Paulus in Atene

image_pdfimage_print

“Nothing puts life into men like a dying Savior.” C. H. Spurgeon

Paulus in Atene

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Paulus kom in Atene aan (Handelinge 17:16 – 34). Hy was baie ontsteld toe hy al die afgodsbeelde sien – al die tempels en vals godsdienste. Wat doen hy? Hy redeneer elke dag met diegene wat toevallig op die markplein was. Dit was duidelik vir Paulus: hierdie mense ken nie die ware God nie. Hy weet ook dat sy opdrag van Jesus was om die evangelie aan die heidene te verkondig.

 

Atene het sy eie unieke geskiedenis. Dit was die middelpunt van die Griekse filosofie – Plato, Aristoteles en baie ander. Atene was beskou as ‘n sentrum  van geleerdheid en wysheid. Maar Paulus was bekend met die filosofiese en godsdienstige idees van die Ateners. Toe Paulus sy godsdiens moes verduidelik, bring hy sy kennis van die Skrif, die Joodse tradisies en teologie bymekaar met die idees van die afgodedienaars en filosowe. Hy gebruik hulle taal en haal hulle digters aan in die proses om God se optrede in en vir die wêreld te verkondig.

Hy benader sy gehoor versigtig. Hy begin deur te sê dat hy sien dat hulle baie godsdienstig is. Daarna vertel hy hulle van die een ware God wat sy kommer oor die mensdom bewys het deur Jesus Christus uit die dood uit op te wek. Toe hulle hoor van die opstanding uit die dood, lag party Ateners vir hom, ander wil meer hiervan hoor en ‘n paar mense het egter gelowig geword.

In Atene was daar ‘n rotsagtige koppie wat as dieAreopagus bekend gestaan het. Dit is vernoem na Ares, die Griekse god van oorlog. (Die Latynse ekwivalent van Ares was Mars.) Vir die Ateners was die Areopagus die simbool van geregtigheid.

Wat wel waar is, is dat Paulus in staat was om die evangelie vir Jode en heidene in konteks te plaas (1 Korintiërs 9:19 – 27). Volgens N. T. Wright het Paulus in drie wêrelde geleef:

  • Die Judaïsme van die Tweede Tempel.
  • Hellenisme – as gevolg van Aleksander die Grote word die Griekse taal en kultuur en filosofiese siening deur die ganse Ryk uitgedra.
  • Die Romeinse Ryk waarvan Paulus ‘n burger was en waar keiseraanbidding dié kultus was.

Ons kan sê dat Paulus se Christelike geloof in Judaïsme gewortel was, in ‘n Hellenistiese wêreld uitgeleef is en dat hy ‘n teen-aanspraak teen die keiser se aanspraak op wêreldoorheersing gemaak het.

Paulus was ‘n kosmopolitaanse man wat by sy gehore kon aanpas. Hoe lyk hierdie Atene van Paulus se tyd?

image_pdfimage_print