoeg om My te volg?” In plaas van antwoorde te soek, moet ons oor die wonderlike Naam van God nadink.

 

Ons dien ‘n God wie se mag ons nie kan peil nie. Dink maar net aan alles wat Hy gemaak het. Kan ek nou so ‘n God bevraagteken? Ek dink aan sy deernis vir my wat Hy aan die kruis bewys het. Hy het my lief ten spyte daarvan dat ek teen Hom in opstand gekom het. “To create the heavens and the earth costs Him no labour, no anguish; to take away the sin of the world costs Him His own life-blood.” (Lesslie Newbigin).

 

Ons kan God vertrou met die vrae waarvoor ons nie antwoorde het nie; met ‘n toekoms wat vir ons onseker lyk. Ons soek ‘n verduideliking; God gee aan ons ‘n openbaring. Ons wil antwoorde hê; God gee aan ons sy teenwoordigheid. Ons soek redes; God gee aan ons die onbeperkte liefde van Christus. Elke keer gee Hy meer as dit waarvoor ons gevra het.

 

 

 

 

 

 

 

image_pdfimage_print